Inset-oorsig

1080

June 2015

image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Deursigtigheid in die landbouchemiese bedryf moet verbeter

Graan- en oliesadeprodusente raak toenemend bekommerd oor tendense in landbouchemiese pryse. Tydens Graan SA se Kongres in Maart 2015 het die lede van Graan SA, veral koringprodusente uit die Wes-Kaap, beklemtoon dat die koste van landbou-chemikalieë handuit ruk.

Klagtes soos “Die ketting in die chemiese mark is te lank, die sny van die koek wat die chemiese agent vat, is te groot en daar is geen deursigtigheid in die chemiese bedryf wat prysvorming en kompetisie betref nie!” is geopper.

Landbou-chemikalieë as produksie-inset maak tans tussen 10% en 12% van ‘n graan- en oliesadeprodusent se lopende produksiekoste uit. In die Wes-Kaap kan chemikalieë tussen 16% en 20% van ‘n koringprodusent se lopende koste uitmaak.

Teen hierdie agtergrond poog Graan SA om die volgende te doen om seker te maak sy lede betaal die regte pryse vir landbouchemikalieë:


Monitor internasionale pryse

Omdat Suid-Afrika basies 100% van sy chemiese behoeftes moet invoer, bepaal internasionale pryse en die wisselkoers, tendense in die plaaslike mark. Hier moniteer Graan SA internasionale pryse op ‘n maandelikse basis en gee ten densverwagtinge deur aan sy lede (sien Tabel 1 en Tabel 2).

Lengte van die ketting

Lede van Graan SA voel dat die hoeveelheid rolspelers in die ketting, vanaf die vervaardiger totdat die produk op die plaas kom, te veel is. Skakels in die ketting wat nie vir die produsent waarde toevoeg nie, behoort uitgesny te word. Graan SA is in deurlopende gesprek met die vervaardigers om hierdie probleem aan te spreek.

Deursigtigheid van plaaslike mark

Die landbouchemiese mark in Suid-Afrika is alles behalwe deursigtig. Hierdeur word nie gesê dat die kompetisie in sekere dele baie stram is nie, maar toegang tot die pryslyste of prysaanduidings van maatskappye is feitlik onmoontlik om te bekom.

Graan SA poog hier om op ‘n gereelde basis produsentepryse op ver skillende lokaliteite van chemikalieë in te samel om sodoende meer deursigtigheid aan die plaaslike mark te gee. Daar is ook gesprekke met vervaardigers om “voorgestelde verkoopspryse” aan die mark beskikbaar te maak.

Ons lede is deel van ‘n globale graan- en oliesadebedryf en as hulle nie die regte pryse vir hulle landbou-chemikalieë betaal nie, kan hulle nie kompeteer nie. Deur meer deursigtigheid in hierdie mark te bewerkstellig, kan lede van Graan SA sekerder wees dat hulle die regte prys vir chemikalieë betaal.

Internasionale landbouchemiese pryse

Tabel 1 toon internasionale onkruiddoderpryse (in ‘n Chinese hawe) per aktiewe bestanddeel oor ‘n jaartydperk aan. Die eerste gedeelte van die tabel is die pryse in dollarterme, terwyl die tweede gedeelte dieselfde pryse in randwaarde aandui.

Uit die tabel is dit duidelik dat internasionale pryse, behalwe vir Trifluralin, afgeneem het. Dit is veral glifosaatpryse wat skerp afgeneem het. As ‘n mens egter na die tweede gedeelte van die tabel kyk, kan gesien word watter groot impak ‘n verswakking in die waarde van die rand kan hê. Dit veroorsaak dat internasionale prysdalings nie in die plaaslike mark deurgegee kan word nie en in die geval van Trifluralin, vererger dit die styging wat reeds internasionaal plaasgevind het.

Tabel 2 toon internasionale insekdoderpryse per aktiewe bestanddeel oor ‘n jaartydperk aan. Die eerste gedeelte van die tabel is die pryse in dollarterme, terwyl die tweede gedeelte dieselfde pryse aandui in randwaarde.

Uit die tabel is dit duidelik dat veral pryse van Imidacloprid skerp gedaal het. Die impak van die verswakking in die waarde van die rand is weer eens duidelik sigbaar in die tweede gedeelte van die tabel.

Met hierdie tipe inligting probeer ons die chemiese mark meer deursigtig maak vir Graan SA-lede. Dit sal interessant wees om by ons lede te hoor wat hulle tans vir landbouchemiese middels betaal in vergelyking met verlede jaar dieselfde tyd, gegewe die bostaande tendens.

Vir verdere inligting en kommentaar, stuur gerus ‘n e-pos na corne@grainsa.co.za.

Publication: June 2015

Section: On farm level