Vergeet die bure – bly eerder in pas met winsgewende praktyke

Gepubliseer: 6 Februarie 2024

379
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

“Keeping up with the Joneses.” Hierdie spreekwoord word dikwels ligtelik gebruik, maar die beginsel­ om tred te hou met jou buurman kan ’n groot impak op landbou hê. Nuwe tegnologie is orals be­skikbaar en produsente trap dikwels in die slagyster omdat hulle probeer byhou by die spreekwoordelike Joneses.

Hierdie beginsel is soms van toepassing wanneer jong produsente saam met hul pa’s begin boer. Alles moet verander word en nuwe tegnologie moet in die besigheid ingekoop word. Dit kom egter teen ’n prys. Die gevaar is dat hierdie prys te hoog vir die boerdery kan raak en na ’n paar jaar is die vet in die vuur.

Nuwe tegnologie is uiters belangrik in enige besigheid – mits dit optimaal aangewend word. Dit help nie jy het ’n groot, nuwe trekker met alles wat oop- en toemaak en dan word die tegnologie nie aangewend nie. Of jy koop ’n klomp trekkers met sein, maar jy gebruik nie die outostuur-funksie van die trekkers nie. Indien ’n trekker net 30 cm oorvleuel, beteken dit dat jy ná drie bane ’n meter dubbel gewerk het. As die trekker ’n 3 m-implement trek, beteken dit 10% se ekstra koste. Groot trekkers met groot implemente oorvleuel maklik 50 cm op ’n 5 m-implement.

Die beskikbaarheid van fondse lei dikwels tot die verkeerde besluite. Geld in die sak brand en kort voor lank is daar ’n gat in die sak. In tye waar bruto marges (bruto inkomste minus die direk toedeelbare koste) van ’n vertakking – hetsy graan of lewende hawe – onder druk is, word goed berekende en deurdagte besluite geneem. Die teenoorgestelde is egter ook waar. In tye waar bruto marges uiters goed vertoon, kan die motivering en die deurslaggewende punte vir besluite wat tot verbetering in die finansiële status van die onderneming bydra, nie meer daar wees nie. Almal weet van iemand waar ’n nuwe bakkie langs die land staan terwyl die man sukkel om sy ou planter aan die loop te hou.

Nuwe tegnologie is uiters belangrik in enige besigheid – mits dit optimaal aangewend word.
Graan SA-fotokompetisie – Tiani Claassen, Mei 2021

Dink “lang termyn”
Die kuns lê daarin om beskikbare fondse so aan te wend dat die opbrengs op totale belegging verbeter. Dit is makliker gesê as gedaan. Beleggings in landbou dwing produsente tot langtermyndenke. Vandag se besluit gaan dalk vyf jaar later nog ’n impak op die besigheid hê. Skuld is nie noodwendig verkeerd nie, maar dit verhoog die besigheid se risiko. Foute kan tot moeilikheid lei – die besigheid moet dus finansieel fiks wees.

Om ’n besigheid finansieel fiks te kry, is ’n pro­ses wat met ’n langtermyndoelwit begin. Maak nou planne om hierdie doelwit te bereik. Begin om die huidige stand van sake te bepaal en ontleed hoekom die boerdery is waar dit is. Kyk veral na die netto waarde in die balansstaat. Beplan wat gedoen moet word om die langtermyndoelwit of -doelwitte te bereik. Deur ’n pad uit te werk wat opgebou word met korttermyndoelwitte en dié dan om te skakel in kontantvloei, is vir seker die weg om te gaan.

Hier volg ’n paar wenke om jou boerdery finansieel fikser te maak:

Weet waarheen is die boerdery op pad
Stel ’n klompie langtermyndoelwitte, byvoorbeeld om oor vyf jaar 2 000 ha kontant te plant of om elke jaar jou netto waarde met 15% te verhoog. Of om jaarliks koste met 5% te verlaag en produksie met 5% te verhoog en jou graanprys met verskansing te verbeter. Die plek om die impak te meet is die netto waarde in die balansstaat. Hierdie stap beteken dat addisionele vrae oor die langtermyndoelwitte en die uitvoering van laasgenoemde gevra moet word. In tye waar dit goed gaan en winste beskikbaar is, sal van die belang­rikste vrae wees:

  • Hoe gaan die boerdery se balansstaat verbeter word?
  • Watter stappe kan gedoen word om die wins­gewendheid of inkomste van die vertakking nog verder te verbeter?

