April 2017
DRS SHAUN MORRIS, EBEN DU PREEZ en PIERRE JANSEN VAN VUREN, S & E Feedlot Consulting
In die afgelope paar jaar word daar wêreldwyd al meer druk op die diereproduksiebedryf geplaas om hul gebruik van antimikrobiese middels (antibiotika) dramaties te verminder. Die reaksie is gegrond op die persepsie dat oorgebruik en misbruik van dié middels weerstandige organismes kweek, wat die sogenaamde super bugs teweegbring.
Hierdie verwikkelinge het ‘n groot impak op alle bedrywe, wat produsente gaan forseer om meer klem op die voorkoming van siektetoestande te lê, in plaas daarvan om diere gesond te spuit met alles wat hul moontlik in die hande kan kry.
Die beesbedryf gaan definitief daardeur geraak word, wat die produksie van “sterker” kalwers, as ons dit so kan stel, kan noodsaak. Baie faktore speel ‘n rol as dit by siektevoorkoming kom. Dit gaan hand aan hand met die produksie van ‘n gesogte kalf. Hierdie bestuursfaktore sluit onder andere in: Voeding, parasietbeheer, gesondheid, higiëne, genetika en voorkoming van siektes – wat die inenting van die diere kan insluit.
Oor die algemeen is die enigste bron van inkomste van ‘n speenkalfboerdery die verkoop van kalwers. Dit is dus belangrik dat elke koei elke jaar ‘n kalf produseer en dat die regte keuses gemaak moet word as dit by vervangingsverse kom.
‘n Goeie kuddegesondheidsprogram is van kardinale belang en is essensieel om ‘n goeie, gesonde, sterk kalf te produseer. Enting van diere teen die belangrikste siektes is noodsaaklik – veral vir die koeie op strategiese tye voordat hulle kalf.
Aanbevole entings vir die koei sluit in:
Virussiektes
- Beesvirusdiarree (BVD)
- Aansteeklike beesrinotrageïtis (IBR) longontsteking
- Bees respiratoriese sinsitiale virus
- Paraïnfluensavirus
- Slenkdalkoors
- Knopvelsiekte
- Driedagstywesiekte
Bakteriële siektes
- Mannheimia haemolytica
- Pasteurella multosida
- Histophilus somni
- Brucella abortis (Brusellose)
- Sponssiekte
- Miltsiekte
- Lamsiekte
- Enige multiklostridiale produk
- Enige bakteriële siekte wat ‘n probleem op die plaas is, byvoorbeeld E. Coli.
Indien rooiwater en galsiekte ‘n probleem in jou area is, moet dit nie geïgnoreer word nie. Ongelukkig bestaan daar nie ‘n generiese kuddegesondheidsprogram nie en elke kuddeprogram moet in samewerking met ‘n veearts saamgestel word om die beste resultate vir jou spesifieke omstandighede en area te verkry.
‘n Volledige, tydige, korrek-toegediende entingsprogram verseker hoë teenliggaamkonsentrasies in die kolostrum om passiewe immuniteit met geboorte na die kalf oor te dra. Dit gee aan hulle ‘n beter kans op oorlewing en beter groei kan verwag word. Hierdie entstowwe moet verkieslik op drie maande-ouderdom herhaal word, wanneer die passiewe immuniteit van die kalwers begin daal en die kalf se eie immuunstelsel optimaal begin funksioneer. As die kalwers gespeen word, moet hulle weer geënt en ontwurm word.
Aandag moet geskenk word aan die toediening van lewendige of geïnaktiveerde entstowwe (dooie entstowwe) – veral wanneer dragtige koeie geënt word. Sommige lewendige entstowwe kan aborsies veroorsaak, wat ekonomiese verliese tot gevolg het.
Geïnaktiveerde (dooie) entstowwe
Dooie entstowwe moet vir dragtige teeldiere en kalfies wat nog suip, gebruik word. Op hierdie wyse word die kalf van geboorte af beskerm – mits kalwers genoeg (ongeveer 800 ml in vleisbeeste) kwaliteit kolostrum binne ses ure na geboorte inneem. Gebruik altyd die entstof soos deur die vervaardigers aanbeveel. Die eerste toediening met ‘n dooie entstof moet altyd vier tot ses weke later met ‘n skraagdosis opgevolg word.
