Burgerlike en onregmatige arrestasies: Wat sê die wet?

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 15 April 2024

127

Landelike veiligheid staan sentraal tot die skep van welvarende landelike ekonomieë. Tydens Landbouweekblad en Senwes se Oplossings vir SA se Platteland-konferensie wat in Februarie op NAMPO Park aangebied is, was dit opmerklik hoeveel van die gemeenskapsprojekte wat tydens die geleentheid as suksesverhale uitgelig is, om landelike veiligheid draai.

Volgens Cobus van Zyl, voorsitter van die Agri Securitas-trustfonds, is die toe­nemende voorkoms van misdaad ’n groot bron van kommer in landbougeledere en is sekere gemeenskappe uitgesproke oor wat hulle beskou as onvoldoende optrede deur die polisie om plaasaanvalle en landelike misdaad aan te pak. “Produsente en plaaswer­kers is veral kwesbaar vir misdaad, en alle po­gings moet aangewend word om hulle by te staan in die bekamping van die plaag van misdaad wat hul daaglikse bedrywighede beïn­vloed en hul lewens bedreig,” het hy bygevoeg.

Om seker te maak dat produsente en rolspelers in landbou ingelig bly oor wetgewing wat landelike veiligheid raak, het Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: Landelike Veiligheid in samewerking met MacRobert Prokureurs ’n regsinligtingsdokument saamgestel.

Die dokument gee pertinente antwoorde vir vrae soos: “Wat is ’n burgerlike arrestasie en wat mag ek doen en wat nie?”; “Wat is my regte wanneer ek self in hegtenis geneem word?” en “Wat sê die wet oor plaaswagte en ook oor selfverdediging?”

Burgerlike arrestasie
Hoe gemaak indien ’n produsent ’n misdadiger op heterdaad betrap en wetstoepassers nie onmiddellik beskikbaar is nie? Ingevolge Artikel 42 van die Strafproseswet mag enige private persoon ’n arre­stasie sonder ’n lasbrief uitvoer indien daardie persoon:

  • teenwoordig was toe die verdagte besig was om ’n misdaad te pleeg of probeer het om ’n misdaad te pleeg; of
  • ’n redelike vermoede gehad het dat ’n misdaad, soos na verwys in skedule 1 van die Strafproseswet, gepleeg is. Dit sluit onder meer in:
    • huisbraak;
    • betreding (maar nie onwettige bewoning nie);
    • kwaadwillige beskadiging van eiendom;
    • roof;
    • verkragting;
    • moord;
    • brandstigting;
    • aanranding met die doel om ernstig te beseer; en
    • onsedelike aanranding.

    Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die gebruik van geweld om die verdagte te arresteer redelik en nodig moet wees. Dit mag nie uitermatig in die omstandighede wees nie en moet so ver moontlik vermy of beperk word. Produsente word aangeraai om hulp te ontbied, al is dit dan net om ’n ooggetuie te hê wat sal kan bevestig dat die arrestasie regmatig uitgevoer is.

    Onregmatige arrestasie
    Hoe gemaak as jy onregmatig gearresteer word?

    ’n Arrestasie is onregmatig indien dit nie voldoen aan die regsvoorskrifte vir arrestasie nie, byvoorbeeld die volgende:

    • Die arresterende beampte het uitermatige dwang toegepas.
    • ’n Arresterende beampte het versuim om die aangeklaagde te verwittig van sy/haar regte terwyl hy/sy aangehou is.
    • Arrestasies wat uitgevoer word sonder ’n lasbrief of sonder ’n redelike vermoede dat die persoon ’n misdryf gepleeg het.

    Indien jy of ’n lid van jou gesin onregmatig gearresteer word, is dit raadsaam om die beampte se bevele uit te voer ongeag of die arrestasie onregmatig is. Moet dus nie die beampte se bevele on­redelik teëstaan nie. Onthou ook dat jy jou reg tot stilswye mag uitoefen omdat enigiets wat jy sê teen jou gebruik kan word in die hof. Dit kan in jou beste belang wees om inligting te voorsien wat enige vermoede van skuld kan uitskakel.

    Jy het die reg om ’n regsverteenwoordiger van jou keuse te skakel. Kontak jou regsverteenwoordiger so spoedig moontlik indien jy aangehou word en ingelig is oor die aanklagte teen jou.

    Onthou dat die rede vir jou arrestasie aan jou verduidelik moet word ten tye van jou arrestasie. Die arrestasie mag gebruik word as deel van die ondersoek ten einde die bewyse wat benodig word te verkry en mag uitgevoer word met die oog op ’n verdere ondersoek ten opsigte van die klagtes. Indien die doel van die arrestasie is om jou te straf, te verontrief of te berispe sonder dat die arresterende beampte enigsins van plan is om jou voor ’n hof te bring, is die arrestasie onregmatig.

