Presisie – die begin van die winspad

Gepubliseer: 12 Julie 2021

1310
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie
David Hamman,
onafhanklike
landboukundige

Presisieboerdery is ’n graanverbouingskonsep wat steun op die effektiewe bestuur van variasie in ’n grond se inherente fisiese en chemiese eienskappe deur gebruik te maak van tegnologie.

Die insameling, analisering en evaluering van data maak dit moontlik om meer ingeligte besluite te neem wat betref bewerkingspraktyke, plantestand, kultivarkeuses, kunsmisbronseleksie, bemestingspeile en die tydperk van toediening van voedingstowwe.

As gevolg van die aanhoudende verhoging in insetkoste en produkpryse wat nie hiermee tred hou nie, is presisieboerdery baie aanloklik vir die hedendaagse produsent. Alhoewel daar al boekdele oor presisieboerdery geskryf is en baie produsente dit reeds toepas, word foute steeds begaan. Vandag fokus die meeste implement- en trekkervervaardigers daarop om hierdie stelsel geïmplementeer te kry en heelwat geld word spandeer om stelsels te vervaardig wat die tegnologie toepaslik maak.

Winsgewendheid, effektiwiteit en tydbestuur kan deur middel van presisieboerdery verbeter word, maar daar is ’n geassosieerde kapitaaluitleg wat onvermydelik is. Soms is dit nodig om terug te staan en na die basis terug te keer. Wat is die belangrikste aspekte waaraan voldoen moet word? Waarsonder kan daar nie klaar­gekom word nie en wat is net om te besit vir spog?

Wins is natuurlik die belangrikste aspek. Die vraag is hoeveel hierdie nuwe stelsel vir die produsent behoort in te bring en hoeveel daarvan aan tegnologie bestee kan word. Daar is egter eers ’n klompie aspekte wat in plek moet wees.

Presisieboerderybeginsels
Presisieboerdery moet by die hulpbron begin. Dit is van kardinale belang dat die grond eerstens fisies gekarteer word (Figuur 1) om sodoende ’n produksiepotensiaalkaart met sones te skep (Figuur 2). Hierdie sones kan dan afsonderlik bestuur word betreffende stand en nutriënttoediening. As die hulpbron groot variasie toon, sal die skaal van kartering klein moet wees (byvoorbeeld eenhektaarblokke), terwyl ’n groter skaal op meer homogene gronde benut kan word.

Figuur 1: Illustrasie van sonering van grondvorms.
Figuur 2: Opbrengspotensiaal van verskillende sones.

Volledige fisiese grondkartering kan soveel meer inligting verskaf as net die identifikasie van spesifieke grondvorms en die gronddiepte. Gewas- en grondrisikofaktore soos plantbeskikbare waterkapasiteit, verdigting, behoefte vir dreinering, loging van voedingstowwe, bewerkingstipe en bewer­kingsdiepte kan ook tydens grondkartering geïdentifiseer word. Dit is miskien duur, maar een van die beste beleggings wat ’n produsent ooit kan maak.

’n Grondvormkaart verander nie sommer nie. Die potensiaal van die grond kan dalk oor tyd verbeter soos kultivars, tegnologie­ en boerderypraktyke verander, maar die feit dat die grond 800 mm diep, die kleipersentasie 20% en die langtermynreënval 580 mm is, gaan nie sommer verander nie. Hierdie kaart is die hart van presisieboerdery.

Begin deur die sones met lae potensiaal en niewinsgewende lande uit te sny en so vinnig moontlik na permanente weiding om te skakel. Dit is hierdie sones wat die wins wegkalwe.

Die volgende stap is om die grond chemies te karteer. Chemiese kartering verskaf kaarte van chemiese eienskappe (Figuur 3), nutriëntstatus (Figuur 4) en nutriëntverhou­dings wat in ag geneem moet word vir kalk- en misstoftoedie­nings (wat op ’n variërende wyse hanteer kan word) om optimale produksie te verseker.

Figuur 3: Illustrasie van die pH(KCl)-waardes van die grond.
Figuur 4: Kaliumkonsentrasiewaardes van die grond.

Chemiese ontledings
Chemiese ontledings word gebruik om aanbevelings te formuleer vir die variërende regstelling van die grond se pH-waarde en kalsium-, magnesium-, kalium-, fosfaat- en mikro-elementkonsentrasies. Die regstellings kan insetkoste aansienlik verhoog, maar indien dit korrek bereken is, sal dit ook ’n hoër opbrengs en winsmarge verskaf. Indien die begroting dit nie toelaat om alle regstellings eenmalig te doen nie, behoort daar by die mees beperkende faktore begin te word.

As ’n reël word voorgestel om eerstens die pH-waarde en geassosieerde kalsium- en magnesiumkonsentrasies te korrigeer. Begin met die behoefte aan dolomitiese kalk, gevolg deur die behoefte aan kalsitiese kalk (indien albei bronne benodig word). Vir hoëwaardegewasse en vir hoë-opbrengssones (byvoorbeeld spilpunte) kan kalium en fosfaat algeheel reggestel word. Alternatiewelik kan kalium- en fosfaatregstel­lings jaarliks geskied deur hoër bemestings­peile te verskaf voor, tydens of na plant. Begin by ’n punt en stel dit oor tyd reg.

