Ons storie móét ’n verskil maak

2560
Louise Kunz,
SA Graan/Grain
redaksiespan

Groot dele van Suid-Afrika word jaarliks deur wegholveldbrande geteister. Dit is juis die onvoorspelbare aard daarvan wat dit so gevaarlik maak. Met die wintermaande en “brandseisoen” wat nog voorlê, is dit belangrik vir produsente om voorkomend op te tree.

Brande vernietig meer as eiendom
Mnr Dieter en me Riana Terblanche van die Reitz-distrik kan getuig van hoe rampspoedig brande kan wees. Vir hulle was die skade aan weiding en hul pekanneutaanplantings in 2017 groot, maar niks in vergelyking met die verlies wat hulle in September 2018 gely het nie.

Dieter, streeksverkoopsbestuurder van BASF in die Suidoos-Vrystaat, boer deeltyds met skape en beeste. Hy het ’n paar jaar gelede ook granate en pekanneute begin verbou. Ter nagedagtenis aan sy pa wat twee jaar terug oorlede is, hou hulle ook ’n paar njalas op die plaas aan en het ook blesbokke aangekoop vir jag oor ’n paar jaar as die getalle toegeneem het.

Op 5 September verlede jaar sou Riana, ’n onderwyseres, en hul matriekseun, Dian, direk na skool na Bethlehem vertrek om Dian se paspoort vir die rugbytoer in die komende vakansie te gaan afhaal. Dieter was onderweg van Ladybrand na Reitz toe hy die oproep ontvang dat ’n groot veldbrand op pad was in die rigting van hulle plaas.

Dié brand het op ’n plaas in die Petrus Steyn-omgewing ontstaan as gevolg van ’n trekker se vooras wat vasgebrand het. Al was die brand se oorsprong sowat 25 km van hulle plaas af, het dit vanweë baie sterk winde vinnig versprei. Die gesin het gesorg dat hulle vinnig op die plaas kom om saam met verskeie ander produsente van die omgewing te help om die brand te bestry.

Dieter het die bakkie bestuur terwyl Dian die spuitwerk van agterop die voertuig hanteer het met die brandbestrydingseenheid (firefighter). “Ek het vinnig besef ons is nie reg aangetrek vir so ’n verwoestende brand nie en het vir Dian gesê hy moet die aand op die internet begin soek na waar ons vlambestande klere wat beskerming bied, kon bekom,” vertel Dieter.

Om die vee na veiligheid te jaag, moes hulle drade knip. Daarna het hulle na die westekant van die plaas beweeg waar die brand op pad was na hulle grond. Met die wind wat stil geraak het, het dit gelyk asof die vlamme teruggedruk word en kon hulle ernstig begin blus.

Die volgende oomblik het die wind gedraai. Dieter het onmiddellik vir Dian aangeraai om die spuitwerk te los sodat hulle vinnig kon wegkom. Ongelukkig het ’n kontoerwal hul ontsnappingsroete gestuit en kon hulle nie betyds uit die pad van die vernietigende vlamme kom nie.

Dian, wat agterop die bakkie was, het ernstige brandwonde oor 85% van sy liggaam opgedoen. Hy is van Bethlehem na die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas waar hy op 19 September aan sy beserings beswyk het. Hy is op die familieplaas, Mara, begrawe.

Moenie dat dit met jou gebeur nie
Die belangrikste bepalings van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande bepaal dat slegs toerusting wat redelikerwys in die omstandighede nodig is, noodsaaklik is. Al is die wet nie voorskriftelik nie, stel Dieter voor dat vlamwerende klere by die brandbestrydingstoerusting gebêre word sodat dit byderhand is in noodsituasies.

Volgens ’n artikel op www.ohsonline.com is dit belangrik om in gedagte te hou dat dit slegs beskermende klere is en dat dit nie die risiko van beserings uitsluit nie. Dié tipe klere word gewoonlik ontwerp om brandbeserings onder die 50%-drempel te hou om sodoende die kans op oorlewing te verhoog.

Die lewensduur van die klere hang af van die tipe materiaal wat in die vervaardiging daarvan gebruik word. Sommiges het ’n raklewe van tot vyf jaar, terwyl ander slegs ’n paar maande sal hou.

’n Mens is soms spyt oor dinge wat jy gedoen het óf nagelaat het om te doen. Die Ierse musikant, John O’Callaghan, het die volgende stelling hieroor gemaak: “The ‘what ifs’ and ‘should haves’ will eat your brain.” Dit is egter onmoontlik om na só ’n tragedie nie met dié tipe vrae gekonfronteer te word nie.

“Die vraag of beskermende klere Dian se lewe sou gespaar het, sal altyd by my bly spook. Daarom wil ek graag ons verhaal deel om produsente attent te maak op die belangrikheid van beskermende klere wanneer brande bestry word,” deel Dieter die rede waarom hulle wil hê Dian se dood moet ’n soortgelyke voorval help verhoed.