Hoe akkuraat was die Oesskattingskomitee?

964

March 2015

— 13 Februarie 2015

PETRU FOURIE, ekonoom, Bedryfsdienste, Graan SA

Die 2013/2014-produksieseisoen, veral in die westelike dele van Suid-Afrika, sal as een van die beste in terme van landboutoestande onthou word, als te danke aan reën wat op net die regte tyd voorgekom het. In hierdie artikel word ‘n oorsig van die verloop van die oesskatting vir die 2013/2014-produksieseisoen (pas afgelope seisoen) gegee. Daar word gepoog om te kyk hoe die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) sedert die bekendmaking van die eerste produksieskatting (Februarie 2014) tot die finale mielie-oes (Februarie 2015) verander en afgewyk het. Die bekendmaking van akkurate en tydige inligting is van kritieke belang aangesien dit ‘n direkte impak op prysvorming in die vrye mark het.

Verloop van die 2013/2014-produksieseisoen

Die seisoen het afgeskop met grondvogvlakke wat feitlik uitgeput was in die westelike dele van die land. Hierdie situasie het egter handomkeer verander as gevolg van tydige reën wat die grondvog beduidend aangevul het. In die meeste van Suid-Afrika se produksiegebiede het voldoende opvolgreën geval wat tot rekordsomergraan- en oliesaadopbrengste bygedra het.

imageimageimageOnderskatting van die witmielie-oes

In Grafiek 1 kan die maandelikse produksieskattingsyfers vir witmielies, vanaf die eerste skatting (Februarie) tot die finale skatting (September), soos bekend gemaak deur die NOK, gesien word. Die rooi lyn dui die gerealiseerde witmielie-oessyfer wat Februarie 2015 bekend gemaak is aan en die verskil tussen dié syfer en die maandelikse skattings (geel) is duidelik sigbaar. Die toename in produksieskattings danksy die gunstige produksietoestande kan vanaf Februarie tot Mei duidelik waargeneem word, waarna die skattings vanaf Junie tot September feitlik dieselfde as die finale skattings wat Februarie vrygetel is, was.

Oorskatting van die geelmielie-oes

In Grafiek 2 kan die maandelikse produksieskattingsyfers vir geelmielies, vanaf die eerste skatting tot die finale skatting, gesien word. Oor die algemeen is goeie geelmielie-opbrengste behaal en die toename in die geelmielieproduksieskattingsyfers is ook duidelik sigbaar in die grafiek. Soos die gunstige landboutoestande in die oostelike dele van die land voortgeduur het, het die verwagte geelmielie-opbrengste ook toegeneem. Die NOK se eerste skatting in Februarie vir geelmielies was 5,854 miljoen ton teenoor die werklike grootte van die finale oes wat 6,540 miljoen was. Die NOK het die geelmielie-oes gedurende die laaste twee skattings (Augustus en September) met ongeveer 69 700 ton oorskat.

Norm waarbinne die NOK moet skat

In Suid-Afrika het die graanindustrie ‘n norm/grens vir die Oesskattingskomitee gestel waarbinne die oesskattings moet wees, naamlik om vanaf die eerste tot die vierde skatting (Februarie tot Mei) nie meer as 8% vanaf die finale oes af te wyk en om vanaf die vyfde tot die agtste skatting (Junie tot September) nie meer as 5% vanaf die finale oes af te wyk nie. Grafiek 3 dui die boonste en onderste aanvaarbare grens waarbinne die Oesskattingskomitee moet wees, aan. Indien die skatting (syfer) op ‘n groter afwyking as die toelaatbare norm/grens dui, kan daar met retrospek na ‘n oor- of onderskatting verwys word. In die grafiek kan gesien word dat die afgelope seisoen se skattings afsonderlik vir wit- en geelmielies, vanaf Februarie tot en met April buite die gestelde norm/grens geval het. Met dié dat die wit- en geelmielie-oes albei gedurende Februarie tot en met April onderskat is, het dit meegebring dat die totale mielie-oes ook gedurende daardie periode onderskat is, waarna dit vanaf die vierde skatting (Mei) tot die finale skatting, baie mooi tussen die voorgestelde norm/grense beweeg het.

Slotsom

Dit is vir Graan SA, saam met die Oesskattingskakelkomitee (CELC), van kardinale belang dat geloofwaardige skattings vrygestel moet word. Die bepaling van korrekte gemiddelde opbrengste is een van die NOK se moeilikste take, aangesien klimaat so ‘n groot rol speel. Uitgesluit die ongewenste afwykings wat afsonderlik vir wit- en geelmielies gedurende Februarie tot April voorgekom het, was die res van die skatting baie goed binne die norm/grens.

Publication: March 2015

Section: On farm level