Die halfvol glas

Gepubliseer: 6 Junie 2022

821

Beste Neef

April was besaai met vakansiedae wat gesorg het vir kor­ter as gewone weke. April is ’n duur maand, want as die werk oor ’n vakansiedag loop, is dit double pay en basta. Nou laat weet buurman dat CONTRALESA – dis nou die klompie tradisionele leiers – vra vir nog ’n vakansiedag ter ere van die voorvaders. Ou Neef, waar ou Jan by die feesvierings gaan inpas, is effe onseker. Ek ry hoeka nou die dag by ’n kuierplek verby met die naam, Jan se skuld. Hoe meer dae, hoe meer dinge.

So verneem ek van die nuusberig van ’n hogere se feesrede dat die slaggate ook Jan se skuld is. Indien hy nie met die Drommedaris aan die Kaap geland het nie, sou daar immers vandag nie teerpaaie met slaggate gewees het nie.

Ou Neef, dit bly tog interessant hoe mense deur dieselfde glas na die lewe kyk – óf halfvol, óf halfleeg. So ervaar ek met ’n besoek in die Bosveld hoe ’n familiebesigheid oor die toekoms dink – met nuwe en groot beleggings in mense en infrastruktuur, nie net vir nou nie, maar ook vir die volgende geslag. Die glas deur daardie visie is halfvol.

In dieselfde week verneem ek weer van ’n familie wat alles in die Suidland te gelde gemaak het en na Europa geëmigreer het. Vir daardie familie was die Suidland se glas weer halfleeg.

Dit bly dan elke dag se uitdaging hoe om na die glas te kyk. Is daar geleenthede wat ontgin kan word of is daar bedreigings waarvoor beplan moet word? ’n Helder volmaakte visie met alle kennis van goed of kwaad sal ons op die ondermaanse nooit beskore wees nie. As mens sal daar altyd onsekerheid wees oor wat die regte ding is om te doen en ook wanneer om dit te doen. Party besluite kan net nooit weer omgekeer word nie. As die tandepasta uit die buis is, kry jy dit nie weer terug nie.

Ou Neef, die blink kant van die halfvol glas was dat ons weer NAMPO kon vier. Na twee jaar se ge-COVID, was boere lankal uitgehonger om weer trekkerwiele te skop en nuwe en ander goeters te sien waarmee lande gekrap kan word. En daar is altyd iets vir ma en die kinders ook.

By die hekke moes jy net jou doopseël en COVID-sertifikaat wys, dan was jy in. Ou Neef, dit bly besonders dat gewone mense buitengewone dinge kan laat gebeur. Die Graan SA-span het die NAMPO-wa deur die drif getrek, ten spyte van al die onsekerhede vooraf oor COVID, of selfs die koue reënweer op die laaste dag. Dit gaan op die ou end nie net oor NAMPO nie, maar oor die mense wat NAMPO moontlik maak. Dit sluit iedere besoeker, uitstaller of spanlid in wat van ver moes reis om die uitsonderlike geleentheid by te woon.

En met NAMPO verby, is dit nou jagtyd. Vir dié wat dakvleis loop soek, hou maar die geweer se kamer leeg of die slot oop tot voor die skoot klap. Veiligheid eerste, manne! En as jy aanlê, skiet liewer amper mis as amper raak. Ek lees die ander dag op ’n Vleisboek-groep van ’n man wat ’n hans-grootgemaakte gemsbok wil verkoop. Vir raad vra hy toe op die groep: “Wat kan ’n mens vir ’n bottelgrootgemaakte gemsbok vra?” Een stukkie gratis advies wat op die groep gepos is, was: “Vra of blou camo regtig werk!”

Mooi ry!

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.