May 2015

— Amos Agrimin

 

HENNIE VILJOEN, Amos Agrimin

Baie geluk! Die feit dat jy hierdie reeks artikels oor arbeidsverhoudinge begin lees het, is reeds ‘n bewys dat jy die ingesteldheid van ‘n wenner het. Wenners is mense wat altyd bereid is om te leer en hard te werk om hul prestasie voortdurend te verbeter – al is dit later net met breukdele van ‘n sekonde (in die geval van swemmers of atlete).

Die produsent wat daarop ingestel is om sy kennis en vaardighede ten opsigte van arbeid en arbeidsverhoudinge te verbeter, is beslis op die wenpad.

Ek is bevoorreg om ‘n paar van die top-produsente in Suid-Afrika persoonlik te ken. Wat my telkens opval is hulle, en in vele gevalle ook hulle vrouens, se ingesteldheid teenoor hulle personeel. By geleentheid het ek my verstom toe ek sien hoe ‘n groot produsent (letterlik en figuurlik) op die gras buite die boerdery se kantore op sy hurke gaan sit en ‘n gesprek met een van die werkers se kinders (nog ‘n kleuter) aanknoop.

Personeel wat op daardie plaas gekom en gegaan het, het die boodskap baie duidelik gekry: Hulle word as mense gesien en selfs hulle kinders is vir die produsent van daardie plaas belangrik.

So terloops: Is dit nie ook dié eienskap van oudpresident Nelson Mandela wat ons almal verstom het nie? Al was sy program hoe vol, het hy altyd tyd vir mense gehad, want mense was vir hom belangrik. Dit het hom in staat gestel om selfs van sy vyande vriende te maak.

Om tyd, geld en energie te spandeer om jou vaardighede ten opsigte van verhoudinge te verbeter, is ‘n uitstekende belegging waarop jy ‘n belowende oes kan verwag. Al kom dit vir sommige van ons meer natuurlik as vir ander om met mense te werk, kan ons almal leer hoe om ons arbeidsverhoudinge te verbeter.

Arbeidsverhoudinge in die landbousektor is onder geweldige druk. Dít het ek opnuut besef toe ek eendag na die dienskontrak van ‘n plaaswerker in my hand kyk – dit was dikker as enige ander dienskontrak wat ek nog ooit in my hand gehad het.

Dit het egter nie in die eerste plek iets met ras en kleur te doen nie. Ek onthou nog ‘n werkswinkel vir jong produsente wat Amos Agrimin (‘n landboubediening) ongeveer tien jaar gelede in die Oos-Vrystaat gehou het. 50% van die produsente was Afrikaans- en 50% Sothosprekend. Op ‘n vraag oor wat die grootste uitdaging is waarmee hulle worstel (geld en kontantvloei uitgesluit), het beide die Afrikaans- en die Sothosprekende produsente geantwoord: “Arbeidsverhoudinge”.

Wie dus arbeidsprobleme nét oor die boeg van ras en kleur wil gooi, maak ‘n baie groot fout…Só eenvoudig is dit nie. Om met mense te werk, in watter verband ook al, vra bepaalde kennis en vaardighede, net soos enige ander werk op die plaas. Blanke produsente wat blankes aanstel en Sotho produsente wat Sotho’s aanstel, ontdek gou dat dit nie die einde van hulle moeilikheid beteken nie.

Probleme in die arbeidsmark het diep wortels wat dikwels niks met arbeid self te doen het nie. Kom ek noem ‘n enkele voorbeeld. Meer as 80% van alle geweldsmisdade in Suid-Afrika vind binne-in gesinne plaas. Die konflik is dus nie in die werksplek nie, nie eers net tussen mense van dieselfde etniese groep nie, dit is tussen mense van dieselfde familie.

In sy skitterende boek, The world needs a father, haal mnr Cassie Carstens aan die begin van hoofstuk twee vir Stephen Baskerville van die Howard Universiteit aan. Baskerville sê: “Virtually every major social pathology has been linked to fatherlessness. Violent crime, drug and alcohol abuse, teen pregnancy, suicide – all correlate more strongly to fatherlessness than to any other single factor.

