Theodor van Rensburg het vanjaar met die louere weggestap in die Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie in die afdeling vir sojaboonverbouing in die Noordwes onder droëlandtoestande.
Hy het die afdeling gewen deur sowat 500 kg/ha meer te stroop as Henro Pieterse van Biesiesvlei wat die tweede plek in dié afdeling beklee het. Van Rensburg het die kultivar DM 61i63 RSF IPRO van Agricol geplant en ’n opbrengs van 5,37 t/ha realiseer.
Dit is die eerste keer dat hy aan die kompetisie deelneem, op aandrang van sy Agricol-saadverteenwoordiger. “Ek het nie vooraf besluit om in te skryf nie. Die besluit is eers geneem aan die einde van die seisoen terwyl ek in die stroper gesit het. Die gedeelte wat ons ingeskryf het, het dus geen spesiale aandag of ander behandeling as die res van ons sojaboonaanplantings gekry nie.”

Van Rensburg boer saam met sy pa, Dail, en broer, Rensburg, op die plaas Kalkpan in die Delareyville-distrik. Dit is nou sy derde jaar voltyds terug op die plaas en hy meen dit is ’n groot voorreg om deel te kan wees van hulle familiebesigheid, Rensbou-boerdery. “Ek en my broer is die sesde geslag wat in die omgewing boer en die derde geslag op die plaas waarop ons nou boer.”
Dit is die eerste jaar wat hy DM 61i63 RSF IPRO plant. Hy het 40 ha daarvan geplant uit ’n totaal van 360 ha se sojaboonaanplantings. “Ek plant verskillende kultivars van verskillende maatskappye en kies die variëteite gebaseer op hul opbrengs.”
Hy plant sy eie proewe op die plaas waarin hy produkte van verskillende maatskappye teen mekaar opweeg. “Dit help om hierdie proewe op ons grond onder ons omstandighede te doen. ’n Mens kry dan ’n prentjie wat nader aan die werklikheid is.”
Op Kalkpan word daar sojabone, mielies, sonneblom, voersorghum en grondbone geplant. Van Rensburg is verantwoordelik vir die graangewasafdeling terwyl sy pa en broer verantwoordelikheid neem vir die beesafdeling wat bestaan uit Santa Gertrudis-, Beefmaster- en Ankole-stoeterye.
Volgens Van Rensburg pas hulle wisselbou toe wat hulle in staat stel om gewassiektes beter te bestuur. Die meeste lande word met mielies geplant en die res word dan gelykop verdeel tussen die ander gewasse. Die aanplantings word jaarliks roteer.

Die mielies word aangewend vir beesvoer. “Ons voer ons eie speenkalwers in ons eie voerkraal en sommige van die lande word ook na stroop vir twee tot drie maande bewei. Ons vee bewei die plantreste soos nodig en dit help dat ons in daardie tyd van die jaar nie die weiding oorbewei nie.”
Wat die afgelope seisoen se weer betref, het hulle die plantseisoen begin nadat hulle in November ’n klein bui reën gehad het. Hulle kon slegs 10% van die beoogde aanplantings doen. Die volgende neerslag was op 21 Desember, waarna hulle die res in die grond kon kry. Januarie was ’n droë maand, maar gelukkig het dit middel Februarie weer gereën met goeie opvolgreën daarna. Die afgelope seisoen het hulle 600 mm reën gehad teenoor die langtermyn- gemiddelde neerslag van 450 mm.
As gevolg van die reën is die boontjies later as wat beplan is op 22 Desember geplant. Wat grondtemperature betref, verduidelik hy: “By ons is die grond darem al maande lank warm genoeg voor dit reën.”
Hy sê die afgelope seisoen was uitdagend omdat die reën eers laat gekom het. Later in die seisoen was die insek- en blaarsiektedruk weer hoog as gevolg van die goeie opvolgreën.
“Graanpryse het sake verder bemoeilik.” Vir hom is die bepaling van graanpryse ’n groot probleem. “Hulle skep ’n wanindruk met Safex wat pryse betref. Op die ou einde kry ons tot R800/ton minder as wat die prys is na al die aftrekkings waaronder ’n differensiaal, al is die koper slegs 30 km van die silo af.”
Hulle plant al die gewasse teen ’n rywydte van 91 cm. Hy het die sojabone geplant teen ’n plantpopulasie van 240 000 plante/ha en uiteindelik ’n plantestand van 230 000 plante/ha gerealiseer. Hy het met ’n SL8/914 Equalizer-agtryplanter geplant en op 7 Mei met ’n Case 7150 toegerus met ’n 30 voet-Macdon Flax Draper gestroop.
Van Rensburg verduidelik dat hy nie presisietoerusting gebruik nie en dat hulle die land se behoefte bepaal en dan dieselfde kunsmistoedienings oor die hele land doen. Hulle doen skoffelbewerkings en wanneer dit nodig is, sal hulle die grond diep losmaak.
Onkruidbeheer op die sojabone is gebaseer op ’n vooropkomsbespuiting opgevolg met ’n na-opkomsbespuiting met Roundup voor blom. “Opslagmielies in die sojaboonlande is sommige seisoene ’n probleem, maar ons pas dan die program aan wanneer dit nodig is.”

