
Produsente in Suid-Afrika word daagliks gekonfronteer met uitdagings soos wisselende weerpatrone, stygende insetkoste en ’n onvoorspelbare ekonomie. Dit is daarom riskant om slegs op een bron van inkomste staat te maak. Diversifikasie – die uitbreiding van inkomstegeleenthede – is ’n effektiewe manier om risiko’s te versprei en finansiële stabiliteit te verbeter. Daar is verskillende maniere hoe inkomste verkry kan word; die mees algemene word in die volgende kategorieë verdeel:
- Op die plaas – binne landbou: Hierdie is gewoonlik landbou-aktiwiteite waar bates wat reeds op die plaas is, benut word.
- Op die plaas – buite landbou: Hier word beskikbare bates benut vir aktiwiteite buite die normale landboupraktyke. Dit kan soms behels dat investering moet plaasvind om bates op te knap of addisioneel te skep.
- Diversifikasie buite landbou: In hierdie geval word die inkomste wat vanaf die plaas verkry word, buite landbou gebruik om addisionele inkomste te genereer in ander ekonomiese sektore.
Die sleutel tot suksesvolle diversifikasie lê in ’n duidelike doel en oortuiging oor waarom ’n spesifieke onderneming aangepak word. Onderstaande is ’n klompie voorbeelde wat tipies benut word in die kategorieë, maar dit kan verskeie opsies behels en hang grootliks af van elke boerdery se individuele omstandighede.
Diversifikasie op die plaas: binne landbou
Bestaande landboupraktyke kan uitgebrei word om meer as een gewas of veespesie in te sluit. Deur verskeie gewasse aan te plant versprei die produsent nie net die risiko van swak oeste nie, maar verbeter ook grondvrugbaarheid deur wisselbou en natuurlike plaagbeheer.
Waardetoevoeging bly altyd ’n goeie opsie, waar geëvalueer word of daar nie moontlikhede bestaan om kommoditeite te neem en waarde toe te voeg nie. Dit bied die produsent die geleentheid om te deel in die marges van die waardeketting, maar dit help ook om weg te beweeg van ’n prysnemerstatus. ’n Voorbeeld: In plaas daarvan om bye net vir bestuiwing te gebruik, kan ’n produsent ’n wins maak uit byprodukte soos heuning, byewas en skoonheidsprodukte. Selfs ou byekorwe kan ’n nuttige rol speel deur as kompos vir tuine te dien.
Dit is noodsaaklik om volledige en regverdige rekordhouding te doen. Omdat bates hier tussen bedryfsvertakkings verdeel word, kan dit maklik ’n skewe prentjie skep. Regverdige toedelings is dus nodig om sodoende die werklike bydrae en siklusse te bepaal.
Diversifikasie op die plaas: buite landbou
’n Boerderyonderneming hoef nie net vir voedselproduksie gebruik te word nie; dit kan ook dien as ’n toerismebestemming of ’n plek vir ontspanningsaktiwiteite. Verblyfopsies soos gastehuise of kampeerplekke kan inkomste genereer, terwyl stap- en fietsryroetes ’n bykomende trekpleister kan wees.
Vir diegene wat op soek is na meer avontuurlustige aktiwiteite, kan ’n skietbaan ’n addisionele bron van inkomste wees. Dit kan ook gebruik word as ’n bemarkingsinstrument vir ’n jagplaas, wat ’n produsent se wildboerdery ondersteun.
Verder kan ’n produsent inkomste verdien deur die verhuring van pakhuise, die oprigting van ’n plaaswerktuig-herstelwinkel of selfs die beskikbaarstelling van die plaas vir foto- en videografie. Dit bly egter belangrik om te oorweeg waar jou passie lê en watter dienste of produkte ’n werklike behoefte in die gemeenskap teiken.
Hierdie is altyd ’n goeie opsie as daar familielede is wat ’n spesifieke passie het waarvoor die boerdery se bates geleenthede kan skep. Dis egter noodsaaklik om te besef dat die diversifikasie deel is van die besigheid en daarvolgens bestuur moet word.
Diversifikasie buite die plaas
Vir produsente wat ’n passiewe inkomste wil verdien, is daar verskeie opsies buite die landbousektor. Beleggings in eiendom, JSE-aandele en plaaslike besighede bied ’n manier om kapitaal te laat groei sonder direkte betrokkenheid.
In hierdie geval is dit noodsaaklik om seker te maak dat kundige mense adviseer en ondersteun. Dit is nodig om die inkomste op ’n konstante basis te evalueer, want die risiko bestaan altyd dat die omdraai van markte verliese kan veroorsaak en dan moet die aktiwiteite so geposisioneer wees dat dit nie die boerdery raak nie. Kontantvloei is ook uiters belangrik om in ag te neem met hierdie opsie.
Hoe kan dit alles saamwerk?
Om te diversifiseer beteken nie noodwendig dat ’n produsent net op een nuwe onderneming moet fokus nie. ’n Beesprodusent kan byvoorbeeld sy eie slagpale oprig en sy vleis onder sy eie handelsmerk verpak en aan slaghuise en restaurante verskaf. Deur verder aandele in ’n slaghuis of restaurant te koop, of dit self te bestuur, kan die produsent groter beheer oor sy produk se kwaliteit hê en moontlik ’n beter prys in die mark beding.
Diversifikasie moet doelgerig wees met ’n spesifieke doelstelling en visie. Dit moet nie net ’n aksie wees om ten alle koste addisionele inkomste in te bring nie. Dit is ’n aksie wat strategies aangepak moet word en produsente moet die volgende vrae krities beantwoord:
- Wat wil ek bereik met die nuwe aksie?
- Wat is die investering wat benodig word?
- Het ek die nodige hulpbronne om dit te laat werk?
- Hoe gaan dit my huidige inkomste beïnvloed?
- Wat is die opbrengs op belegging teenoor die geleentheidskoste?
- Hoe gaan dit kontantvloei beïnvloed?
- Kan my huidige onderneming dit finansieel en fokusgewys bekostig?
- Wat is die verwagtinge na ’n vyfjaarperiode?