Verbeter jou GRAANBEMARKING hierdie seisoen: Deel 2

Gepubliseer: 15 April 2024

168
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom,
Graan SA,
heleen@grainsa.co.za

18/03/2024

Risikobestuur kan ’n uitdagende taak wees, veral wanneer markte oorheers word deur wisselvalligheid en gepaardgaande onsekerheid. In die vorige graanmark-oorsig (SA Graan/Grain Maart 2024) is markinstrumente in diepte bespreek, maar hoe kan hierdie instrumente in ’n bemarkingstrategie toegepas word om nie net ’n produsent se risiko te versag nie, maar ook winste te optimaliseer?

Hierdie artikel is die tweede in ’n reeks en beoog om bemarkingsplanne in meer detail te bespreek. Die volgende (en laaste) artikel in die reeks vat al die artikels saam en bespreek hoe die markinstrumente deur strategieë in verskillende bemarkingsplanne gebruik kan word.

Die mees algemene benadering in graanbemarking is die “wag-en-sien”-metodiek – daar lê altyd ’n hoër prys in die toekoms. Met hierdie metodiek is produsente geneig om graan op te berg totdat kontantvloeibenodighede hulle forseer om te verkoop, gewoonlik nie teen die mees optimale prys nie.

Bemarking vereis streng selfdissipline. Gierigheid veroorsaak dat pryse nie vasgemaak word in ’n stygende mark nie – daar word altyd vir ’n hoër prys gewag. Wanneer die mark van ’n hoogtepunt af begin daal, verander die gierigheid na hoop dat pryse weer gaan herstel. Graan word gewoonlik ook nie in hierdie fase vasgemaak nie. Hoop verander naderhand in vrees as pryse verder val, waar graan steeds nie vasgemaak word nie omdat daar steeds die hoop bestaan dat pryse gaan herstel. As pryse steeds bly val, ontstaan paniek en in hierdie fase word graan gewoonlik verkoop. Die vrees-gierigheid-siklus word in Grafiek 1 uitgebeeld. Soos vroeër ge­noem is selfdissipline ’n uiters belang­rike komponent van bemarking – dit is belangrik om altyd te vra wanneer die soeke na winsgewendheid in geldgie­righeid verander.

Grafiek 1: Die vrees-gierigheid-siklus.

Bemarkingsplan
’n Bemarkingsplan se doel is om ten minste produksiekoste te dek asook om vir ’n produsent die geteikende opbrengs op kapitale belegging te gee. Dit dien as ’n uitleg van die seisoen se bemarkingstrategie. Een van die moeilikste bestuursbesluite wat ’n graanprodusent moet neem, is wanneer en hoe graan bemark word. ’n Verandering in fundamentele prysrigting kan enige tyd plaasvind, dus is dit belangrik dat ’n bemarkingsplan gereeld hersien word en ’n produsent altyd bemagtig moet wees met deursigtige inligting.

1. Versamel noodsaaklike inligting
Dit mag dalk eenvoudig klink, maar dit is van kritieke belang dat ’n bemarkingsplan basiese inligting bevat. Dit behels inligting soos watter gewas bemark word, hoeveel hektaar geplant moet word om gelyk te breek, die verwagte produksie wat bemark moet word, die periode waarin die graan bemark word en hoeveel tonne na die seisoen gestoor kan word.

Hierdie afdeling sluit ook ’n rekord van die beoogde tydsberekening van bemar­kingstrategieë in. Die bemarkingstrategie moet besluit watter gedeelte van die graan voor strooptyd, tydens strooptyd en na strooptyd vasgemaak moet word. Dié eerste stap vorm die basis van die bemarkingsplan.

2. Prysdoelwitte
’n Verkoper se prysdoelwit word deur verskeie faktore beïnvloed, onder meer die volgende:

  • Risiko-aptyt: Individue het verskillende perspektiewe oor die hantering en aanvaarding van prysrisiko. Sienings verskil tussen dié wat verkies om prysrisiko te vermy en diegene wat eerder hoërisiko-graanbemarkingstegnieke wil gebruik wat tot hoër verkooppryse kan lei. Daar word algemeen geglo dat die meeste mense risiko-sku is en verkies om risiko te vermy indien die kans gegun word.
  • Stoorkapasiteit: Die beskikbaarheid van kommersiële berging óf berging op die plaas kan ’n aansienlike verskil maak aan ’n produsent se nastroopbemarkingstrategie. Indien fisiese berging na stroop nie ’n opsie is nie, kan call-opsies (’n kontrak tussen ’n verkoper en koper om ’n futures-kontrak teen ’n vasgestelde prys te koop) as alternatief oorweeg word. Die stoorkoste en rente het ook ’n effek op die insluiting van fisiese stoor van graan na stroop.
  • Finansiële omstandighede: ’n Plaas se finansiële nettowaardestaat, inkomsteverhoudings (soos byvoorbeeld skuld-tot-bate-verhoudings), die plaas se gelykbreek-graanpryse asook kontantvloeibenodighede is van die primêre finansiële analise-instrumente wat produsente ondersteun om bemarkingsplanne saam te stel. Huishoudelike uitgawes, vaste koste, belastingverpligtinge en produksiekoste is faktore wat in ag geneem moet word in die prysdoelwitte van die bemarkingsplan.

3. Markpryse, vooruitsigte en prystendensverwagtinge
Dit is altyd goed om verskeie bronne van inligting te raadpleeg wanneer vooruitsigte vir graanpryse bepaal word. Graanpryse word beïnvloed deur verskeie interafhanklike faktore, soos plaaslike en internasionale vraag en aanbod; wissel­koerse; basisse en die makro- ekonomiese omgewing. Dit is belangrik om die vrystel­lingsdatums van belangrike verslae in ag te neem, veral verslae wat vraag en aanbod verklap. Tabel 1 bevat belangrike datums vir graanbemarking in 2024.

4. Bemarkingstrategieë
Markinstrumente soos termynkontrakte, basisse, opsies en die kontantmark kan in verskeie kombinasies gebruik word om ’n produsent se risiko te versprei en so ook die prysdoelwitte van die bemarkingsplan te bekom. ’n Algemene strategie wat gevolg word, is om risiko te versprei en nie “alle eiers in een mandjie” te plaas nie. Deur die loop van ’n jaar verskil ’n onderneming se finansiële behoeftes en strategieë kan daarby aanpas. Die eerste artikel in hierdie reeks het die verskillende markinstrumente verduidelik, terwyl die volgende artikel dieper in die verskillende strategieë gaan delf.

5. Gebeurlikheidsplanne
Die doel van hierdie afdeling is om terugval- of reaktiewe gebeurlikheidsplanne in geval van onverwagte termynkontrakte of basisneigings, wat die oorspronklike bemarkingsplan omver gooi, te voorkom. Dit beklemtoon ook die belangrikheid van deurlopende monitering van die prestasie van die bemarkingsplan.

6. Evalueer die prestasie van die bemarkingsplan
Die prestasie van die bemarkingsplan is ’n voortdurende, periodieke proses wat moet plaasvind deur die lewe van die plan, veral wanneer dit voltooi is. Die vasstel van spesifieke datums is bedoel om verkopers aan te moedig om tydige hersiening van hul bemarkingsplanne te doen en sodoende dinamiese be­sluitneming te bevorder, eerder as ’n eenmalige oefening van hersiening.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.