Inset-oorsig

925

August 2015
image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Dieselpryse onder die loep

Diesel maak ongeveer 12% van ‘n graan- en oliesadeprodusent se lopende produksiekoste uit. Soos nuwe enjintegnologie die mark betree en bewerkingspraktyke oor die jare verander het, het die hoeveelheid liter diesel wat produsente per hektaar gebruik, afgeneem.

Meer as tien jaar gelede het ‘n graan- en oliesadeprodusent in Suid-Afrika gemiddeld ongeveer 100 liter/ha gebruik, terwyl die gemiddeld nou nader aan 70 liter/ha kan wees.

Meer onlangs

Die groothandelprys van diesel het vanaf Julie 2014 tot Julie 2015 met 9,2% gedaal – vanaf R12,90/liter na R11,71/liter. Die groothandelprys van diesel in Suid-Afrika word gereguleer en word deur invoerpariteitspryse van diesel, belasting en heffings bepaal.

Dít het gebeur

Die ruolieprys, wat internasionale brandstofpryse beïnvloed, het vanaf Junie 2014 tot Junie 2015 met 42,6% gedaal, vanaf 1,97 per vat na ,26 per vat.

Oor dieselfde periode het die rand met 15,5% teenoor die dollar verswak – vanaf R10,69 na R12,35 (‘n verswakking maak invoere duurder). Heffings en belasting het oor hierdie periode met 19,8% gestyg, vanaf R4,41/liter na R5,28/liter.

Was dit dus nie vir die verswakking in die wisselkoers en stygings in belastings en heffings nie, kon die dieselprys meer as 40% laer gewees het as ‘n jaar gelede.

Grafiek 1 wys wat met die dieselprys en die Brent ruolieprys in randterme sedert Januarie 2010 gebeur het. In die grafiek kan ook gesien word dat heffings en belasting ‘n al groter deel van die dieselprys uitmaak.

image

In Julie 2015 het heffings en belastings 45% van die groothandelprys van diesel uitgemaak. Die rekordprys wat tot dusver vir die groot handelprys van diesel bereik is, was R13,39/liter in Maart 2014.

Wat om te verwag

Met die skryf van hierdie artikel kan die dieselprys moontlik in Augustus met 61 sent/liter daal. Hierdie daling kan hoofsaaklik toegeskryf word aan dalings in internasionale dieselpryse – die ruolieprys het self met 8,5% vanaf Junie tot Julie tot dusver gedaal.

In die medium termyn moet die volgende in ag geneem word om brandstofprysbewegings te antisipeer:

Ruolie

  • Aan die vraagkant – China se ekonomiese groei neem af. Dit kan ‘n impak hê op die vraag na ruolie wat pryse kan laag hou.
  • Aan die aanbodkant – daar is heelwat moontlikhede dat die voorraad en produksie van ruolie kan toeneem, veral vanuit Iran. Dit kan pryse verder onder druk plaas.
  • Skaliegasontwikkeling in die VSA hou ook pryse onder druk.

Rand/dollar-wisselkoers

  • Wanneer na die wêreldekonomieë sowel as die plaaslike ekonomie gekyk word, gaan beleggers eerder in ontwikkelde lande belê, wat ons plaaslike geldeenheid kan laat verswak. Meeste finansiële instellings projekteer ook eerder ‘n swakker rand na die einde van die jaar toe, as ‘n sterker een. ‘n Swakker rand maak invoere (soos brandstof) duurder vir die plaaslike verbruiker.
  • In die medium termyn kan die positiewe impak wat potensiële laer ruoliepryse op plaaslike brandstofpryse kan hê, dus deur ‘n potensiële swakker rand, uitgekanselleer word.

Die dieselkorting waarvoor produsente kwalifiseer

Op 1 April 2015 het die algemene brandstofheffing met 30,5 sent/liter en die Padongelukkefondsheffing met 50 sent/ liter toegeneem. Dit het meegebring dat die dieselkorting vanaf 188 sent/liter na 250 sent/liter toegeneem het – vir 80% van die regmatige gebruik.

Tesourie het ook in die vooruitsig gestel dat die dieselkorting in die nabye toekoms (April 2016) los van die BTW-stelsel hanteer gaan word. Daar is ook voorstelle deur die Minister van Finansies dat die korting op die algemene brandstofheffing vir sekere bedrywe verminder moet word. Wees verseker dat Graan SA (tesame met Agri SA) reeds hieroor met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en Tesourie in gesprek is.

Die SAID het in Julie kommentaar aangevra op hul voorgestelde diesellogboeke wat bygehou moet word om vir die dieselkorting te kwalifiseer. Daar is weer eens inligting wat die SAID wil hê bygehou moet word, wat prakties onmoontlik gaan wees om te doen. Graan SA lewer kommentaar hierop en vergader eersdaags met die SAID hieroor.

Vir nou moet produsente ten minste van die volgende boekhou (vanaf die hoofverspreidingspunte):

  • Datum waarop diesel ingegooi is.
  • Hoeveelheid diesel wat ingegooi is.
  • Beskrywing van voertuig.
  • Die rede waarvoor diesel aangewend is.

Publication: August 2015

Section: On farm level