Kultivarprestasie onder droëland in die somerreënvalgebied

1348

March 2015

— Oos-Vrystaat lewer goeie opbrengste

WILLEM KILIAN, ERNEST DUBE en DAWIE DU PLESSIS, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem

Koringverbouing onder droëland in die Vrystaat het dramaties afgeneem oor die afgelope jare en is tans die laagste in ‘n baie lang tyd. Die reënvalpatroon van die laaste paar jare, is waarskynlik een van die groot oorsake van die huiwering onder produsente om koring in hul beplannings in te sluit.

Die 2014-seisoen was weer eens, sover dit die klimaat aangaan, ‘n moeilike produksiejaar. In die meeste gebiede het somerreëns vroeg opgehou en grondvogtoestande was nie gunstig tydens planttyd nie. Veral in die Sentraal-Vrystaat het dit daartoe gelei dat produsente nie die risiko wou loop van swak ontkieming en vroeë ontwikkeling nie. Die eerste lentereëns het ook laat voorgekom en in die meeste gebiede was daar eers in Oktober beduidende neerslae.

Die Nasionale Koringkultivarevalueringsprogram word in die Vrystaat in vier streke gedoen, elk met grond- en klimaatstoestande eie aan die streek. Die streke wat afgebaken word, is die Suidwes-Vrystaat, Noordwes-Vrystaat, Sentraal-Vrystaat en Oos-Vrystaat.

In elke streek word daar verteenwoordigende proewe geplant (‘n vroeë en ‘n laat aanplanting) sodat die kultivars wat deur die drie teeltmaatskappye in die program ingeskryf word, na behore gekarakteriseer kan word. Die resultate wat in die 2014-produksieseisoen verkry is, weerspieël dan ook die beperkings wat deur produsente ervaar is.

In die westelike en sentrale gebiede, waar daar oor die algemeen vroeër geplant word, het die droogtetoestande sy tol geëis, soos in die resultate gesien kan word. In die Oos-Vrystaat, waar die neiging al hoe meer is om later te plant, was opbrengste aansienlik beter omdat reën wat in Oktober voorgekom het wel nog ‘n positiewe uitwerking op die resultate gehad het.

Die resultate wat met die twee planttye in elke streek behaal is, word hieronder aangebied, tesame met ‘n kort samevatting van opbrengsprestasie.

Opbrengsresultate

Suidwes-Vrystaat
Die resultate van die vroeë aanplanting (eerste week in Mei) in die Suidwes-Vrystaat word in Grafiek 1 weergegee.

Die gemiddelde opbrengs wat behaal is, was 1,29 ton/ha. PAN 3111 (1,41 ton/ha) het die hoogste opbrengs gerealiseer, gevolg deur Matlabas, Gariep, PAN 3118, PAN 3161, PAN 3198 en PAN 3195. Hierdie sewe kultivars se opbrengste het nie statisties betekenisvol van mekaar verskil nie.

Die gemiddelde opbrengs wat met die later aanplanting (laaste week in Mei) in die Suidwes-Vrystaat behaal is, was 1,21 ton/ha (Grafiek 2). Die beste opbrengs is met PAN 3161 (1,41 ton/ha) behaal, gevolg deur PAN 3379 en PAN 3111. Laasgenoemde twee kultivars het nie statisties betekenisvol van PAN 3161 verskil nie.

imageimage

Noordwes-Vrystaat
Die kultivarprestasie vir die Noordwes-Vrystaat se vroeë aanplanting (laaste week in April) word in Grafiek 3 weergegee.

Die gemiddelde opbrengs van 2,36 ton/ha met hierdie planttyd is aansienlik laer as die vorige drie jaar se gemiddeld van 4,01 ton/ha. Dit weerspieël direk die invloed wat die swak reënvalverspreiding op opbrengste in die gebied gehad het. PAN 3195 (2,67 ton/ha) het die hoogste opbrengs gehad. Die volgende ses kultivars (tot en met SST 317) se opbrengste het nie statisties betekenisvol van PAN 3195 verskil nie.

Die later aanplanting (laaste week in Mei) se resultate word in Grafiek 4 weergegee.

Gemiddeld was die opbrengs vir die later aanplanting in die Noordwes-Vrystaat 2,18 ton/ha – effens laer as die eerste planting. Matlabas, met ‘n opbrengs van 2,62 ton/ha het die hoogste opbrengs gehad, gevolg deur PAN 3118 (2,47 ton/ha). Daar was nie ‘n betekenisvolle verskil tussen die opbrengste van hierdie twee kultivars nie.

imageimage

Sentraal-Vrystaat
Die vroeë aanplanting (eerste week in Junie) se resultate vir die Sentraal-Vrystaat word in Grafiek 5 uitgebeeld.

SST 347 (3,03 ton/ha), Matlabas (3,00 ton/ha) en SST 387 (2,87 ton/ha) het die eerste drie plekke ingeneem in die eerste aanplanting in die Sentraal-Vrystaat in 2014. Hierdie drie kultivars het nie statisties betekenisvol van mekaar verskil nie. Die gemiddelde opbrengs van al die kultivars in hierdie streek was 2,21 ton/ha, wat na aan die gemiddelde langtermynopbrengs van die gebied is.

Die laat aanplanting (eerste week in Julie) se gemiddelde opbrengs was effens beter, met ‘n waarde van 2,40 ton/ha (Grafiek 6).

Die kultivar wat die beste presteer het met die later aanplanting in die Sentraal-Vrystaat was PAN 3111, met ‘n goeie opbrengs van 3,33 ton/ha. In die tweede posisie was PAN 3195 (3,20 ton/ha), wat nie statisties swakker as PAN 3111 presteer het nie.

imageimage

Oos-Vrystaat
Gemiddeld was die opbrengs van al die kultivars by die vroeë aanplanting (derde week in Junie) vir die Oos-Vrystaat 3,36 ton/ha (Grafiek 7). SST 347 (3,93 ton/ha) het die beste prestasie gelewer, gevolg deur PAN 3111, PAN 3195 en die ou staatmaker, Matlabas. Hierdie vier kultivars het statisties nie betekenisvol van mekaar verskil nie.

Die reeks proewe in die later aanplanting in die Oos-Vrystaat is rondom middel-Julie aangeplant. Die gemiddelde opbrengs van 3,71 ton/ha is hoër as wat met eerste aanplanting behaal is (3,36 ton/ha). Dit bevestig die tendens van die afgelope jare dat later aanplantings ‘n voordeel inhou, aangesien laat lentereëns steeds ‘n positiewe uitwerking op opbrengste het.

Goeie opbrengste is behaal met PAN 3111 (4,21 ton/ha), PAN 3195 (4,09 ton/ha) en SST 398 (4,07 ton/ha). Hierdie drie kultivars het nie onderling statisties betekenisvol van mekaar verskil nie.

imageimage

Aanbevelings
Tydens die vergadering van die Nasionale Kultivarevalueringswerkgroep is die kultivars wat in elke spesifieke gebied aanbeveel word, ook gefinaliseer. Die amptelike aanbevelings vir kleingrane, sowel as die opsomming van die resultate wat in die 2014-seisoen behaal is, is meer breedvoerig ingesluit in die 2015 Handleiding vir die produksie van kleingrane in die somerreënvalgebied van die LNR-Kleingraaninstituut. Hierdie handleiding word gedurende Maart 2015 aan produsente gestuur en kan geraadpleeg word vir meer inligting oor algemene produksieknelpunte.

Die navorsing is moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning
van die Wintergraantrust en die Landbounavorsingsraad

Publication: March 2015

Section: Annexe