Die hoëpotensiaalsones het gewoonlik die grootste nutriënttekorte weens ’n laer bemestingspeil teenoor opbrengs wat behaal is in die verlede. Die hele land is byvoorbeeld bemes vir 4 t/ha, maar 7 t/ha is in sekere sones behaal. So word die hoëpotensiaalsones se opbrengs tot die gemiddelde bemestingsmikpunt beperk.

Tegnologiese behoeftebepaling
Wins is nodig om die tegnologie te kan bekostig. Presisieboerdery is ’n pad wat geloop moet word, nie ’n eenmalige sprong nie. Die vraag bly altyd hoeveel geld aan tegnologie bestee kan word. Dit moet deur die ekstra wins (indien enige) bepaal word.

Winsgewendheid van presisiestelsels
Om die effek van oorskakeling na ’n presisie­stelsel te meet, moet die verandering in die totale direk toedeelbare veranderlike koste en winste vir die totale plaas of land bepaal en gemeet word. Dit word gedoen deur begrotings te gebruik waar die boer­dery bestuur word volgens ’n konstante of gedifferensieerde opbrengspotensiaal. In Tabel 1 word die begrotings vir die Noordwesprovinsie getoon, met die veranderlikes wat varieer.

Soos produksie styg, verhoog die koste ook. Dit is bloot omdat diesel-, herstelwerk- en saadkoste verhoog soos hoër opbrengste gekry word. Hierdie inligting is verder gebruik om die plaas te simuleer.

In Tabel 2 word die aannames vir die ontleding getoon. Dit behels in breë trekke dat ’n plaas van 50 ha met verskillende opbrengspo­tensiale volgens verskillende bestuurstyle bestuur word. Daar word aanvaar dat opbrengspotensiale in gelyke hoeveelhede op die plaas voorkom. Verder word aanvaar dat die konstante opbrengspeil die gemiddeld van die plaas is. In dié geval is dit op 5 t/ha gehou, terwyl die gediffe­rensieerde opbrengspeile volgens die­ opbrengspotensiaal bestuur word. Daar word aanvaar dat die opbrengs deur die gebruik van slegs 5 t/ha se bemesting beperk word tot slegs 5 t/ha.

Die basiese inligting gebruik om Tabel 2 op te stel, word in Tabel 1 aangetoon. Die inkomste in Tabel 2 is bepaal deur die opbrengste met die prys per ton en die hektare te vermenigvuldig. Die verande­ring in die koste is bepaal deur die koste konstant te hou vir ’n opbrengs van 5 t/ha en die res van die insette te laat varieer. Die bruto marge is die verskil tussen direkte inkomste en direkte koste.

Tabel 2 toon – soos verwag – groot verskille tussen die bestuurstyle. Met die gedifferensieerde bestuurstyl is daar ’n verlaging in die koste van die laer opbrengspotensiaal en ’n verhoging in die hoër opbrengspotensiale. Die winsresultate van die gedifferensieerde bestuurstyl is 18,3% beter as die konstante bestuurstyl. Die koste by die gedifferensieerde bestuurstyl is byna gelyk, maar die inkomste neem met 6,4% toe.

Vir ’n plaas van 500 ha met hierdie selfde hulpbronverdeling, kan die produsent maklik R410 374 ekstra verwag. Hierdie geld kan aan tegnologie bestee word. Dit klink na baie geld, maar daar word maklik veel meer as dit aan die benodigde toerusting spandeer. Dit is belangrik dat die verandering se resultate gemeet moet word. Stroperkaarte is uiters belangrik omdat dit die praktyke en resultate meet en weer gebruik word om die volgende seisoen se beplanning te doen. Indien die stroper nie die nodige tegnologie besit om die kaarte te trek nie, kan oorweeg word om ’n stelsel te installeer vir hierdie doeleinde. Indien die stroper in elke geval vervang moet word, koop dan een wat oor die tegnologie beskik.

Soos wat wins gemaak word, kan meer tegnologie bekom word. Maak aanvanklik van kontrakteurs gebruik en bekom later eie toerusting. Verdeel die lande volgens hul langtermynpotensiaal. Besluit dan op ’n bemestingspeil asook kultivar en plantestand vir die land en plant daarvolgens. Besluit byvoorbeeld om al die lande met ’n standaardplantermengsel te plant en strooi die ander elemente volgens die potensiaal uit. Elemente soos stikstof kan voor plant of kort ná plant differensieel uitgestrooi word. Op dié manier word ’n presisiestelsel geïmplementeer sonder om te veel kapitaal te spandeer.

Kapitale items kan aandag kry soos die wins gemaak word. ’n Trekker en strooier kan gekoop word of die planter kan aangepas word. Dit is ook moontlik om hierdie tegnologie op ouer trekkers te installeer – doen net navraag.

Die resultaat verkry moet jaarliks met die beplanning vergelyk word. Maak gebruik van kundigheid in die vorm van landboukundiges wat die proses verstaan. Daarsonder kan nie akkuraat vir die toekoms beplan word nie. Presisieboerdery is ’n lang proses – insetverskaffers moet deel wees daarvan en sodoende sal daar oor tyd baie goeie resultate verkry word.

Produsente wat hierdie beginsel vir hul boerdery toepas kan self bepaal hoeveel geld daar vir kapitaal beskikbaar gaan wees. Oorweeg aankope goed – koop is maklik, maar betaal is ’n ander saak. Alhoewel nuwe tegnologie baie aanloklik is, kan dit baie duur uitwerk.

Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991 of David Hamman by david@agropedo.co.za of 082 339 8323.