Groot deurbraak vir navorsers in koringgenetika

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain

928

Daar bestaan tans vir die eerste keer in die geskiedenis van Suid-Afrika plaaslik die vermoë en kennis om koringgene te kloon en om die genoomvolgorde van ’n Suid-Afrikaanse koringkultivar te bepaal. Dit is danksy ’n navorsingsprojek wat deur CenGen geïnisieer is in samewerking met plantgenoom-spesialiste van die King Abdullah University of Science and Technology (KAUST) in Saoedi-Arabië en plantpatoloë by die Universiteit van die Vrystaat.

Dr Renée Prins, direkteur van CenGen en geaffilieer met die departement Genetika by die Universiteit Stellenbosch, vertel dat hoewel hulle reeds sedert 2000 kartering van belangrike gene in koring in Suid-Afrika doen, is die vermoë om gene te kloon ’n baie groot deurbraak vir plaaslike koringgenetika en teelprogramme.

Dr Renée Prins, direkteur van CenGen.

Dié deurbraak bied insig in die werking van spesifieke gene, watter proteïene gekodeer word en waarom sekere kombinasies van gene beter weerstand bied. Volgens dr Prins is koring ’n plantspesie met van die moeilikste genome om te bestudeer. Dit is vier of vyf maal groter as die menslike genoom met besonder baie herhalings van DNS-volgordes.

In 2013 het sy prof Simon Krattinger, ’n kundige in die buiteland, genader om vaardighede en kennis vir die kloning van gene in Suid-Afrika te vestig. Hoewel die projek aanvanklik gedeeltelik deur heffings van Suid-Afrikaanse koringprodusente befonds is, was die befondsing nie genoeg nie. Die samewerking met prof Krattinger het die span gehelp om betekenisvolle addisionele internasionale befondsing te bekom. “Dit is belangrik om te besef dat fondse wat deur middel van die heffing deur plaaslike produsente bewillig is, beslis die bal aan die rol gesit het,” beklemtoon dr Prins.

Shannon Derman van CenGen is op pad om vir tien weke in prof Simon Krattinger se laboratorium in Saoedi-Arabië te werk om kennisoordrag, veral betreffende bioinformatika-analises, te fasiliteer.

Die span het met die Kariega-kultivar – ’n ou LNR-kultivar wat vir baie jare die kwaliteitstandaard was en waarvan die streeproesweerstand steeds effektief is – gewerk. Uit 14 miljard basisse is die genoomvolgorde bepaal in ’n poging om die teikenweerstandsgeen te vind. Hierdie eerste volle genoomvolgorde van ’n Suid-Afrikaanse koringkultivar is ’n baie waardevolle hulpbron vir die toekomstige ontwikkeling van verbeterde koringkultivars in Suid-Afrika, verduidelik dr Prins.

Sy sê wintergraanprodusente se vertroue in maatskappye soos CenGen en die befondsing wat hulle bewillig vir navorsing deur vrywillige heffings, lewer beslis dividende. Hierdie waardevolle kennis is nou beskikbaar vir die bedryf en dra tot ’n groot mate by tot die volhoubare uitbreiding van die koringbedryf.

’n Wetenskaplike artikel oor die deurbraak is op 14 Maart in die hoë-impakjoernaal Nature Genetics gepubliseer. Die artikel kan hier gelees word: https://www.nature.com/articles/s41588-022-01022-1

Interessante feite oor koringgenetika