April 2017

BEN KROG, bemarkingsbestuurder: SA Kalk & Gips

Die spreekwoord lui: “As dit pap reën, moet jy skep.” Die droogte is in die grootste deel van die somersaaigebiede, met ongekende goeie neerslae, gebreek. Oor die algemeen en in ‘n wye gebied, lyk dit of die gesaai des baie goed gereageer het.

Hierdie seisoen is daar egter wel verswakte gewasreaksies in verskeie lande waargeneem. “Versuiping” oftewel etileentoksisiteit, kry maklik in bo-normale reënvaljare die skuld. Dit is nie altyd die geval nie. Die afgelope twee droë seisoene kan ‘n belangrike voorloper wees vir die verswakte gewasreaksie.

Die hoofredes kan hoofsaaklik ondergronds gevind word:

  • Fisiese verdigtingslaag (oneffektiewe primêre en sekondêre bewerkings).
  • Chemiese verdigtingslaag (kan net bevestig word met spesifieke grondmonster in die sone waar die beperkte wortelgroei plaasgevind het) – oormaat of tekort aan sekere elemente – moenie ‘n “suurbank” onderskat nie.
  • Ondergrondse versuring (vry waterstowwe) wat met diepte toeneem.
  • Ontoereikende voorsiening (tyd, vorm, hoeveelheid en plasing) van plant beskikbare voedingstowwe.

Tydens landinspeksies konsentreer ons te veel op vertikale bogrondse plantreaksie – tel die koppe, aantal rye per kop, aantal plante per lopende meter en neem foto’s van hoe hoog en breed die gewasse vertoon.

Ons skeep die volume groei van wortels binne die groeimedium, grond, af. Dalk té veel moeite om ‘n gat te grawe? ‘n Wonderwaarheid ontvou as jy in profielgate begin rondkrap. Soms maak die waarheid seer. Jy kan beplan om dit reg te stel. Moenie kortpaaie loop nie. Wortels moet die groeimedium, wat jy vir die gewas beskikbaar stel, optimaal benut.

‘n Ernstige versoek word aan produsente gerig: Dit is nou die regte tyd. Grawe ʼn paar profielgate in jou lande. Gaan kyk na jou wortelontwikkeling. Die plant se reaksie bogrond word bepaal deur wat onder die grond aangaan – die versteekte waarheid.

Publication: April 2017

Section: On farm level