Die omgewingsagenda se impak op landbou

Gepubliseer: 6 November 2023

479
Dr Dirk Strydom
Hoof: Bemarking, NAMPO
en Navorsingskoördinering

Corné Louw
Hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste

Films soos Kiss the ground en andere het hernude fokus geplaas op die status van die omgewing en die belangrikheid van die grond en klimaat as natuurlike hulpbronne vir volhoubaarheid. Dit lei daartoe dat verbruikers en beleggers die omge­wings-, sosiale en bestuursagenda (ESG) en sy vereistes en beleide voorstaan.

Met al hoe meer ondersteuners is daar meer en meer ooreenstemming om op ’n breër front aan ESG-vereistes te voldoen.

As graanprodusente verstaan ons die belang van gesonde grond en ’n gesonde omgewing en ons soek deurlopend na maniere om ons natuurlike hulpbronne te verbeter en dit meer doeltreffend te benut. Ons verstaan egter ook die kompleksiteit verbonde aan omgewingsvriendelike praktyke en die gevolge van hierdie praktyke – asook die koste om daarby uit te kom. In lande met meer eenvormige gronde, hoër reënvalpatrone en meer beskikbare biomassa, is dit makliker om inisiatiewe soos bewaringslandbou te bevorder. Die baanbrekers van hierdie praktyke herinner ons voortdurend dat indien dit nie korrek en om die regte redes toegepas word nie, dié praktyke nadelig vir volhoubaarheid kan wees.

Die risiko wat ons opmerk is dat beleid­makers en die mense wat in die raadsale sit nie noodwendig altyd die landbou en hierdie kompleksiteite verstaan wanneer dit by ons sektor kom nie. Die resultaat is ’n agenda wat nagestreef word sonder om die risiko’s, inklusiwiteit en moontlikhede volledig te verstaan. ’n Goeie daad met goeie bedoelings kan steeds ’n negatiewe effek hê.

Wat ons as produsente egter moet weet, is dat ESG’s belangrik is vir algehele volhoubaarheid en dat meer en meer maatskappye ondersteuning van hierdie inisiatiewe gaan verwag as deel van die vereistes om met hulle sake te doen. Die rapportering van ESG-status gaan deel vorm van finansiële vereistes, koopooreenkomste en internasionale handelsvereistes.

Om dit effektief te laat werk, is dit uiters belangrik om dinge soos kool­stofvoetspoor, grondgesondheid en ander aanwysers te kan monitor en bereken. Die grootste uitdaging in die Suid-Afrikaanse konteks is hoe om hierdie faktore op ’n verantwoordelike en effektiewe manier te meet in ’n veranderlike omgewing soos ons s’n. Byvoorbeeld: Wat is die werklike waarde en netto effek van geenbewerkingproduksie in die ooste van die land versus die westelike deel van die land? Dit is vrae wat bespreek en debatteer moet word voordat ’n algemene benadering toegepas word. Daar is nog baie onbeantwoorde vrae en werk wat hieroor gedoen moet word en georga­niseerde landbou en private maatskappye moet meer oor hierdie onderwerpe praat om die impak sowel as die voor- en nadele beter te verstaan.

Wat hou die toekoms in? Die realiteit is dat ons ons natuurlike hulpbronne en die manier waarop ons elke hulpbron benut, moet verbeter. Dit is ’n feit dat die agenda gedryf sal word deur aankoopooreenkomste, beleid en finansiering. Dit beteken dat produsente moet begin dink oor hoe hulle hul besighede in die toekoms gaan posisioneer om aan hierdie vereistes te voldoen en in ’n posisie te wees om mededingend te bly. Vrae soos hoe om ons koolstofvoetspoor te bereken en hoe om goeie omge­wingspraktyke te meet en rapporteer, moet beantwoord word. Binne ’n georganiseerdelandbou-omgewing is dit belangrik om seker te maak dat die ESG-inisiatiewe ten volle binne die plaaslike konteks verstaan word en dat dit as ’n aansporing aangewend word en nie as ’n boetestelsel nie. Dit moet op ’n verantwoordelike wyse gedoen word en nie afgedwing word met groot negatiewe gevolge nie.

’n Term soos “net zero” word amper orals tydens internasionale konferensies en in die raadsale van multinasionale maatskappye gehoor. Net zero (of emissieneutraal) verwys na ’n toestand waar emissies en die vaslegging daarvan deur die natuur, ’n netto nul-effek het. Wetenskaplikes glo dat globale temperature sal stabiliseer wanneer die wêreld net zero bereik.

Ons kan onsself dus afvra of dit iets is wat baie ver in die toekoms lê.

Ja, dit lê in die toekoms, maar dit is dalk nader as wat ons dink. Dit is egter ui­ters be­langrik om deel te raak van hierdie bespre­kings aangesien daar tans ’n beduidende verskil kan wees tussen wat ons dink ekonomiese volhoubaarheid is en wat omgewings­volhoubaarheid vereis. Hierdie verskil is wat ons kan laat misluk.