Wees altyd gereed met ’n plan

Gepubliseer: 13 Desember 2023

413

Die uitdagende 2022/2023-seisoen het nie vir Jaques Hattingh van CJ Hattingh Boerdery in die Bethlehem-distrik daarvan weerhou om ’n nuwe sojaboonopbrengsrekord aan te teken nie.

Dit was die eerste jaar wat Hattingh aan die Groei vir Goud-opbrengskompetisie deelgeneem het en hy meen dat dit definitief die moeite werd was: “Die opbrengs­kompetisie bied aan produsente die geleentheid om inligting oor praktyke met mekaar te deel en so kan ek bepaal in watter afdelings van my produksiepraktyke ek nog kan verbeter. Om suksesvol te bly boer is dit nodig om inligting met ander produsente uit te ruil.”

Hattingh het op die plaas Leeuwkop buite Bethlehem grootgeword en boer sedert 2018 op sy eie daar en op ander grond in die omgewing. Hoewel die plase naby aan mekaar is, bied dit tog ’n mate van risikoverspreiding omdat reënval en klimaat van plaas tot plaas verskil, verduidelik hy.

So behaal hy die rekord
Hattingh het die 2023-kompetisierekord vir sojaboonproduksie in die oostelike Vrystaat behaal met die Agricol-Don Mario-variëteit DM 5351RSF wat ’n opbrengs van 6,620 t/ha gelewer het. Omdat die grond van die blok wat hy ingeskryf het, verskil van ander dele op die plaas, was sy bewerking effens anders. “Omdat die land uit swaarder kleigrond bestaan, het ek nie ’n diep tandbewerking daar gedoen nie. Verder het ek al my normale bestuurspraktyke gevolg.”

Hoewel hy ander variëteite van ander maatskappye ook plant, verteenwoordig hierdie variëteit die grootste gedeelte van die aanplantings. Dit was die derde jaar wat hy hierdie spesifieke kultivar geplant het. Die plantpopulasie was met plant 230 000 plante/ha teen ’n rywydte van 760 mm. Hy het vroeg in Oktober geplant en in Mei-maand gestroop.

Hattingh vertel dat hy hierdie seisoen die plantestand van die sojabone nog verder verminder het. Hy het ook ’n paar proefblokke aangeplant waarin hy verskillende plantpopulasies met mekaar wil vergelyk om dan die koste en opbrengste teen mekaar op te weeg om by daardie optimum winsgrens uit te kom. Hy plant ’n kort groeier, maar wissel die plantdatums tussen vroeg, middel en laat in die seisoen om risiko te versprei.

Wanneer hy nuwe of ander kultivars oorweeg, sal hy eers kyk wat in die omgewing geproduseer word. “Ek kyk na produkte wat aangepas is vir ons omgewing en plant dan eers my eie proefgedeelte daarvan aan om te bepaal of dit onder my omstandighede gaan presteer. Ek kyk veral na groeiperiode, algemene aanpasbaarheid en opbrengs.”

Hattingh verbou ook mielies en volg ’n wisselboustelsel waar hy die helfte van die lande jaarliks met sojabone en die ander helfte met mielies plant. In die opvolgende jaar ruil hy die gewasse. Hy plant Roundup Ready-sojabone en konvensionele mielies. “Die sojabone pas goed in die siklus in omdat dit ’n groot rol speel in die manier waarop ek onkruid bestuur. Omdat ek die lande gedurende hierdie gedeelte van die wisselbousiklus skoon van onkruid hou, skep dit nie probleme in die opvolgende seisoen wanneer ek mielies daar aanplant nie. Ek dien ’n vooropkomson­kruiddoder toe met plant en sal dan 60 dae later opvolg met ’n bespuiting.”

Die bespuitings sluit insek- en swamdoders in, indien nodig gekombineer met blaarvoedings. “Hoewel Sclerotinia van tyd tot tyd in ons omgewing voorkom, het ons gelukkig nie groot las van insekte en swamsiektes nie.”

Vir Hattingh is sy hele gewasproduksie geskoei op kennis van sy grond. Hy verduidelik dat hy al sy lande behoorlik laat ontleed het volgens ’n 1 ha-ruitstelsel en presies weet hoe die samestelling van elke land waarop hy mielies of sojabone verbou, lyk. “Ek gebruik hierdie ontledingskaarte saam met die Fieldview-kaarte en stroper­data en bepaal so my plantdigthede in ooreenstemming met my bemestingsprogram.”