Om die balansstaat te versterk, moet gekyk word na die boerdery se netto waarde en die eiekapitaalverhouding se verandering oor tyd. Onthou net kontant én kontantvloei is koning, maar veral die kontantvloei moet beskerm word. Hou egter altyd in gedagte dat as die winste van ’n besigheid verhoog, sal die belasting ook verhoog. Hou in goeie jare die oog op winsgewendheid – maak beleggings om die winsgewendheid van toekomstige produksies te verhoog. Dit beteken belê in nuwe tegnologie en gebruik dit.

Produktiewe bates
In voorspoedige jare kan produsente dit oorweeg om hul beleg­gings in produktiewe bates uit te brei. Produktiewe bates word gesien as byvoorbeeld grond of lewende hawe. Bepaal net die verwagte rendement op die belegging en maak so ’n besluit. Dit help nie om laepotensiaalgrond bo produktiewe waarde te koop nie. In goeie jare maak dit ook sin om onproduktiewe bates te verkoop, lenings vinniger af te betaal en om dalk insette vinniger aan te koop.

Winsgewendheid kan slegs verhoog word deur koste te besnoei en dieselfde inkomste te realiseer of deur met dieselfde uitgawes inkomste te verhoog. In beide gevalle beteken dit effektiwiteit en doeltreffendheid moet verbeter. Om deur middel van effektiwiteit en doeltreffendheid ’n 5%-daling in insette te bewerkstellig en terselfdertyd die produksies ook te verhoog, beteken uiteindelik ’n reuseverhoging in winste en ’n verhoging in die balansstaat se netto waarde. Graanprysbestuur is ’n deur­slaggewende aspek waar heelwat produsente groot teëspoed kry. Belê tyd en geld in hierdie aspek. ’n R100-prysdaling het ’n massiewe impak op winsgewendheid. Gebruik die markte om pryse te verskans en bly altyd ’n minimum prys verdedig.

Langtermynbenadering
Dit is egter belangrik om te besef dat die aanpassings nie oornag gaan plaasvind nie. Dit is ’n langtermynbenadering tot opbrengs op kapitaal in besigheidsbe­sluite wat geneem moet word. Die konsep word in Tabel 1 geïllustreer, waar die winsgewendheid van droëlandmielies uitgebeeld word.

As jy hierdie veranderinge teweeg kan bring, gaan dit ’n groot impak op jou finansiële fiksheid hê. ’n Daling van 5% in koste, ’n 5%-verhoging in opbrengste en ’n 5%-verhoging in prys veroorsaak ’n 55%-verhoging in die vertakking se marge.

Om te besluit waarop om te fokus om effektiwiteit en doeltreffendheid te verhoog is egter nie so eenvoudig nie. Met presisie­boerdery moet ’n drastiese verlaging in koste nie verwag word nie, alhoewel opbrengste en inkomste op die ou end beduidend beter sal wees. Uit berekeninge wat gedoen is, word tot ’n 35%-verhoging in winste aangetoon. Fokus veral op die planter se vermoë om die saad op die regte diepte en met die regte spasiëring te plaas. Hier is maklik ’n verskil van ’n ton per hektaar sonder enige ekstra insette.

Dit is egter so dat ’n produsent homself bankrot kan spaar. As die onkruid oorneem of daar te min bemestingstowwe in die grond is, daal die opbrengste vinnig. In Tabel 2 word die effek van opbrengsverlaging teenoor kosteverlaging aangetoon.

Kosteverlaging kan die verkeerde uitwerking hê en sommer vinnig die marge met ’n derde verminder.

Dit maak sin om die korrekte pH in stand te hou en sodoende bemesting te verlaag. Om wins te verhoog vereis dikwels betekenisvolle aanpassings aan die produksiestelsel. Bewaringsbewerking of direkte plant is ’n heeltemal nuwe stelsel wat ten volle geïmplementeer moet word om winsgewendheid beduidend te verhoog.

Die verbreding van produksiekennisvlakke is altyd ’n besonder goeie belegging. Neem deel aan aktiewe studiegroepe en beproef nuwe tegnologie, maar meet altyd die verandering teen die rendement wat dit bring. Meet dit ook teen jou eie netto­waardeverandering en hoe dit jou raak.

Finansiële fiksheid gaan dus nie net oor die beter doen van sake nie, maar ook oor die kennis van wat om beter te doen. Spandeer tyd om te lees en verbeter so met kennis jou finansiële fiksheid.

Die “Keeping up with the Joneses”-beginsel fokus nie op die toekoms nie, maar die langtermynwinsmasjien fokus aktief op beter, goedkoper en meer effektiewe produksie.

Kontak Pietman Botha vir meer inligting by 082 759 2991.

In goeie jare kan produsente dit oorweeg om hul beleggings in produktiewe bates soos grond en lewende hawe uit te brei.
Graan SA-fotokompetisie – Tiani Claassen, April 2021