    Jy is daarop geregtig om met jou gade of naasbestaandes (byvoorbeeld jou ouers), ’n geloofsberader van jou keuse, jou pro­kureur of ’n mediese praktisyn te kommunikeer en deur hulle besoek te word.

    Regsmiddele
    ’n Persoon wat onregmatig gearresteer is, mag ’n regspraktisyn nader om te bepaal of hy/sy moontlik kan eis vir vergoeding. Die volgende is belangrike inligting met betrekking tot die besonderhede van die arrestasie wat gebruik kan word om vergoeding te eis in die geval van ’n onregmatige arrestasie:

    • Die polisiebeampte se naam, kenteken-nommer en rang;
    • die datum en tyd van arrestasie;
    • enige getuies wat teenwoordig was; en
    • rekord van uitgawes wat aangegaan is as gevolg van die arre­stasie of aanhouding, met inbegrip van verlies aan inkomste en mediese uitgawes.

    Funksionering van ’n plaaswagvereniging
    ’n Plaaswagvereniging (PWV) is nie ’n geregistreerde entiteit met afsonderlike bevoegdhede, wetlike regte of aanspreeklikhede nie. Dit is ’n vrywillige struktuur waar die lede persoonlik aanspreeklikheid aanvaar vir hul optrede.

    Die reg en vermoë van ’n PWV om sy lede, hul gesinne en eiendom te beskerm is beperk ingevolge die bepalings van wetgewing wat te make het met onder andere burgerlike arrestasies, selfverdediging, die gebruik van geweld, ens.

    Dit is raadsaam dat die PWV geregistreer word by die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en erken word deur die plaaslike SAPD (stasiebevelvoerder). Lede van die PWV moet sorg dat geen wette oortree word tydens die uitvoering van hul pligte nie; dat hulle behoorlik geregistreer is (bv. PSIRA-registrasie of vuurwapenlisensies, indien van toepassing); en dat die doel en funksies van ’n PWV nie oorskry word deur ’n private weermag te skep nie (dit word verbied ingevolge Wet Nr. 27 van 2006).

    Selfverdediging en gebruik van geweld
    Die Suid-Afrikaanse reg maak voorsiening vir noodweer of selfverdediging en dit is belangrik dat produsente die beginsels en wetge­wing daaroor verstaan. Agri SA se regsinligtingsdokument lig die volgende belangrike punte uit:

    • Die reg tot geweldpleging om jou persoon of eiendom te verdedig word hoofsaaklik gereguleer deur die gemenereg.
    • Die reg op selfverdediging word gemeet aan die beginsel van proporsionaliteit – optrede ter selfverdediging mag nie meer aggressief wees as wat nodig is om ’n dreigende of voortgesette aanval teen jou af te weer nie.
    • Indien jy uitermatige geweld gebruik om jou persoon of eiendom te verdedig, kan dit ’n aanklag van aanranding of poging tot moord teen jou tot gevolg hê.
    • Om te kwalifiseer as selfverdediging en dus as ’n regmatige gebruik van geweld, moet jy die volgende kan toon:
      • Dat die aanval reeds ’n aanvang geneem het of op hande was; geloods was teen ’n wettig erkende belang (d.w.s. jou persoon, eiendom of ’n onskuldige derde party); en onwettig was.
      • Dat jou optrede nodig was om die aanval te verhoed of te stuit; ’n redelike mate van geweld behels het; en teen die aanvaller gemik was.
    • Dit is onwettig om die lewe van ’n aanvaller te neem tensy dit absoluut noodsaaklik was om jouself of ’n onskuldige derde party teen ernstige besering te beskerm.
    • Dit is onwettig om dodelike geweld te gebruik om jou eiendom te beskerm (dit wil sê wanneer die bedreiging nie ’n gevaar vir die persoon inhou nie).

    Agri SA is van mening dat die kwesbaarheid van plaasgemeenskappe en landelike gemeenskappe nie net ’n produsentekwessie is nie, maar ’n gemeenskapskwessie en ’n nasionale brandpunt. Dit is dus belangrik om boerderygemeenskappe te ondersteun in hul waaksaamheid om hulle en hul werkers te beskerm en om ingelig te bly oor wetgewing en regulasies betreffende veiligheid.

    Alhoewel alle moontlike sorg gedra is om die korrektheid van hierdie inligting te verseker, waarborg Agri SA nie die korrektheid van die inligting nie, en word Agri SA hiermee gevrywaar van enige aanspreeklikheid rakende die inligting hierin vervat. Die inligting moet nie as regsadvies beskou word nie, maar verskaf slegs breë riglyne wat as agtergrond gebruik kan word.