August 2016
ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain
Die nuwe visevoorsitter van Graan SA, Preline Swart, is die eerste vrou op dié organisasie se Dagbestuur. Sy is tydens Graan SA se Kongres in Maart vanjaar tot die portefeulje verkies.
Op die vraag wat sy as uitdaging in haar nuwe rol as visevoorsitter van Graan SA sien, antwoord sy sonder aarseling: “Ek wil graag sien dat alle produsente, ongeag kleur, hande vat en begin saamwerk. Verder sal ek ook wil sien dat meer vroue en jongmense van alle rasse by landbou en by die organisasie betrokke raak.
“Ek voel dit het tyd geword dat ons as vroue meer betrokke raak by landbou sodat die uitdagings waarmee ons daagliks gekonfronteer word, in geleenthede omskep kan word. Tradisioneel was dit mos maar nog altyd die manne wat gemoeid was met die plaassake – veral veiligheid en arbeid. Die boervrou het die huishouding behartig en die kinders grootgemaak, maar ek wou nog altyd meer as dit wees. Ek sien myself as ‘n ‘moderne boervrou’. Jy sal my nie maklik in die kombuis aantref nie. Ons is mos maar almal verskillend.
“In my hoedanigheid as visevoorsitter sal ek vroue graag wil aanspoor en uitnooi om toe te tree tot georganiseerde landbou – nie net as sekretaresses van hul landbouverenigings nie, maar om ook beskikbaar te wees vir portefeuljes op verskillende terreine.
“Vroue moet partykeer dubbeld so hard werk om hulself te bewys in velde waar hulle nie voorheen ‘n rol vertolk het nie, maar ek is nie bang daarvoor nie. Ek hou van uitdagings!”
Georganiseerde landbou
Preline is aktief in georganiseerde landbou. “Ek was betrokke by die Verenigde Suid-Afrikaanse Landbouvereniging (USAAA) en is die afgelope paar maande betrokke by die African Farmers Association of South Africa (AFASA). Verder is ek ook deel van die Grain Commodity Project Allocation Committee (CPAC) en ‘n lid van die HerkouCPAC. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en verskillende kommoditeitsorganisasies en georganiseerde land bou rolspelers is hierby betrokke.”
Sy dien ook op die bestuur van die Bredasdorp Vroue-landbouvereniging. “Dit is baie interessant om deel van die groep dames te wees.”
Verder is sy besonder trots om deel van die Graan SA-span te wees. “Ek voel tuis tussen die graanmanne. Hulle gaan uit hul pad om my tuis te laat voel en ek waardeer dit,” sê sy. “Dankie ook aan Graan SA se personeel wat my so goedgesind is. Ek is leergierig, want ek wil die beste maak van my termyn op Dagbestuur,” het sy gesê.
Vyf vinnige feite
- Preline Carmen Swart (34) het op Elim in die Suid-Kaap groot- geword. Haar moeder, Charmaine Daniels (‘n verpleegkundige), het haar as enkelouer grootgemaak. “Met alles wat ek al bereik het, hoop ek dat ek haar moederhart voorwaar trots gemaak het.” Haar vader, Pieter Hans, was vir baie jare ‘n plaasarbeider, maar het tans sy eie rietdakbesigheid.
- Sy het op ‘n jong ouderdom op Elim begin werk en haar eie haarsalon begin. “Ek is in Graad 10 (destyds standerd 8) uit die skool uit en vandag is ek bitter spyt dat ek nie my skoolloopbaan voltooi het nie, maar beoog om volgende jaar Graad 12 te doen.”
- Die boervrou is ook ‘n gekwalifiseerde tuisversorger en het haar studies by die Gesondheid en Welstand Sektorale Onder- wys en Opleidingsowerheid voltooi terwyl sy by die Elim Tehuis met gestremde kinders gewerk het.
- Preline is getroud met Ralph en hulle woon op Bredasdorp saam met hulle seun en dogter, Charmile (14) en Hope (7). Ralph se twee seuns uit ‘n vorige huwelik, Leaan (24) en Jacques (23), boer saam met Ralph en Preline in die Overberg. Volgens Preline boer die twee kleintjies net so kliphard saam met hulle.
- Hulle saai kontant- en weidingsgewasse (koring, hawer, korog en gars) en boer ook met Bonsmaras, Dohne-Merino-ooie en volstruise. Preline is verantwoordelik vir die bemarking van hulle boerderyprodukte en kyk daagliks na die graan- en veepryse asook wat die buitelandse mark maak. Sy help verder met die beplanning van die boerderypligte asook die uitvoer daarvan en sorg dat alle administratiewe werk op datum bly.
