March 2016

image

As vetkerse verlep

Beste Grootneef,

Die droogte en hitte maak vanjaar van mens en dier ‘n olyfboom. Jy moet diep delf om te oorleef.

Selfs die vetkerse staan en verlep. Toe ek vanmiddag by die huis instap, staan die kerse halflyf gebuig in hul blakers. Die versengende hitte het ook die voorhuis ingedring. Dis warm. En dis droog.

Die natuur kreun onder die wind, wat vragte sand opjaag. Tussen die windvlae loop die stofduiwels en warrel oor die vlaktes, net om later oor die klipplate stoom te verloor en daarna stof en mielieblare uit hul greep te strooi. Elke dag ‘n stof-tsunami uit die weste.

Die naggeluide van die Vrystaat klink ook anders. Met die dam en spruit wat opgedroog het, het die paddakoor verdwyn.

Die beeste staan vroeg-môre met hul koppe omlaag, want die veld is kaal en leeg. Ons saag van die populiere se takke vir groenvoer. Die beeste kom al van ver af aangedraf as hul die saag hoor. Turksvyblare help ook om die beeste nou deur te sien.

Oupa se mense het vertel van 1933 se droogte. Ons sal ons kinders kan vertel van 2016 se groot droogte.

Ou Neef, die skrif is aan die muur – daar gaan nie vanjaar genoeg mielies in die Suidland wees nie. Die wind was te warm en die reën te skaars. Die voorraad mielies wat in die suiers lê, sal nie hou tot volgende seisoen nie.

Buurman sê die groot moeilikheid is om die mielies van die hawens tot in die Vrystaat te kry. ‘n Stoet lorries sal in gelid moet val om die mielies van die kus tot in die binneland te skuif. Ou Neef, hier kom ‘n grote. Om mielies in die wêreldmark te koop, met ‘n skip tot in ‘n hawe te kry, af te laai in ‘n hawe se suier, weer te laai in ‘n lorrie en aan te ry tot in die stad, gaan ‘n man op ‘n perd vat! Die mielie-treine loop mos nie meer nie.

Dalk net dink die Goewerment se mense dié jaar anders oor boere. Want ‘n sakkie meel en ‘n broodjie gaan ‘n ander prys dra as twaalf maande gelede, toe daar ‘n oes op die lande was.

Ou Neef, die dorpenaars kry net so swaar. In sommige distrikte het die watertafel gesak en kom die pompe nie meer die water by nie. Dit bly egter ‘n skande as dit ‘n mensgemaakte droogte is – net omdat pompe nie gediens word nie!

Buurman het met die laaste buitjie reën wat verby is, so 10 ha pampoene geplant. As ‘n opvolgreëntjie kan val, word hy nog vanjaar die distrik se pampoenbaron! Maar Buurman sê ons moet moed hou. Al lees die temperatuur 40°C plus VAT. Elke dag is ‘n dag nader aan die uitkoms.

Sterkte op die Oosgrens!

Kleinneef

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.

Publication:

Section: Features