Lewendige entstowwe
Lewendige entstowwe moet gebruik word in situasies waar ‘n vinnige immuunsisteemreaksie verlang word. In voerkraal omstandighede is onmiddellike beskerming belangrik omdat die hoë bevolkingsdigtheid en die gevolglike siekteverspreiding dit vereis. Die diere is gestres en ‘n vinnige, doeltreffende immuunsisteem reaksie is noodsaaklik, omdat beeste oor ‘n kort tydperk aan hoë virusladings in die omgewing blootgestel word. Lewende entstowwe behoort verkieslik nie vir beeste jonger as vier maande toegedien te word nie.
Interne parasiete soos rondewurms en lewerslak kom algemeen in beeste voor. Hierdie verskuilde parasiete veroorsaak swak produksie en kan selfs tot vrektes lei. Interne parasiete word op die veld opgetel soos die diere wei.
Tekens van groot wurmladings is diarree, swak groei, boepens (potbelly) -voorkoms en swak of growwe haargroei. Ontwurming moet strategies deur die jaar gedoen word om die wurmgetalle onder beheer te hou. Kontak ook jou veearts om deur middel van mismonster en ander metodes te besluit wanneer gedoseer moet word.
Optimale voedingsbestuur is natuurlik van uiterste belang om te verseker dat die bogemelde beginsels optimaal werk. Jy kan nie ‘n ondervoede kalf of koei reg spuit of doseer nie. Al die belangrike voedingselemente is uiters belangrik vir ‘n goeie funksionerende immuunstelsel en -reaksie.
Mikro- en makrominerale speel ‘n groot rol as dit kom by die immuunstelsel en hoe die liggaam teenoor entings reageer. Ondervoede en gedehidreerde kalwers en koeie gaan swakker reageer op ‘n entstof en swakker immuniteit maak hulle oor die algemeen meer vatbaar vir siektes.
Inspuitbare produkte is wel beskikbaar om hierdie mikro- en makro elemente aan te vul as daar enige tekorte is.
Indien jy wel van bietjie byvoeding gebruik maak, kan jy altyd gebruik maak van ‘n groeistimulant om die beste reaksie op voeding te kry om sodoende ‘n groter, swaarder kalf te produseer.
Seranol-inplantate kan vanaf drie maande-ouderdom gebruik word en dit kan selfs vir vervangingsverse gebruik word om hul optimale dekmassa vroeër te bereik. Manlike diere wat vir teeldoeleindes bestem is, moet onder geen omstandighede hierdie inplantaat ontvang nie.
Oorinplantate word verkies bo enige inspuitbare vorm van groeistimulante, aangesien die toediening van die produk (wat per abuis in die spier toegedien word) residu mag veroorsaak wat die eindverbruiker op die einde van die dag kan raak.
Genetika is ‘n vakgebied op sy eie, maar speel net so ‘n groot rol in die produksie van ‘n goeie kalf. Dit kan groei en immuniteit beïnvloed. Swak genetika sal die kalf se kwaliteit en groei kan verlaag.
Behalwe vir verliese aan siek of dooie beeste, boet jy as produsent ook produksie in as hierdie riglyne nie gevolg word nie. Dit kan ‘n man se sak ernstig raak as sub-standaardkalwers verkoop word.
Kalwers afkomstig uit ‘n kudde met goeie gesondheid en bestuur is geneig om baie beter in byvoorbeeld ‘n voerkraal te presteer. Die waarskynlikheid dat hulle siek sal word, is klein – wat beteken dat hulle optimaal kan groei. Dit kan beslis tot die produsent se voordeel wees wanneer die kalwers goed presteer. Sy kalwers sal dan gesog raak onder aankopers. Hoë kalfmortaliteite en siekte-uitbreke lei tot groot finansiële verliese, wat voorkom kan word.
Deur by hierdie riglyne te hou, kan ons definitief ‘n verskil maak in die voorkoming van siektes. Dit sal ook die gebruik van antimikrobiese middels oor die algemeen verminder. Dit gaan ook die produsent se sak pas, want ‘n gesonde, swaar kalf is meer werd as ‘n klein, sieklike kalf. Dit is tog almal se doel: ‘n Bietjie meer kontant in die sak op die einde van die dag.
Vir enige navrae, kontak drs Morris (082 411 6037), Du Preez (082 561 8689) of Jansen van Vuren (083 380 0717).
Publication: April 2017
Section: On farm level