March 2015

ELBÉ HUGO, LNR-Instituut vir Graangewasse

imageimageimageDie term saadbank beskryf die versameling van alle onkruidsade wat bo-op en binne-in die grondprofiel versprei is. Dit kan vergelyk word met ‘n buis grond waarin die sade vertikaal en horisontaal versprei is.

Hierdie saadbank is dus saamgestel uit sade wat onlangs vrygestel is (vars saad) en ook sade wat lankal vrygestel is en in die grond kan oorleef (ouer sade). Elke land waarop gewasse verbou word, se saadbank sal verskil na aanleiding van die grondtipe, grondvog, omgewingstoestande en dominante onkruidspesies wat voorkom.

Die onkruidsaadbank gee ‘n belangrike aanduiding van die fisiese geskiedenis van onkruide wat oor die jare teenwoordig is op ‘n land asook waar produksiepraktyke noemenswaardige verskille in die getalle van onkruidspesies tot gevolg gehad het.

Horisontale verspreiding van onkruidsaad in die saadbank sal ooreenstem met die rigting waarin gewasse geplant word, terwyl vertikale verspreiding bepaal sal word deur die tipe grondbewerking.

In geploegde lande sal die meeste onkruidsaad in die boonste 10 cm tot 15 cm voorkom, terwyl saad in minimumbewerkte lande (byvoorbeeld rip-op-ry) in die eerste 5 cm tot 10 cm gekonsentreerd sal wees. In geenbewerkte lande word meeste van die onkruidsaad bo-op die grond of net onder die grondoppervlakte aangetref.

Die grootte van onkruidsaad speel ook ‘n rol in die ontkieming van kleinsadige onkruide, soos byvoorbeeld grasonkruide, withondebossie en gewone misbredie – wat vlak ontkiem. Grootsadige onkruide van byvoorbeeld oliebome en kankerroos, wat meer voedingsreserwes het, kan dus dieper in die grondprofiel ontkiem.

Onkruidsaad kan langer onder die grond (5 cm – 15 cm) oorleef (bewerkte lande), terwyl dit bo-op die grond (geenbewerkte lande) meer blootgestel is aan predasie deur voëls en knaagdiere asook omgewingstoestande.

Onkruidsaad se suksesvolle oorlewing en ontkieming in die grond hang grootliks af van die inherente saaddormansie (die vermoë van saad om ongunstige toestande te oorleef) van elke onkruidspesie, maar die hoeveelheid saad en omgewingsfaktore speel ook ‘n groot rol. Die oorgrote meerderheid van onkruidsaad se oorlewingstydperk wissel tussen twee en vier jaar, maar sommige grootsadige onkruidspesies kan tot tien jaar of langer oorleef.

Die hoofbron van onkruidsaad in ‘n saadbank is afkomstig van onkruidspesies wat beheer “ontsnap”, of waar oneffektiewe beheer verkry is en onkruide dan saad stort ná blom.

Onkruidsade kan egter ook versprei word deur wind, water, diere en besmette implemente tydens grondbewerking en die oesproses.

Meeste onkruide is bekend daarvoor dat dit hoë getalle saad vrystel, maar die ontkieming en opkoms van saad kan drasties afneem wanneer geen nuwe, vars saad in die saadbank gedeponeer word nie, dit wil sê wanneer onkruide effektief beheer word.

Om die storting van saad te verhoed, is die beste manier om onkruidgetalle effektief te beheer. In een studie is die saadbank van gras- en breëblaaronkruide tot 5% verlaag oor ‘n periode van vyf jaar, maar toe onkruide in die sesde jaar nie beheer is nie, het onkruidgetalle in die saadbank met 90% verhoog. Een jaar se oneffektiewe beheer van onkruide het dus verreikende gevolge op die onkruidgetalle in die saadbank. Soos reeds genoem, produseer onkruidspesies duisende of selfs miljoene sade per plant, byvoorbeeld een porseleinplant produseer 52 000 sade, withondebossie 72 000 sade per plant en gewone misbredie 117 000 sade per plant.

Grasspesies is ook bekend vir hulle saadproduksie en een kruisvingerplant produseer ongeveer 180 000 sade en een uintjieknol kan gedurende een jaar tot 1 900 plante met 7 000 knolle produseer. Hierdie prentjie skets dus die belangrikheid daarvan om onkruidsaadgetalle so ver as moontlik te verminder gedurende ‘n plantseisoen.

Die hele dinamika en bestuur van die onkruidsaadbank in die grond het ook omvattende gevolge wanneer onkruiddoderweerstandige onkruidspesies in ‘n land voorkom. Alle populasies van onkruidspesies het tot ‘n mindere of meerdere mate ‘n “natuurlike” weerstand teen sekere onkruiddoders.

Wanneer slegs een of twee plante in ‘n onkruidpopulasie beheer “ontsnap” en saad stort, gee dit oorsprong aan ‘n volgende, meer weerstandige populasie. Só kan ‘n klein weerstandige populasie dan binne die bestek van twee tot drie jaar ‘n hele land besmet.

imageDie goue reël van effektiewe vermindering van onkruidsaad in die saadbank is om te verhoed dat onkruide volwasse word, blom en saad stort. Effektiewe beheer deur middel van grondbewerking en/of onkruiddoders moet vroegtydig toegepas word om sodoende die onkruidsaadbank te bestuur en oor tyd te verminder.

Vir meer inligting, kontak Elbé Hugo by HugoE@arc.agric.zaof 018 299 6298.

Publication: March 2015

Section: On farm level