Omdat DM 61i63 RSF IPRO Intacta-tegnologie bevat, maak dit die beheer van bolwurms baie makliker. “Ek het die sojabone wat nie die tegnologie bevat nie, een keer vir wurms gespuit. Al die sojabone is een keer vir roes en Alternaria gespuit. Die sojabone het ’n enkele Rhizobium-bakterie-enting wat nodig is vir suksesvolle biologiese stikstofbinding ontvang.”
Wat winsgewendheid betref, meen hy dit is belangrik om die gewasse te gee wat hulle benodig en ook plaagbeheer te doen wanneer nodig. “Ek beperk die meeste onnodige insette deur net te spuit wanneer dit nodig is en wat nodig is deur die seisoen.”
Sedert hy terug is op die plaas, probeer hy waar hy kan klein verstellings doen om van die praktyke te verfyn sodat hulle meer presies en effektief kan funksioneer. “Ons probeer om beter by ons omstandighede aan te pas, veral wat bewerkings en chemiese toedienings betref. Ek plant, stroop en strooi self kunsmis want dit help dat ek gou kan sien as daar iets is wat reggestel, aangepas of verander moet word. Só mis ek nie foute nie.”
Hy erken dat daar steeds heelwat aspekte is waarop hulle kan verbeter. “Ons sal graag vinniger wil plant sodat ons binne ons kort optimale plantvenster die saad in die grond kan kry.”
Vir Van Rensburg is sy pa sy mentor. “Hy het deur die jare al soveel dinge op die plaas reggekry en soveel dinge ontdek. Ek leer meer by hom as wat ek in my BSc Agric-kursus geleer het. Ek neem altyd sy raad en woorde ter harte, veral die gesegde dat ’n mens se planne nooit moet opraak nie.
“My raad aan ander jong boere sou wees dat hulle nie bang moet wees om ’n plan te verander nie. ’n Mens moet aanpasbaar wees.”
Van Rensburg baseer sy boerderybestuur op die volgende filosofie: “Doen alles wat jy kan om optimaal om te sien na die stuk van die Here se skepping waarmee jy geseën is. Die res beteken niks as ’n mens dit nie doen vir God nie.”
Met verwysing na die groter landbouprentjie, meen hy insetverskaffers moet aandag gee aan die geweldig hoë pryse wat produsente vir insette en toerusting moet betaal. “Verskaffers moet besef dat as produsente uitboer, gaan hulle nie meer kliënte hê om by hulle te koop nie.”
Verder sal dit baie gemoedsrus verskaf as daar meer aandag aan landelike veiligheid gegee kan word.
Wat die Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie betref, meen hy dat hy nie vanjaar iets nuuts geleer het nie omdat hy eers aan die einde van die seisoen besluit het om in te skryf. Hy glo egter dat hy in die komende seisoen meer sal leer wanneer hy probeer om hierdie goeie opbrengs te repliseer.


















