Die belangrikheid van markinligting: Wat leer ons daaruit?

2004

Deel 3: Geelmielies

Die eerste deel van hierdie reeks het in die Junie 2019-uitgawe van SA Graan/Grain verskyn en het gehandel oor die algemene belangrikheid en die gebruik van inligting in die Suid-Afrikaanse graan- en oliesaadmarkte. Deel 2 van die reeks, in die Julie 2019-uitgawe, het na witmielie-inligting verwys, terwyl hierdie artikel op geelmielie-inligting gaan fokus.

Aangesien die reeks grootliks fokus op die waarde van inligting in die graanmarkte, word daar veral gekyk na die inligting en wat daaruit geleer kan word. Ten einde hierdie doel te bereik, is dit belangrik om die tendense tussen die fundamentele markinligting en die pryse oor tyd met mekaar te vergelyk. Die vergelykings van die tendense word gedoen deur middel van seisoenale-indeksberekeninge.

Seisoenale indekse
Die seisoenale-indeksberekeninge word gebruik om die tendense van die verskillende aspekte, wat die prys- en voorraadvlakke insluit, ten toon te stel en vergelykings te doen. Die seisoenale indekse druk die maandelikse pryse en beskikbare voorraad uit as ’n persentasie van die  twaalfmaande- bewegende gemiddeld.

Hierdie is ’n goeie manier om vergelykings van die verskillende aspekte met mekaar te doen aangesien dit op dieselfde basis uitgedruk word. Die  indeksberekening van die data gee die leser ’n goeie oorsig oor wat wanneer in die mark verwag kan word. Dit kan ook gebruik word wanneer  bemarkingsbesluite geneem word.

Die seisoenale tendense
Grafiek 1 toon die seisoenale indeks van die daaglikse geelmielieprys, die Julie-termynkontrakprys en die beskikbare voorraadvlakke per maand, gebaseer op langtermyndata van 2014 tot 2024.

Grafiek 1: Seisoenale indekse van geelmieliepryse en beskikbare voorraad.

Beskikbare voorraadvlakke bly een van die belangrikste drywers van plaaslike pryse omdat dit die plaaslike aanbod weerspieël. Volgens Grafiek 1 is die daaglikse geelmielieprys ongeveer 3% bo die jaarlikse gemiddeld in Januarie en daal dit geleidelik tot ongeveer 4% onder die jaarlikse gemiddeld in Mei.

Sowel die daaglikse prys as die Julie-termynkontrakprys bly onder die jaarlikse gemiddeld tussen Maart en September, met die daaglikse prys wat gemiddeld 2 tot 5% laer is gedurende hierdie tydperk. Die Julie-termynkontrakprys verhandel ook konsekwent laer as die jaarlikse gemiddeld van Februarie tot Augustus, gemiddeld sowat 2 tot 4% onder die jaarlikse prys.

Wat voorraadvlakke betref, is beskikbare voorraad 54% onder die jaarlikse gemiddeld in April en styg dit tot 31% bo die gemiddeld in Julie, voordat dit verder toeneem tot 67% bo die gemiddeld in Augustus en 63% bo die gemiddeld in September. Die data toon duidelik dat pryse geneig is om laer te wees wanneer voorraadvlakke styg en dat pryse verbeter wanneer voorrade daal.

Pariteitspryse
Pariteitspryse bly ’n belangrike drywer van plaaslike markbewegings aangesien plaaslike mielies mededingend moet bly met internasionale markte. Grafiek 2 toon die seisoenale indekse van die Amerikaanse mielieprys, invoer- en uitvoerpariteitspryse asook die plaaslike daaglikse geelmielieprys, gebaseer op langtermyndata van 2014 tot 2024.

Grafiek 2: Seisoenale indekse van plaaslike geel mieliepryse, in- en uitvoerpariteitspryse asook die Amerikaanse mielieprys.

Die Amerikaanse prys, invoerpariteit en uitvoerpariteit volg mekaar nou omdat die pariteitswaardes direk vanaf die Amerikaanse prys bereken word, met die wisselkoers wat ’n groot bykomende rol speel.

Uit die data blyk dit dat die VSA-prys en pariteitspryse oor die algemeen 2 tot 6% onder die jaarlikse gemiddeld verhandel vanaf Julie tot September, terwyl hulle van Januarie tot Mei meestal 1 tot 7% bo die jaarlikse gemiddeld is.

Daarenteen is die plaaslike geelmielieprys aansienlik meer wisselvallig. Die plaaslike daaglikse prys is 3% bo die jaarlikse gemiddeld in Januarie maar daal tot 5% onder die gemiddeld in Julie, ’n verskil van agt persentasiepunte. Die Amerikaanse pryse beweeg in ’n veel smaller band van ongeveer 3% bo tot 2% onder die gemiddeld. Hierdie groter wisselvalligheid in die plaaslike mark hou grootliks verband met jaarlikse variasies in plaaslike produksie en die algemene vraag-en-aanbod-situasie.

Uitvoere
Suid-Afrika is meestal ’n netto uitvoerder van geelmielies. Grafiek 3 vergelyk plaaslike geelmieliepryse met die werklike fisiese uitvoervolumes per maand, gebaseer op langtermyndata van 2014 tot 2024.

Grafiek 3: Seisoenale indekse van geelmieliepryse asook geelmielie-uitvoere.

Grafiek 3 toon dat uitvoere ’n hoogtepunt bereik in Julie, wanneer uitvoervolumes 128% bo die jaarlikse gemiddeld is. Uitvoere is ook beduidend hoër tussen Junie en Augustus, met vlakke wat wissel van 89% tot 159% bo die jaarlikse gemiddeld.

Uitvoere is baie laer as gemiddeld tussen Maart en November, waar dit 37 tot 55% onder die jaarlikse gemiddeld is.

In geheel is uitvoere tussen Mei en November ongeveer 41% onder die jaarlikse gemiddeld, terwyl uitvoere van Junie tot Oktober gemiddeld ongeveer 37% bo die jaarlikse gemiddeld is.

Die data toon dat die grootste hoeveelheid uitvoere plaasvind wanneer plaaslike pryse onder die jaarlikse gemiddeld verhandel, terwyl uitvoere merkbaar afneem wanneer pryse bo die gemiddeld verhandel.

Ten slotte
Alhoewel die inligting in hierdie artikel slegs een aspek van dit waarvoor die inligting gebruik kan word toon, is dit belangrik om die waarde van die langtermyninligting te verstaan. Daar is verskeie soorte inligting wat deur verskillende instansies bymekaargemaak word. Hierdie inligting sluit daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse inligting in.

Die instandhouding van hierdie databasisse is noodsaaklik om die inligting aan die mark bekend te maak. Dit dra ook by tot die monitering van die werking van die mark, aangesien die verskillende fundamentele aspekte van die mark in ooreenstemming met die prysbewegings in die markte geanaliseer kan word.

In die volgende deel sal gekyk word na koringinligting.

Redakteursnota:
Die outeur het voorheen – toe hy in diens van Graan SA was – hierdie relevante reeks van ses aflewerings geskryf. Navrae kan gerig word aan Heleen Viljoen, landbou-ekonoom by Graan SA. Kontak haar per e-pos by heleen@grainsa.co.za of 086 004 7246. Volg ook Graan SA se gereelde markverslae op die organisasie se webtuiste by grainsa.co.za onder Graanekonomie.