Omnia se spesialiskennis is onlosmaaklik deel van volhoubaarheid

Pieter de Wet, Omnia-landboukundige, Oos-Vrystaat
Gepubliseer: 26 Februarie 2021

1022

Die landboubedryf ervaar reeds ’n ge­ruime tyd die toenemende gevolge van klimaatsverandering. Die lang droogte en onvoorspelbare weerstoestande die afgelope jare, dwing produsente om fyner te dink en aanpassings te maak.

Met die invloed van COVID-19 wat geweldige onsekerheid veroorsaak, is dit nou selfs meer be­langrik om analities te werk te gaan met duidelike doelwitte en ’n aanpasbare strategie in plek.

’n Holistiese benadering tot gewasproduksie verseker dat al die faktore wat produksie beïnvloed, in ag geneem word. Hierdie inligting stel produsente in staat om aanpassings te maak en proaktief op te tree ten einde winsgewendheid te verseker.

So ’n benadering is slegs moontlik wanneer akkurate inligting oor al die faktore oor tyd en ook intyds ingesamel word. Hierdie inligting kan dan verwerk word in werkbare oplossings om uitdagings op die plaas aan te pak.

Omnia Nutrilogie® fokus deurentyd op die ontwikkeling van landbou-oplossings om produsen­te in ’n snel veranderende produksie-omgewing by te staan. Voor plant, tydens die groeiseisoen en met die oes is daar geleenthede om inligting in te samel wat produsente bemagtig om proaktief op te tree.

Evaluasie van volhoubaarheid
Die einddoel van volhoubare landbou is om produktiewe en wins­gewende stelsels vir gewasproduksie te ontwikkel en bowenal die natuurlike hulpbronne op lang termyn te beskerm. Soos reeds genoem, is dit slegs moontlik as data ingesamel word oor die hulpbron en gewasprestasie as ’n funksie daarvan.

Vir die doel van hierdie artikel word gefokus op drie van die verskeie konsepte wat Omnia aan produsente bied om risiko te bestuur en volhoubaarheid te verseker.

OmniBio®-tegnologie
Die OmniBio-laboratorium ontleed grond vir biologiese gehalte-aanwysers deur verskeie tegnologiese metodes om resultate te meet en in ’n eenvoudige verslag voor te stel (sien Figuur 1).

Die OmniBio-ontleding sluit ook nematode-ontleding in. Nemato­des of aalwurms kan as ’n uitstekende bio-aanwyser dien danksy hul diversiteit en funksie op verskillende vlakke van die voedselweb.

Plantparasitiese nematodes in die grond kan plantwortels binnedring, van die plantmateriaal leef en daar voortplant. Dié soort nematodes kan beduidende skade aan wortelselle aanrig. Beskadigde selle kan nie voldoende voedingstowwe en water opneem nie, wat tot ’n produk van swak gehalte en laer opbrengste lei.

Vrylewende nematodes is voordelig vir gewasse omdat hulle die vermoë het om die bevolkingsdigtheid van parasitiese nematodes te reguleer. Hierdie nematodes dra ook by tot voedingstof­mineralisasie in die wortelsone deur ammoniak vry te stel terwyl hulle van mikrobes leef.

Die OmniBio-laboratorium kan grond- en wortelnematodes identifiseer en kwantifiseer. Gewas- en groeistadiumspesifieke norme word gebruik om die risiko vir verskeie gewasse te bepaal. ’n Weldeurdagte aanbeveling kan dan deur Omnia se landbou­kundige aan die produsent gemaak word.

Satelliettegnologie vir beraming van stikstoftekorte
Dit is geweldig voordelig om bewus te wees of die vlak van stik­stoftoediening en -bestuur voldoende is, veral tydens die vroeë vegetatiewe stadium wanneer regstellings nog gedoen kan word. Met die nuwe Sentinel 2-satellietsensor is dit nou moontlik om die chlorofilkonsentrasie in die plant te meet. Dít maak dit moontlik om in die seisoen stikstoftekorte met beduidende akkuraatheid te voorspel.

OmniSap®-tegnologie
Die konsep van plantsapanalise is nie nuut nie. Trouens, plantsap­ontleding word reeds sedert die vroeë 1930’s gedoen. Omnia ontleed reeds meer as 25 jaar lank plantsap, nadat ons die tegnologie in die laat 1990’s by OMEX (VK) bekom het.

Hierdie ontleding, gegrond op Suid-Afrikaanse norme per area en verbouingspraktyke, word plaaslik slegs deur Omnia aangebied. Omnia is reeds meer as 25 jaar besig om OmniSap-norme plaaslik en internasionaal te ontwikkel en te verfyn.

’n Volledige OmniSap-analise is ’n intydse ontleding van ’n plant se voedingstatus en sluit ook parameters soos die ammoniumtoksisiteitsindeks, Brix en sap-pH in. OmniSap stel die produsent in staat om voedingstekorte en wanbalanse te identifiseer voordat dit sigbaar word en opbrengste negatief beïnvloed. In teenstelling hiermee kan ’n blaarweefselontleding slegs ingeboude voedingstowwe of voedingsgeskiedenis wys.

Omnia se landboukundiges begin ’n tipiese groeiseisoen met grondontledings op ons kliënte se plase. ’n Bemestingsaanbe­veling word dan gedoen om die regte grondslag te lê. Daarna word OmniSap-ontledings tydens die seisoen in kritieke stadiums aan­gewend om plante se voedingsvlakke te kontroleer. Tekorte kan dan met ’n topbemesting of blaarvoeding reggestel word.

Die seisoen word afgesluit met ’n weefselontleding om die seisoen in oënskou te neem en probleemelemente te identifiseer. Dít kan dan met die aanbeveling van die volgende seisoen se plantermengsel reggestel word.

Omnia se OmniBio- en satelliettegnologie asook ons OmniSap-analise vorm deel van verskeie oplossingsgedrewe dienste om waarde op die plaas toe te voeg. Ons “voete op die plaas”-benadering maak ons landboukundiges vennote in ons kliënte se boerderye. Hierdie spesialiste se kennis om die data wat uit die bogenoemde verkry word, te interpreteer, is ’n onlosmaaklike deel van ons strewe om volhoubare boerdery te verseker.