January 2015

JUSTIN HATTING, LNR-Kleingraaninstituut, ‘n Instituut van die Veldgewasdivisie

Hierdie artikel is die laaste in ‘n reeks van drie oor die natuurlike vyande van insekte, met spesifieke verwysing na kleingraanverbouing. In twee vorige uitgawes van SA Graan/Grain (September 2014 en Desember 2014) is onderskeidelik gekyk na patogene en predatore. In hierdie artikel word die derde groep natuurlike vyande behandel, naamlik parasitoïede.

‘n Meer bekende term is parasiet, maar tegnies is daar ‘n verskil tussen ‘n parasiet en ‘n parasitoïed. ‘n Parasiet word geklassifiseer as ‘n organisme wat ‘n ander lewende organisme (die gasheer) gebruik as bron van voedingstowwe; oorlewing van die gasheer is ook die behoud van die parasiet.

‘n Tipiese voorbeeld is ‘n bosluis wat afhanklik is van vars bloed wat deur byvoorbeeld ‘n bees (gasheer) verskaf word. Vrek die bees, is die oorlewing van die bosluis ook in gedrang. By ‘n parasitoïed, word die gasheer ook aanvanklik as lewende voedingsbron gebruik, maar uiteindelik word die gasheer gedood ten einde die lewensiklus van die parasitoïed te voltooi.

Daar is uitsonderings, maar vir die doel van hierdie artikel word hierdie breë definisies voorgehou. Vervolgens word na drie tipes parasitoïede gekyk: Wespe in die orde Hymenoptera, vlieë in die orde Diptera en insekpatogeniese nematodes in die orde Rhabditida.

Wespe

By kleingraanverbouing is dit veral plantluise wat deur wespe geparasiteer word. Hierdie wespe lyk soos klein perdebytjies met sommige spesies soos Trichogramma evanescens wat slegs 0,4 mm in lengte is.

Daar is twee families wat baie belangrik is by plantluisbeheer, naamlik die Braconidae (subfamilie: Aphidiinae) en Aphelinidae.

By die Aphidiinae is een van die mees algemene spesie die wesp, Aphidius colemani. Hierdie wesp se kop en middellyf (toraks) is donker van kleur met ‘n effe ligter geelbruin agterlyf (abdomen). Die pote is ook ligter van kleur en vertoon geelbruin onder ‘n vergrootglas of mikroskoop.

Die vlerkies is deurskynend en rus bo-op die insek se “rug” in die nievlieënde posisie. Die antenna is relatief lank en bestaan uit 15 – 17 segmente (Foto 1).

Die wesp se liggaamslengte is ongeveer 3 mm (antenna ingesluit). Hierdie volwasse stadium voed op blomnektar en/of heuningdou wat deur plantluise uitgeskei word. Afgesien van A. colemani is daar vier ander belangrike spesies (A. matricariaeA. camerunensisA. ervi en A. rapae) wat plantluise parasiteer en ‘n soortgelyke lewensiklus het.

Hierdie wespe het ‘n baie interessante genetiese meganisme (haplodiploïede partenogenese) wat toelaat dat wyfies sonder paring eiers kan lê wat tot die geboorte van (haploïede of “helfte die aantal chromosome”) manlike wespe lei.

Die vroulike nageslag word deur normale geslagtelike voortplanting voortgebring en het ‘n vol stel chromosome. Die volwasse wesp leef ongeveer twee tot drie weke. Die wyfie wesp gebruik haar lêboor om ‘n eier binne-in die plantluis te deponeer. By hierdie spesie word die lêboor tussen haar pote deur na vore gebring om met die plantluis kontak te maak en die eier te lê (Foto 2).

Sodra die eier uitbroei sal die wurmagtige larwe begin om die plantluis van binne af op te vreet. Aan die einde van die larwale stadium (ongeveer tien dae) vorm die larwe ‘n papie binne die dooie plantluis wat op hierdie stadium ‘n ligbruin, opgepofte voorkoms het. Hierdie opgepofte plantluis word ‘n “mummie” genoem (Foto 3). Sodra die wesp ten volle ontwikkel is (ná vier tot vyf dae), vreet dit ‘n deurtjie-opening aan die agterkant van die “mummie” waaruit die volwasse wesp dan ontsnap.

