Die nuwe Hilux is hier

Gerrie Smit, lid van die SA Gilde vir Motorjoernaliste
Gepubliseer: 28 Oktober 2020

1117

Die Toyota Hilux is sedert 1969 met ons en is sekerlik Suid-Afrika se suksesvolste voertuigverkoper nóg. As daar dus enige nuwe ontwikkelings op die Hilux gedoen word, moet produsente daarvan kennis neem.

Hilux se agste geslag wat in 2016 hier op die mark gekom het, is so pas aansienlik verbeter om by die jongste tegnologie- en stileringstendense aan te pas. Nie net is daar ’n aantal nuwe kenmerke wat hom van sy voorganger onderskei nie, maar in sekere gevalle is die modelbenamings ook verander. Die “S” en “SR” modelle – die werkesels in die reeks – behou hulle voorkoms, maar die SRX-benaming val weg en die Raider-naam word nou vir 2,4 ℓ- en 2,8 ℓ-modelle gebruik.

Beperkte modelle het voorheen die Legend-naam gedra wat ter vie­ring van die Hilux se 35ste, 40ste, 45ste en 50ste verjaardae bekendgestel is, maar die “Legend” word nou die benaming vir die vlagskipmodelle in die reeks. Die is juis die nuwe Legend wat met sy nuwe swart sierrooster die Hilux-reeks weer aanskoulik maak.

Al die modelle met die 2,8 GD-6-enjins is ook kragtiger gemaak. Hierdie enjin lewer nou 150 kW tussen 3 000 en 3 400 toere en het ’n wringkrag van 500 Nm tussen 1 600 en 2 800 toere.

Die lelike eendjie het nou paraat geword. Die Toyota Hilux Legend 2,8 GD-6 4×4 kos R765 600.

Die hele reeks kry ook nóg standaardtoerusting by. Die “S” kry voortaan ’n noodremsein en die “SR” word toegerus met ’n vastrap­ewenaar en kragstuur met veranderlike vloeibeheer. Die Raider spog verder met kant- en gordynlugsakke, ligdiodemisligte, ’n vergrote multi-inligtingskerm en parkeersensors. Dit alles is buiten bestaande kenmerke soos outomatiese klimaatbeheer, ’n trukamera, ’n verstelbare veelfunksiestuurwiel en 12 V- en 220 V-kragpunte. Die Legend beskik oor al hierdie kenmerke asook ’n elektrochromatiese truspieël. Vir die 4×4-dubbelkajuitmodelle is daar ’n leerbinneruim, sleutellose toegang met ’n aansitknoppie en ’n JBL-klankstelsel.

Toyota se “Safety Sense”-stelsel is nou ook standaardtoerus­ting vir die Legend 4×4-modelle. Dit sluit ’n voorbotswaarskuwing, ’n baanwisselwaarskuwing en aanpasbare spoedbeheer in.

Die hele Hilux-reeks word toegerus met Toyota Connect, wat internettoegang in die voertuig bied. Die nuwe Hilux-reeks is dus nie net ’n kosmetiese verbetering nie, maar ook ’n werklike produkverbetering.