Hoe dit alles begin het…
Preline is in 2008 met Ralph getroud. Sy ouers en grootouers was boere in die Elim-omgewing. Sy het in die begin glad nie daarin belanggestel om te boer nie en noem dat sy gedurende die eerste jaar net hierdie boerderybesigheid bekyk het en by tye gedink het “Waarin het ek my begewe?” “Een oggend het ek besluit om saam te gaan plaas toe en net daar het die boerderygogga my gebyt. Ek is nie spyt nie, want ek geniet dit vreeslik om saam met my man en seuns te werk,” vertel Preline met entoesiasme. Die Swart-gesin huur al die afgelope 33 jaar grond by die Morawiese Kerk op Elim (1 280 ha) en boer die laaste paar jaar ook op Spanjaardskloof (89 ha) en Grootdam (945 ha) in die Stormsvlei-area op hul eie grond.
“Weens die hoë prys van grond in die Overberg-area, is dit moeilik om grond daar aan te koop. Die gaping tussen die markwaarde en produksiewaarde van landbougrond in ons gebied is baie groot,” verduidelik sy.
Hulle plant koring, gars, hawer, korog en medics en is in die proses om oor te skakel na geenbewerkingspraktyke. In 2000 het Ralph ‘n besoek aan Dresden in Oos-Duitsland gebring en in 2012 was hy en Preline Argentinië toe. Hier het hulle gesien watter verskil geen bewerking maak en het daarna begin met die regstelling van hul grond nadat dit soveel jare deur hul voorgeslagte bewerk is. Volgens haar is dit hul doelwit om eendag só te boer dat hulle voortdurend die biologiese diversiteit van die grond verhoog en verbeter.
SA Graan/Grain wou by haar weet wat hulle as die grootste uitdaging in hul boerdery ervaar.
“In boerdery is daar goeie, maar ook verskriklike moeilike jare: Te min of te veel reën en krisisse wat moeilik bestuurbaar is. Swak graanpryse en hoë insetkoste het ons ook al hard geslaan, maar soos my man altyd sê: ‘Volgende jaar begin ons maar net voor’.
“Deur dit alles heen is ons nog steeds op die plaas. Vir my is dit ‘n geval van hard val, knieë afvee, opstaan en maar weer probeer. En as ek mooi dink, is dit waar ek die graagste wil wees (al het ek myself nooit as ‘n boeremeisie gesien nie!).”
Ander uitdagings wat hulle in die gesig staar, is die konstante toename in insetkoste. “Ons moet gedurig opbrengs jaag ten einde winsgewend te kan bly produseer. Die jaarlikse stygings wat hoër as inflasie is, verminder ook my, as graanprodusent, se winsgewendheid.”
Ons wou by haar hoor watter rol ‘n organisasie soos Graan SA in langtermyn, volhoubare en winsgewende graanproduksie, asook voedselsekerheid, moet speel.
“Graan SA moet meer daarop fokus om nuwe toetreders se posisie in die landbousektor te bevorder. Die fokus moet wees op ekonomiese bemagtigingsinisiatiewe soos byvoorbeeld swart mense, vroue, gestremde persone en op die jeug van alle rasse. Die proses om swart Suid-Afrikaners in staat te stel om suksesvol in kommersiële boerdery en landboubesighede te wees, sal goedontwerpte en behoorlik-geteikende pogings verg om die speelveld gelyk te maak en om ‘n meer verteenwoordigende en diverse sektor tot stand te bring.
“Hierdie pogings moet ontwerp word om ‘n gediversifiseerde en doeltreffender landbousektor op te lewer, wat die dryfkrag vir ‘n groeiende landelike ekonomie sal verskaf, sonder om ‘n negatiewe impak op bestaande kommersiële produsente te hê,” meen sy.
Volgens haar geniet Graan SA-lede heelwat opleidingsgeleenthede en inligtingsessies: “Alles daarop gemik om van jou as boer en jou boerdery ‘n sukses te maak en om ons as boere aan te moedig om ons kennis te verbreed en vaardighede te verbeter. Die stem van georganiseerde landbou en die waarde wat almal daaraan heg, is ook baie belangrik,” sê sy.
Toekennings
In 2013 is Preline benoem vir die 2013 Female Entrepreneur of the Year Award en word as naaswenner aangewys waarna sy die Nasional Ministerial Award in die Jeug-afdeling ontvang.