Nog ‘n belangrike wesp is Aphelinus asychis in die familie Aphelinidae. Hierdie wesp het ‘n soortgelyke lewensiklus as A. colemani, maar het ‘n ander gedrag ten opsigte van eierlegging en voeding.

Die volwasse wesp gebruik haar lêboor in trurat en kyk weg van die plantluis tydens eierlegging (Foto 4). Voeding word ook aangevul deur die plantluis te wond met haar lêboor, om te draai en op die proteïenryke vloeistof te voed wat uit die wond lek. Hierdie voedingsgedrag kan ook tot die dood van plantluise lei wat as predatoriese tipe gedrag bestempel kan word. Die “mummie” is swart van kleur en het nie ‘n opgepofte voorkoms nie.

image

Vlieë

Die Afrika bolwurm, Helicoverpa armigera, is ‘n belangrike plaag by kleingraanverbouing, veral in die Wes-Kaap en onder besproeiing.

By koring, vreet die jong, onvolwasse wurmstadium aanvanklik aan die blare van die plant en beweeg later tot in die aar waar dit direkte skade aan die pitte (saad) veroorsaak.

Hierdie wurms word soms deur vlieë in die familie Tachinidae geparasiteer. Die vlieë is min of meer dieselfde grootte as die gewone huisvlieg, maar het effe langer hare (stekels) op die borsstuk (toraks) en agterlyf. Die volwasse vlieg (Foto 5) voed op blomnektar en/of heuningdou, terwyl die larwe parasities optree. Die wyfie vlieg sal ná paring een of meer eiers direk op die wurm lê (Foto 6) waarna die eier uitbroei en die jong larwe (maaier) dan die wurm penetreer.

Die vlieglarwe vreet aan die wurm se ingewande totdat die wurm vrek. Die vlieglarwe verlaat dan die kadawer en vorm ‘n papie in die grond. Uit die papie verskyn die volwasse vlieg om die lewensiklus weer te herhaal.

image

Insekpatogeniese nematodes

Word die woord nematode of aalwurm genoem, sien produsente rooi vlae en dink onmiddellik aan ‘n wortelsiekte by plante. Daar is egter ‘n voordelige groep nematodes wat op insekte voed en ‘n belangrike rol speel in die onderdrukking van grondgedraagde insekplae.

Hierdie nematodes behoort hoofsaaklik aan twee families, Steinernematidae en Heterorhabditidae. ‘n Artikel “Nematodes harnessed for biological pest management” het in die September 2014-uitgawevan SA Graan/Grain [Vol16(9)] verskyn en produsente wordaangeraai om hierdie artikel te raadpleeg vir verdere inligting.

Net soos patogene (Deel 1) en predatore (Deel 2), is parasitoïede baiegevoelig vir chemiese plaagdoders en moet onnodige bespuitingsvermy word.

imageKennis oor hierdie natuurlike vyande se voorkoms, gedrag en algemene lewensiklus sal produsente in staat stel om ingeligte besluite te neem ten einde biologiese beheer te ondersteun. Hierdie gratis plaagbeheerdiens is reeds in die veld ontplooi; bestuurspraktyke moet net aangepas word om die impak daarvan te optimaliseer.

Vir verdere navrae, kontak dr Justin Hatting by die LNR-KGI by 058 307 3468 of hattingj@arc.agric.za.
Foto-erkennings

Foto 1: http://hydro-gardens.com/images/aphidius.jpg
Foto 2: http://www.biologischer-pflanzenschutz.org/nutzlinge/aphidius-colemani-schlupfwespe/
Foto 3: http://www.utcrops.com/cotton/cotton_insects/images/Aphid_parasitized_escape_hatch.jpg
Foto 4: http://www.dongbufarmceres.co.kr/main/Pds/Board/c_product01/%EC%82%AC%EB%B3%B8_%EC%A7%84%EB%94%94%EB%A9%B4%EC%B6%A9%EC%A2%80%EB%B2%8C.jpg
Foto 5: http://www.nbaii.res.in/Featured_insects/images/exorista-sorbillans2.jpg
Foto 6: Dr J.L. Hatting, LNR-Kleingraaninstituut

Publication: January 2015

Section: On farm level