Volgens Hattingh is dit belangrik om te weet wat bo-op die grond gebeur, maar hy beklemtoon dat dit eweneens noodsaaklik is om te weet wat onder die grond aangaan. Hier­die kennis stel hom in staat om elke gedeelte presies te bestuur. “As ek weet watter gedeeltes meer sanderig is, weet ek hoe om die plantestand daar aan te pas, maar ek weet ook dat hoewel die grondpotensiaal laer is, die kunsmis dalk makliker daar kan loog.”

Hy sê hy pas presisieboerderybeginsels toe omdat dit beteken dat hy elke gedeelte optimaal kan bestuur en benut en sy insetkoste beter kan bestuur. Omdat hy sy kalk en kunsmis variërend toedien, is daar geen onnodige vermorsing nie.

Benewens variërende kunsmistoediening en plantestand, sal hy in die toekoms die kultivars wil afwissel volgens die opbrengs­potensiaal van gedeeltes in die land en die bepaalde eienskappe van die kultivars.

Hattingh volg konvensionele grondbewerkings omdat hy meen dat dit goed inpas in sy onkruid- en grondgesondheidbestuursprogramme. Hy doen wanneer nodig ’n diep tandbewerking waarna hy sal dis en krap vir goeie saadbedvoorbereiding. Hy gebruik op die swaarder kleigrond ’n Equalizer-planter.

Sy boerderyfilosofie is om voorbereid te wees op elke gebeurlikheid, maar ook aanpasbaar. Die nat toestande gedurende planttyd in die 2022/2023-seisoen het ’n paar kopsere veroorsaak, vertel hy. Dit het met tye so gereën dat dit eenvoudig te nat was om in die lande te kom om te plant. “Ons het reeds al die bemesting en on­kruiddoders gespuit, maar kon nie in van die lande inkom om klaar te plant nie.”

Hierdie situasie het hom genoop om planne te beraam. Hy het ’n vlieënier en vliegtuig gehuur om die sojasaad uit die lug te strooi en het daarna met ligter trekkers in die land gegaan om die saad toe te krap. Hier het hy ’n opbrengs van 2,7 t/ha behaal. “Hoewel dit nie die normale gebruik is nie, het ek ten minste ’n opbrengs behaal en kon ek die uitgawes wat ek reeds aangegaan het, saam met die koste van die vliegtuig dek. Dit was egter uitsonderlike omstandighede.”

Planne wat opsies buite die normale insluit, getuig van sy boerderybenadering. “’n Mens moet elke dag en elke situasie hanteer soos wat dit hom voordoen. Ek beplan, maar staan dikwels op met ’n situasie wat heeltemal anders is as wat ek dit die vorige dag uitgewerk het. Dan moet ’n mens die vermoë hê om aan te pas en te improviseer. Buitengewone planne is soms nodig. As jy nie aanpasbaar is nie, sal jy nie die boerdery-omgewing kan oorleef nie.”

Pierre Hattingh, Jaques se pa, tussen die sojabone op die plaas buite Bethlehem.

Beplan vir die toekoms
In die toekoms wil hy alles wat hy nou doen nog meer presies doen. Hy glo elke aspek waarop hy kan verbeter, kan help dat hy die volgende seisoen weer kan boer.

Hattingh meen die mentor wat hy in sy vroeë jare gehad het, het die noodsaaklikheid van behoorlike beplanning by hom vasgelê. “Hy het my nie net geleer dat beplanning belangrik is nie, maar ook dat ervaring ’n groot rol speel in probleemoplossing. By hom het ek geleer dat jy elke seisoen as mens moet groei en iets moet leer. Daardie ervaring neem jy elke dag saam met jou die toekoms in.”

Sy raad aan ander jong produsente is dus om te beplan en uit foute en suksesse te leer. Hy meen verder dit is belangrik om realisties te wees. “Alles gaan nie altyd goed nie. ’n Mens maak foute. Dit is egter noodsaaklik om jou nie blind te staar teen alles wat verkeerd kan loop nie. Daar sal altyd slegte dae wees en jy moet leer om dit te hanteer. Deursettingsvermoë is nodig om elke seisoen deur te sien.”

Laastens wens hy dat hy voor elke seisoen al die verskillende verteenwoordigers van insetverskaffers om een tafel kan laat sit sodat hulle saam kan beplan. “Ek sal daarvan hou as my saad-, kuns­mis- en chemiese verskaffers se verteenwoordigers saam met my en ’n grondkundige om ’n tafel kan sit sodat ons saam kan beplan. ’n Mens kry so dikwels weersprekende inligting en raad van verteenwoordigers. Ek dink dit kan uitstekend werk om jaarliks so ’n sessie te hou om alle onduidelikhede daar om die tafel uit te klaar en op te los.”