Dié kultivars beïndruk in 2020

Jan Botes, Agricol
Gepubliseer: 5 Februarie 2021

990

Gunstige klimaatsomstandighede in 2020 het tot gevolg gehad dat baie goeie kanola-opbrengste in die Swartland, Overberg en Suid-Kaap voorgekom het.

Die afgelope seisoen se nasionale kanola­kultivaropbrengsdata van dié onderskeie streke is reeds beskikbaar. Diamond, Quartz en Alpha TT was weer eens van die toppresteerders in hul onderskeie groepe. Vanjaar is die Swartland en die Suid-Kaap se resultate saamgevoeg om ’n gemiddelde saadopbrengs per kultivar vir 2020 te verskaf.

Quartz se opbrengs van 3 683 kg/ha was die hoogste, gevolg deur Diamond met 3 572 kg/ha in die konvensionele groep. Alpha TT se totale opbrengs van 3 301 kg/ha was ook die hoogste in die triasientolerante groep. In die Swartland-area waar korter groeiers normaalweg beter doen, was Diamond eerste met 3 367 kg/ha teenoor die 3 318 kg/ha van Quartz wat tweede geëindig het in die konvensionele groep. Alpha TT het ook die hoogste opbrengs behaal in die triasientolerante groep.

Agricol deel graag die welslae soos behaal deur die volgende produsente:

Mosselbaai
Johann Muller van die plaas Patrysfontein het 140 ha Diamond aangeplant en ’n gemiddelde oes van 2,7 t/ha behaal. Sy gemiddelde reënval was 250 mm vir die groeiseisoen en die vorige gewas was koring. Johann is hoogs tevrede met Agricol se vlagskipkanolakultivar, Diamond, wat ’n kortgroeierkultivar is en ook spog met ’n hoë opbrengspotensiaal wat baie lekker oes.

Albertinia
Pieter de Jager van die plaas Karnemelksvlei het die afgelope seisoen 45 ha Diamond en 140 ha Alpha TT aangeplant. Diamond het ’n opbrengs van 2,7 t/ha en Alpha TT gemiddeld 2,05 t/ha behaal met 185 mm reën gedurende die groeiseisoen. Pieter is besonder ingenome met Alpha TT, aangesien daar nou ’n ander chemiegebruiks­opsie beskikbaar is om sy lande skoon te hou. Diamond word weer gebruik vir sy stabiele hoë opbrengste.

Caledon
Boetie Beukes van Bethel Trust Boerdery het 80 ha Quartz op die plaas Kralegin aangeplant. Boetie was aangenaam verras met ’n gemiddelde opbrengs van 3,1 t/ha met reënval van 250 mm vanaf April tot September. Volgens Boetie is Quartz ’n mediumgroeiseisoenlengtekultivar met baie biomassa in blare, goeie planthoogte en droogteverdraagsaamheid asook uitstekende opbrengspotensiaal.

Klipdale
Franco le Roux van Klipdale Boerdery het 249 ha Alpha TT en 71,6 ha Quartz aangeplant. Alpha TT het 2,85 t/ha opgelewer met 198 mm reën gedurende die groeiseisoen, terwyl Quartz ‘n opbrengs van 3,11 t/ha gerealiseer het met 248 mm reën. Franco sê onkruid­beheeropsies met atrasien speel ’n groot rol in die keuse van die kultivar en Quartz se staanvermoë en vinnige groeikragtigheid was opmerklik.

Swellendam
Pieter Streicher van die plaas Annex by Swellendam het 90 ha Diamond aangeplant met ’n opbrengs van 2,7 t/ha – met slegs 145 mm reën gedurende die groeiseisoen. Pieter sê: “Die grootste voordeel van Diamond is sy kort groeiperiode en die vermoë om in swakker omstandighede ook goed te presteer. Diamond kan jou risiko tot ’n mate beperk wanneer die reën afsny in Augustus en September. Diamond het minder vegetatiewe massa in vergelyking met baie ander kultivars en neem volgens my minder voeding­stowwe uit die grond uit.”

Malmesbury
Dolf Walters het die afgelope seisoen 20 ha Alpha TT en 40 ha Quartz aangeplant. Die vorige jaar was die kampe met koring geplant. Alpha TT het beïndruk met ’n opbrengs van 2,8 t/ha en Quartz met 3 t/ha. Volgens Dolf maak hy lande waarop Alpha TT geplant is maklik skoon met triasienbespuitings, veral lande met gras- en ramnasprobleme. Quartz, met sy uitstekende groeivermoë, het ook beïndruk met ’n goeie opbrengs.

Die belangrikheid van ’n effektiewe kanolapakket kan nie genoeg beklemtoon word nie – dit is die beginpunt vir stabiele kanola-opbrengste. Kontak jou naaste Agricol-agent vir ’n aanbeveling in jou area. Plant in die kol, plant Agricol.

Agricol se nuwe konvensionele kanolakultivar, Quartz, het die afgelope seisoen uitstekend presteer in die Swartland en die Suid-Kaap. Hier is ’n aanplanting in die Swellendam-area.