Graanmark-oorsig

857

March 2015

9 Februarie 2015

imageWESSEL LEMMER, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Die impak van die midsomerdroogte op die vraag en aanbod van mielies

Tydens die skryf van die artikel (gedurende die week van 9 Februarie) het hittetoestande in die mielieproduksiegebied tot groot onsekerheid oor toekomstige opbrengste gelei. Die oorgrote meerderheid van die droëlandmielieverbouing het in die reproduktiewe stadium verkeer.

In die aanvang van die reproduktiewe stadium is die pluime oop, stuifmeelstorting vind plaas en die baard is in hierdie stadium ontvanklik vir stuifmeel sodat bestuiwing kan plaasvind. Gedurende die hoë hittetoestande wat met die droë produksietoestande gepaard gaan, kan die stuifmeel doodbrand.

Die ongunstige produksietoestande lei ook daartoe dat die stuifmeelperiode waarin bestuiwing plaasvind, verkort. Plante wat uiterste vog- en hittestremming in sekere produksiegebiede ondergaan het, wend ‘n desperate poging aan om reproduktief te wees en kom vroeër in saad.

In hierdie artikel word drie scenario’s gegee. Die aannames wat gebruik word, word deeglik bespreek. ‘n Beraming en aannames moes vir elke provinsie gemaak word omdat die eerste produksieskatting tydens die skryf van die artikel uitstaande was.

Hoe lyk die verwagte reënval vir die drie scenario’s?

Vir scenario 1, met ‘n 40%-waarskynlikheid van voorkoms, is ‘n nasionale mielie-opbrengs van 4 ton/ha moontlik indien minder as 20 mm reën en voortdurende hoë hitte en droë toestande met kol-kol reën voorkom.

Vir scenario 2, met ‘n 50%-waarskynlikheid, kan ‘n nasionale opbrengs van 4,5 ton/ha realiseer indien die reënval tot einde Februarie tussen 20 mm en 30 mm beloop en koeler weersomstandighede tot einde Februarie kan voorkom.

Vir scenario 3 is daar ‘n 10%-waarskynlikheid dat ‘n opbrengs van 4,8 ton/ha kan realiseer. Vir dié scenario is wydverspreide reënval van meer as 30 mm reën en koeler weerstoestande tot einde Februarie nodig.

Hoe is die opbrengste vir elke scenario beraam?

Die opbrengste van die nuwe produksieseisoen is in samewerking met kundiges met die vorige produksieseisoen, in ag genome reënvalvooruitsigte, vergelyk (sien Tabel 1).

image

Sodoende is aannames rakende moontlike opbrengste vir die verskillende provinsies en scenario’s bepaal. Die eerste produksieskatting en hersiene oppervlakteverslag vir mielies verskyn eers teen 26 Februarie vanjaar.

Die bemarkingsjaar strek vanaf Maart tot Februarie

Let daarop dat die bemarkingsjaar vir die vraag en aanbod-scenario’s vanaf Maart tot Februarie strek. Gevolglik word die vroeë mielieleweringsyfers vir Maart en April nie in aanmerking geneem nie.

Die aanname word gemaak dat die vroeë leweringsyfer van besproeiingsmielies voor einde Februarie klein genoeg is om nie ‘n groot impak op prysbewegings te hê nie. In ons vraag en aanbod-tabelle wat vanaf Mei tot April gestrek het, is daar voorsiening gemaak vir ‘n pyplynbehoefte van 1,5 maande voordat produsentelewerings in Mei skerp begin toeneem.

Omdat die nuwe vraag en aanbod-periode met twee maande vervroeg is, beteken dit nie dat die periode waaroor die pyplynbehoefte strek, dieselfde bly nie. Let op dat die pyplynbehoefte nou groter moet wees en vir 3,5 maande voorsiening maak.

Wat hou elke scenario vir die vraag en aanbod van mielies in?

Drie moontlike scenario’s word vervolgens bespreek. Sien ook Tabelle 2en 4.

image

image

image

Scenario 1
Dié scenario het ‘n 40%-waarskynlikheid om te realiseer. Hiervolgens is ‘n nasionale gemiddelde mielie-opbrengs van 4 ton/ha ‘n moontlikheid. ‘n Totale produksie van ongeveer 10,5 miljoen ton is moontlik. Hierdie scenario kan afspeel indien die mielieproduksiegebiede se reënval tot einde Februarie onder gemiddeld bly en onvoldoende is. Weervooruitsigte verbeter nie en wydverspreide reënval is tot einde Februarie uiters gebrekkig. Mielies is nie vir diepsee-uit voerdoeleindes beskikbaar nie.

Daar word 510 000 ton na Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland (die BLNS-lande) uitgevoer. Mielie-invoere van ongeveer 800 000 ton kan gedurende die laaste ses maande van die bemarkingsjaar nodig wees.

Scenario 2
Dié scenario het ‘n 50%-waarskynlikheid om te realiseer. Hiervolgens is ‘n nasionale gemiddelde mielie-opbrengs (besproeiingsgebiede in ag genome) van 4,5 ton/ha ‘n moontlikheid. ‘n Totale produksie van nagenoeg 11,9 miljoen ton is moontlik. Hierdie scenario is ‘n moontlikheid indien weervooruitsigte sou verbeter en wydverspreide reën en koeler produksietoestande in die volgende week vanaf 9 Februarie sou voorkom. In hierdie scenario daal die beskikbare hoeveelheid mielies vir diepsee-uit voerdoeleindes (soos in scenario 3) met byna 50% tot 650 000 ton.

Scenario 3
Dié scenario het ‘n 10%-waarskynlikheid om te realiseer. Hiervolgens is ‘n nasionale gemiddelde opbrengs van 4,8 ton/ha ‘n moontlikheid. ‘n Totale produksie van ongeveer 12,7 miljoen ton is dan moontlik. Die invoer van mielies is nie nodig nie en mielies beskikbaar vir diepsee-uitvoerdoeleindes beloop ongeveer 1,4 miljoen ton.

Hierdie scenario kan slegs afspeel indien die mielieproduksiegebiede in die week van 9 Februarie 2015 wydverspreide en voldoende reën ontvang en die reënval met gunstige produksietoestande tot einde Februarie opgevolg word. Weervooruitsigte moet egter drasties verbeter en reënval moet bo-normaal vir die mielieproduksiegebiede tot einde Februarie wees.

Gevolgtrekking

Die artikel is op 9 Februarie 2015 geskryf en die drie verskillende scenario’s is op hierdie stadium opgestel. Sonder voldoende reënval, word voorsien dat oesskade teen ‘n toenemende tempo aangeteken kan word. Ons vertrou dat weervooruitsigte betyds sal verbeter. Let daarop dat die scenario’s en waarskynlikhede op ‘n weeklikse basis aangepas moet word. Teen die tyd dat jy hierdie artikel in die SA Graan/Grain lees, is die inligting reeds verouderd. Graan SA-lede word genooi om die kantoor te skakel vir ‘n opgedateerde vraag en aanbod-scenario. Graan SA het dit ten doel om Graan SA-lede so goed as moontlik met objektiewe markinligting te bedien. Dit behoort ons lede in staat te stel om inligting in die markplek te kan evalueer om sodoende ingeligte besluite te kan neem.

Publication: March 2015

Section: On farm level