October 2016

LUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom: Graan SA

Die afgelope jaar is gekenmerk deur uitdagende omstandighede in die landbousektor. Die hele bedryf het gebuk gegaan onder die ergste droogte in 100 jaar. Hierdie knellende droogte het in verskeie bedrywe van die landbousektor ‘n groter uitdaging as gewoonlik ingehou.

Een bedryf wat veral swaar getrek het, was lewendehawe. Tekorte aan genoegsame weiding en hoë voerkoste het reg oor die land daartoe gelei dat produsente groter gedeeltes van hul kuddes noodgedwonge moes verkoop en/of laat slag.

Alhoewel die jaar wat verby is in groot gedeeltes van die land se landbougemeenskappe ‘n uitdagende jaar was, het daar tog boodskappe van hoop vanuit alle oorde gekom. Die nuwe seisoen met nuwe uitdagings lê nou voor en alhoewel herstel in die meeste gevalle nog nodig is, is daar weer hoop en goeie vooruitsigte.

Maandelikse slaggetalle van beeste

Grafiek 1 toon die maandelikse slaggetalle van beeste in Suid-Afrika vanaf Januarie 2014 tot en met Julie 2016.

Breër oorsig van die beesvleisbedryf

Dit is duidelik dat die slag van diere ‘n redelik-merkbare tendens volg en dat sekere maande belangriker slagmaande as ander is. Dit het baie te doen met die vraag na vleis wat in sekere maande groter is as in ander. Die grafiek toon ook duidelik dat die aantal vee wat per maand geslag is, in 2015 toegeneem het vergeleke met dieselfde tydperke in 2014. Die algemene tendens van slagsyfers per maand het tot ‘n groot mate dieselfde gebly en slegs die aantal diere geslag, het toegeneem.

Dit is ook duidelik dat die totale slagsyfers vir die eerste paar maande van 2016 selfs hoër was as dié van die vorige twee jaar. Die aansienlike hoër aantal diere wat tot dusver in 2015 en 2016 geslag is, kan grootliks toegeskryf word aan die droogte en tekorte aan genoegsame weiding vir diere.

Die hoër slagsyfers het tot ‘n groot mate veroorsaak dat produsente se kuddes verklein – soos dit in sommige gevalle nodig geraak het om meer diere te verkoop as waarop gehoop of beplan is.

Prystendense

Grafiek 2 toon die produsente weeklikse A2/A3-karkaspryse, sowel as die speenkalfpryse vanaf 2007 tot en met Augustus 2016.

Breër oorsig van die beesvleisbedryf

Pryse is tot ‘n groot mate siklies en daar is duidelike korrelasies tussen die speenkalfpryse en die karkaspryse. Die pryse is volatiel en daarom is goeie, oordeel kundige bemarking belangrik om produsente teen prysrisiko’s te beskerm.

Die pryse toon tot ‘n groot mate ‘n korrelasie met mieliepryse. Mielies maak ‘n groot deel van voerkraalrantsoene uit en derhalwe speel die mielieprys ‘n belangrike rol in die bepaling van die aankooppryse van speenkalwers vir voerkrale.

Dit is belangrik om hierdie faktore in ag te neem wanneer besluite oor bemarking en beplanning op grond van tendense en prysvoorspellings geneem word.

Ander uitdagings

Die rooivleisbedryf het ook, net soos die ander bedrywe in die landbousektor, uitdagings waarmee produsente op ‘n daaglikse basis gekonfronteer word. Hierdie uitdagings strek wyd en een van die grootstes in hierdie bedryf is kostes.

Kostes, veral voerkostes, speel ‘n belangrike rol in die rooivleisbedryf en maak ‘n groot deel van die veranderlike kostes van ‘n tipiese beesplaas uit. Voere kan strek van gebalanseerde voerrantsoene tot en met aanvullings wat in die vorm van lekke aan diere gegee word om sekere tekorte wat in die natuurlike weidings voorkom, aan te vul.

Die koste van voere is baie afhanklik van verskeie faktore – wat strek vanaf die prys van grondstowwe tot en met energiekostes vir die vervaardiging en verspreiding van die voere. Die teenwoordigheid van die sogenaamde pryskosteknyptang is ook sigbaar in die bedryf en Grafiek 3 toon die voerkostes teenoor die pro dusentepryse in terme van indekswaardes.

Breër oorsig van die beesvleisbedryf

Uit Grafiek 3 is dit duidelik dat daar wel in die beesbedryf ‘n pryskosteknyptang bestaan. Wat bedoel word met ‘n pryskosteknyptang is in kort dat die koste van produksie vinniger toeneem as die produsenteprys. Dit is duidelik dat die kostes van voere die afgelope drie jaar teen ‘n vinniger tempo as die produsenteprys vir beeste toegeneem het. Dit sluit slegs die voerkostes in en nie die ander kostes soos arbeid en gesondheidsmiddels nie.

Die vinnig-stygende kostes plaas die winsgewendheid van die bedryf onder die vergrootglas en daarom is dit belangrik om met goeie kwaliteit diere te boer en ‘n goeie kernkudde te skep. Presisieboerdery – selfs in die lewendehawebedryf – raak al hoe belangriker om sodoende goeie kwaliteitseienskappe in die rasse te bevorder ten einde die bedryf meer winsgewend te maak.

Ander aanwysers

In Suid-Afrika dien mielie- en graan ge baseerde produkte hoofsaaklik as stapelvoed sel vir ‘n groot gedeelte van Suid-Afrika se bevolking. Die graanprodukte het ‘n baie hoër koolhidraatinhoud en die proteïenkomponent daarin is maar effens aan die lae kant. Vleis en vleisprodukte speel dus ‘n belangrike rol in terme van proteïene in die diëte van Suid-Afrikaners. Verskillende soorte vleis en vleissnitte sal uit die aard van die saak deur verskillende inkomstegroepe verbruik word na gelang van die bekostigbaarheid daarvan.

Wit vleis, soos hoender en vark, asook die verwerkte produkte daarvan wat relatief goedkoper is, sal meer deur laer inkomstegroepe benut word, terwyl rooi vleis (bees en skaap) heel waarskynlik meer deur hoër inkomstegroepe benut sal word.

Grafiek 4 toon die verbruiksbesteding aan alle vleissoorte in Suid-Afrika vanaf 2005 tot en met 2014/2015. Daar is ‘n duidelike opwaartse tendens in die verbruiksbesteding van vleis oor die afgelope tien jaar. Hieruit kan afgelei word dat daar steeds ‘n groeiende vraag na vleis en vleisprodukte is – met verbruikers wat al meer bestee aan hierdie produkte.

Breër oorsig van die beesvleisbedryf

Ten slotte

Die vleisbedryf speel ‘n kardinale rol in die landbousektor. Die vloei van die produkte deur die waardeketting voeg baie waarde toe tot die bedryf, het ‘n groot impak op die groei en bevordering van die bedryf en skep boonop werksgeleenthede. Dit verbruik ook baie ander produkte soos grane en die bedrywe vul mekaar goed aan.

Dit is belangrik dat alhoewel die prentjie in baie gevalle nie altyd na maanskyn en rose lyk nie, dit steeds ‘n belangrike bedryf is. Dit het, soos in al die ander bedrywe, sy eie uitdagings en risiko’s wat oorkom moet word ten einde die bedryf volhoubaar te hou. Produsente het hulself al deur die jare bewys as spesiale mense wat altyd ‘n plan het om die uitdagings te oorkom – en dat daar baie geleenthede is wat nog ontgin kan word.

Publication: October 2016

Section: Focus on