In 2014 is sy deur Minister Tina Joemat-Pettersson uitgenooi om deel te wees van die lewendige uitsending van die TNA/SABC 2 Breakfast Briefing in Johannesburg. “Dit was vir my ‘n verskriklike groot eer en ‘n ervaring wat ek vir lank sal onthou,” vertel sy.
Ralph, met Preline bankvas agter hom, is in 2014 as Graan SA/Absa se Nuwe Era Kommersiële Boer aangewys. Swart Boerdery het ook ‘n rits ander toekennings ingeryg: Hulle het die toekenning vir nuwe toetreders tot die kommersiële landbou van die Landbouskrywers Suid-Afrika ontvang en by die Aldam Vleisbeesskool van 2014 het hulle ook Pick ‘n Pay se eerbewys vir die beste vordering vir die afgelope dekade ontvang. Sy is in 2015 aangewys as die Top Achiever: Farmer Development Programme: Bathopele/Kaap Agri en genomineer vir die 2016 AgriSeta National Excellence Award: Short skills programme. ‘n Program oor hul boerdery is vroeër van- jaar op Megaboere op die KykNet-kanaal uitgesaai.
“Ek is opreg dankbaar en voel geëerd oor al hierdie groot gebeurtenisse in ons lewe en glo en vertrou van harte dat hierdie toekennings vir ons gesin baie deure sal oopmaak. Dit is alles te danke aan my Hemelse Vader. Hy het gesien hoe hard ons werk en ons daarvoor beloon. Dit hou ons nederig en op ons knieë.”
Ontwikkelende landbou
Graan SA se Ontwikkelende Landbouprogram lê dié produsent na aan die hart en sy beskou dit as een van die organisasie se kernfunksies.
“Vandat Graan SA by ons boerdery betrokke geraak het, het ons in alle opsigte gegroei. Deur middel van studiegroepe in ons streek kom ons gereeld bymekaar om inligting te ontvang en ook inligting met mekaar te deel. Die verskeidenheid onderwerpe is altyd interessant.
“Met die proewe wat geplant word en die boeredae wat gehou word, kan ons sien dat ons nog op die regte pad is. Dit verbreed ons kennis. Ek het ook al vele kursusse bygewoon en baie daarby gebaat.
“Dankie aan die personeel in Graan SA se Paarl-kantoor: Ons kan enige tyd op hul knoppie druk. Hulle is altyd bereidwillig en beskikbaar.”
Op ‘n vraag hoe kommersiële produsente meer betrokke kan raak by nuwe era-boere, antwoord Preline: “Deur as mentor op te tree en jou jarelange kennis te deel. Kommersiële produsente het reeds die oplossings vir talle uitdagings in landbou gevind, want hulle is al jare lank in die bedryf.
“As ek só met die produsente saamwerk, sien ek oor watter kwaliteite hulle beskik en watter soort mense hulle is. Ek en my gesin het tot die besef gekom dat dit ons niks gaan help dat ons, as nuwe era-boere, ons eie oplossings probeer vind nie. Ons moet eerder sorg dat ons van kommersiële produsente leer. Daar is kommersiële produsente wat die kuns vervolmaak het: Hulle bedryf uitnemende boerderye en wanneer ons die eerste tree gaan gee en om hulp vra, glo ek hulle sal hul kennis (wat werk en wat nie werk nie) met ons deel.
“Ons het ‘n wonderlike mentor, Kosie van Zyl, wat verskriklik baie vir ons beteken en wat graag sy kennis en ervaring met ons deel.”
Wenke
Ons het haar gevra watter wenke sy vir ‘n pa of ma sal gee wat daaraan dink om saam met hul kinders ‘n familieboerdery te bedryf:
- Jou kinders moet jou passie deel.
- Laat jou kinders saam met jou werk, skuif ongemerk van jou verantwoordelikhede oor na hulle toe en kyk of hulle verantwoordelikheid daarvoor kan aanvaar.
- Openlike kommunikasie is belangrik.
- Daar moet ‘n gevoel van samewerking en intimiteit tussen jou en die kinders onderling wees.
En vir ‘n vrou wat saam met haar man by die boerdery betrokke is?
“Wees daar vir jou man, ondersteun hom en staan hom deur dik en dun by. Ek hou my man se arms omhoog en gee hom my ondersteuning om hom sterk te maak vir môre – hetsy storms of mooi weer. Ek is my man ewig dankbaar dat hy my aan die landbousektor bekend gestel het.”
Sy sluit af: “My raad aan enige produsent is om in afhanklikheid van ons Hemelse Vader te lewe.”
Publication: August 2016
Section: Relevant