Ek wil graag byvoeg: Ook baie van die probleme in die werksplek kan herlei word na afwesige pa’s. Volgens Carstens toon die laaste sensus in Suid-Afrika dat slegs 33% van kinders opgroei in huise waar hulle biologiese pa’s teenwoordig is. Twee uit elke drie kinders word dus sonder hulle biologiese pa’s groot. Vaderloosheid lei tot baie en diep emosionele wonde by mense, ongeag of hulle later werkgewers of werknemers is. Hierdie emosionele wonde beïnvloed mense se interaksie met mekaar – ook in die werksplek.

Dit is egter nie net vaderloosheid nie: Feitlik elke sosiale, maatskaplike, opvoedkundige en ekonomiese probleem in die land het ‘n enorme invloed op arbeidsverhoudinge in die landbou. Die oorgrote meerderheid van mense (beide werkgewers en werknemers) het nog nooit ‘n enkele boek oor die huwelik of oor kinderopvoeding gelees nie.

Min studierigtings aan universiteite en kolleges sluit modules oor arbeid en arbeidsverhoudinge in. Ook op skool geniet die saak bloedweinig aandag. Dit lei tot groot onkunde en ‘n gebrek aan interpersoonlike vaardighede by die meeste mense.

Die onvermoë om konstruktief aan goeie verhoudinge te bou, word vererger deur ‘n klomp uiteenlopende sake: Morele verval in die land, die gaping tussen ryk en arm, die afstand tussen woon- en werksplek (trekarbeid – wat weer tot vaderloosheid lei), politieke gebeure in ons eie land asook ons buurlande, die seisoenale aard van baie werksgeleenthede in die landbou, verwagtinge en/of vrese ten opsigte van grondhervorming, werkloosheid (ook onder gegradueerde jongmense), die afwesigheid van ‘n Bybelse werksetiek, eise om ‘n minimum loon van R12 000 per maand in die mynsektor wat baie aandag in die media geniet, en so kan ‘n mens aanhou.

imageSelfs in 2 Timoteus 3:1 – 5a teken Paulus vir ons ‘n prentjie wat beslis nie bevorderlik is vir goeie arbeidsverhoudinge nie. Hy skryf onder leiding van die Gees van die Here: “Dit moet jy weet: In die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie; hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie.” (1983 Vertaling van die Afrikaanse Bybel)

Daar is dus geen quick fix vir die uitdagings waarvoor arbeid en arbeidsverhoudinge ons stel nie. Slegs die produsent wat daarop ingestel is om sy kennis en vaardighede ten opsigte van arbeid en arbeidsverhoudinge te verbeter, is op die wenpad. Sonder hierdie kennis en vaardighede gaan die gety vroeër of later teen jou draai.

“Meet om te weet” is ‘n bestuurspraktyk wat ek 20 jaar gelede by mnr Tod Pienaar, Merino-produsent van Colesberg, geleer het. Dit is heelaas nie net reën, geld, produksieresultate en ander tegniese gegewens wat gemeet moet word om goeie bestuursbesluite te neem nie. Ook arbeid en arbeidsverhoudinge moet deurlopend geëvalueer en verbeter word.

In jou strewe om hierdie kennis te kry en hierdie vaardighede te bemeester, is Amos Agrimin die regte vennoot waarna jy soek. Gedurende die jaarlikse 40-Dae Gebedsfokus op die Landbou (1 September tot 10 Oktober) gaan ons DV hierdie jaar op arbeid en arbeidsverhoudinge fokus.

Soos in die verlede sal daar ‘n gebedsgids met 40 dagstukkies deur Amos uitgegee word. Dit sal ook gratis van Amos se webtuiste afgelaai kan word (besoek www.amosagrimin.net). ‘n Reeks DVD’s oor die onderwerp word ook in die vooruitsig gestel.

Vir meer inligting, kontak Hennie Viljoen by 083 233 4433 of hennie.viljoen@amosafrica.net.

Deel jou praktyke met medeprodusente
Graan SA-lede is welkom om wenke vir goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge op die plaas of praktyke
wat hulle op die plaas toepas en wat vir hulle werk, met hulle medeprodusente te deel.
Stuur ‘n e-pos na 
estiedv@mweb.co.za en ons sal jou kontak.

Publication: May 2015

Section: Relevant