June 2017

JOHAN SMIT, besturende redakteur: SA Graan/Grain. Foto’s: VALERIE CILLIERS, ESTIE DE VILLIERS, LOUISE KUNZ, CHRIS MILNE, RUTH SCHULTZ, ADRI THERON en JADINE VAN HEERDEN, SA Graan/Grain medewerkers

Die huidige uitstekende seisoen vir somersaaigewasse het bygedra tot ‘n nuwe rekordgetal van 78 648 besoekers tydens Graan SA se afgelope NAMPO Oesdag. Besoekers se positiwiteit was inspirerend en heelwat van die meer as 700 uitstallers rapporteer dat hulle goeie besigheid gedoen het.

“Laasjaar hierdie tyd het produsente midde-in die ergste droogte in dekades mekaar tydens die NAMPO Oesdag moed ingepraat en planne uitgeruil. Hierdie jaar deel ons in mekaar se vreugde met die belowende oes wat op hande is,” het mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA) gesê.

“Die publiek geniet die hartlike atmosfeer en hulle is honger vir inligting oor hoe die landboubedryf die toekoms help ontsluit. Lede van ‘n Europese handelsending na die Oesdag het selfs verwys na die familiegees en geborgenheid wat hulle tussen Oesdaggangers ervaar het.”

NAMPO se hoofdoel is om landbouers en verskaffers by mekaar uit te bring, maar die belangrikheid daarvan om te netwerk, vennootskappe te sluit en betrekkinge te vorm is ‘n sleutelfaktor waarsonder die landboubedryf nie kan oorleef nie. Verskeie besoekersgroepe uit Afrika, buurlande asook plaaslike politici is tydens die Oesdag deur Graan SA ontvang en te woord gestaan. Buitelandse besoekers wat op die uitkyk is vir plaaslike vennootskappe en verspreidingsgeleenthede is ook ‘n algemene gesig by die Oesdag.

Die doelwit om verstedelikte verbruikers nader aan landbou te bring, is aktief bevorder toe aanbieders van die besigheidskanale 702 en Power FM vanaf die Oesdag uitgesaai het. Dié uitsaaiers het hul by ander gewaardeerde radiostasies en gedrukte media, wat al behoorlik in die landboufamilie ingeburger is, aangesluit. Vanjaar se Nasie in Gesprek-paneelbesprekings het tot ‘n belangrike slotsom gekom deur die titelaktes wat steeds in die hande van die staat is as knelpunt vir vordering met grondhervorming uit te wys.

Volgens De Villiers het die nuwe Oesdagbestuurspan goed gevaar en selfs ‘n paar nuwe dinge aangepak. Hieronder tel die volgende:

Vroueprogram
Na ‘n afwesigheid van twee jaar, was die vroueprogram met mening terug by die Oesdag. Die nuwe ligging en formaat het vir ʼn uitstekende opkoms gesorg.

4×4-kleinboet staan sy man
Bywoning van vertonings by die nuwe hindernisbaan vir vierwielmotorfietse, motorfietse en side-by-side’s het van ‘n stadige begin op die eerste dag tot ‘n stewige bywoning vir die res van die week toegeneem.

Internasionale Jong Afslaerskompetisie
Die gewilde Jong Afslaerskompetisie het oor drie dae gestrek. Afslaers uit die VSA, Argentinië, Namibië en Suid-Afrika het mekaar die stryd aangesê. Graan SA wens graag vir mnr Steven Mathews, wat Suid-Afrika se naam hoog gehou het deur as kompetisiewenner uit die stryd te tree, geluk. ‘n Korporatiewe uitdaging het vir vermaak gesorg toe uitstallers mekaar se afslaersvernuf op die proef gestel het.

Bulle/ramme en vroulike diere in aanvraag
Volgens die veegenootskappe wat uitgestal het, het die drastiese afname in die pryse van eksotiese wild en herstel ná die droogte, gesorg vir ‘n stewige vraag na bulle/ramme en vroulike diere.

Graan SA Belewenissentrum
Lede van Graan SA kon in die nuwe Belewenissentrum ‘n oorsig kry van die organisasie se dienste en aktiwiteite. Die NAMPOhandelsmerkprodukte wat te koop aangebied is, was ‘n treffer en die eksklusiewe parkering en ledelokaal het weer eens ‘n positiewe ervaring vir opbetaalde lede van die organisasie gebied.

Aksie in die vee-arena
Die jeugskou, beesparade en perdevertonings het heelwat voete daagliks na die vee-arena getrek.

Aanloopbaan
Gedurende die vier dae het 343 vliegtuie en 82 helikopters van die aanloopbaan gebruik gemaak. Groepe besoekers wat van huurvlugte gebruik maak, word al meer hier gesien. ‘n Uitstaller wat lugvaartinstandhouding doen, was vir die eerste keer deel van die fasiliteit.

“Die ontwikkeling van die oostekant van die terrein is betyds vir NAMPO 2017 afgehandel. Die skaalgrootte van die Oesdag is tans op ‘n vlak waar sake soos verdere verbetering van infrastruktuur, mededingendheid van uitstallings en bykomende akkommodasie in die onmiddellike omgewing aandag sal geniet – eerder as om die skou groter te maak. Ons wil vir ʼn landbouer wys uitbreiding is soms vertikaal en nie noodwendig horisontaal nie. Die Oesdag bied dus iets vir elkeen in landbou: Vanaf ‘n 1 ha-boer tot by ʼn megaprodusent, met die klem op innovasie, nuwe tegnologie, waardetoevoeging en volhoubaarheid,” het mnr Cobus van Coller, Oesdagvoorsitter, gesê.

Die openbare padnetwerk na en van NAMPO Park buite Bothaville bly vir Graan SA ‘n bekommernis. Ten spyte van verskeie pogings tot gesprekvoering met owerhede – en hoewel die geleentheid ʼn finansiële inspuiting vir die Vrystaat en omgewing is – is die swak toestand van die omgewing se paaie betreurenswaardig.

Volgende jaar se NAMPO Oesdag word beplan vir 15 tot 18 Mei.

Publication: June 2017

Section: Grain SA