Oom Tewie se klipstapel

Gepubliseer: 5 September 2022

534

Beste Grootneef

Ons dorpie is klein, stowwerig en vaal. Maar dit het van die beste slaggate in die Vrystaat! As die westewindjie waai, kom die geurtjie van die verstopte rioolplaas deur die agterdeur. Dié word dan toegemaak, sodat niemand iemand van verdagte optrede kan verdink nie.

Onder in die leegte is die dorp se dam, met mooi vleilande. In die vlei het eers een, toe twee en later ’n dosyn sinkkaia’s hul verskyning gemaak. Die dorpsmeent was immers oop en groot en die paar huisies het niemand gepla nie. Die Vleiland-gemeenskap het oor tyd gegroei. Gewone mense wat hul daaglikse gang gegaan het, met maandelikse staatstoelae as ’n reddingsboei. By die plaaslike skrootwerf was ook altyd ’n geldjie te maak met ’n spar of ’n ysterpaal.

Nou en dan het van die oumense in die omgewing na die Vleiland verwys as ’n gevaarlike plek om kamp op te slaan. Maar niemand het oom Tewie van toeka ernstig opgeneem oor die stapel klippe wat die vloedlyn van ’39 aangedui het nie. In die harde somersonskyn en skurwe winters, het die stapel klippe heel uit koers gelyk. Niemand kon glo dat water wat kwaad word, tot by die klipstapel kon opstoot nie.

Dié besondere namiddag het ’n blou weer uit die weste begin rammel, met veraf dreunings van weerlig wat in die wolke geflits het. Teen sononder het die reën begin uitsak. Die eerste druppels het die stofstrate gou skoon gevee.

Die storm het in felheid toegeneem met ’n stortbui wat die water in strome die strate laat afloop het. Die reën het egter bedaar met net groot druppels wat sag uit die bome geval het.

Maar laat in die nanag het die gróót weer die gemeenskap getref. Met weerlig wat alkant toe slaan en ’n stormwind wat die bome se takke gebuig en gebreek het. Die water het soos ’n oop sluis uit die hemel neergestort. Die dorp se kragtoevoer het uitgeskop toe een van die elektriese pale in die wind en weer meegegee het. Die dorpie se ligte was af en die selfoonseine weg.

Die storm met reën en weerlig het tot in die vroeë oggendure geduur. Met eerste lig het van die mans by die polisiestasie bymekaargekom om te hoor of daar nuus uit die gemeenskap is en of daar êrens hulp aangebied kon word. Die water het steeds in strome straataf gespoel.

En toe kom die kind aangehardloop. Vol modder en met ’n sny oor die voorkop. Ons kon nie volg wat vertel word nie, maar sersant Mofokeng het uitgeroep dat die Vleiland-gemeenskap weggespoel het.

Met die een polisiebakkie en lede van die gemeenskap se voertuie, is na die Vleiland gehaas. Die waterloop was skrikwekkend, met takke en bome wat hier en daar in draaikolke sigbaar was. Van die sinkhuisies was daar niks te sien nie.

Teen sonop het die gemeenskap stroomaf begin soek. Deur die oggend is ’n klompie mense bymekaargemaak wat deur die vloed meegesleur is. Ook van die wat nie oorleef het nie.

Oom Tewie se stapel klippe het net-net bokant die waterstroom uitgesteek. Die hoogwatermerk van ’39 was weer werklikheid.

Soos altyd het die gemeenskap saamgestaan met sopkombuise en huis en haard in die skoolsaal. Toe die vloed ’n dag later loop lê, kon die water se spoor van verwoesting gesien word. Mense het skielik verstaan waarteen oom Tewie gewaarsku het.

Die stadsraad is vir ’n noodvergadering byeengeroep. Daar is besluit om ’n komitee van ondersoek aan te stel. Die komitee het ’n week later besluit om ’n konsultant aan te stel om die komitee se werk te doen. Ses maande later is die verslag deur die stadsraad goedgekeur tydens ’n spesiale vergadering. Die bevinding in die dik verslag was dat behuising nie in die laagliggende Vleiland opgerig behoort te word nie. Wat die komitee en die konsultant gekos het, weet nugter.

Nietemin het die stadsraad vir hulpmaatreëls by die provinsiale owerhede aansoek gedoen, want die stadsraad se laste het lank reeds inkomste en bates oorskry. Die provinsiale regering het met ’n konvooi swart motors met blou ligte opgedaag om self te kom kyk. Toesprake is gehou en beloftes is gemaak van herstel, groei en ontwikkeling met ’n beter lewe vir almal. Die TV se nuusmense was ook daar om al die owerstes af te neem. Na die besoek is ’n onthaal in ’n markiestent aangebied, met spyseniers uit die stad.

Die anderdagmôre toe ek dorp toe ry, staan daar weer ’n paar sinkhuisies in die Vleiland. Oom Tewie se hoogwatermerk het eenkant, vêr van die vlei af, gestaan. Almal het vergeet. Van die komitee en die konsultant se verslag. Van die reën en die vloed. Die grootste vergeet was egter deur die provinsiale owerstes wat herstel, groei en ontwikkeling vir algar belowe het. Daarvan het dadels gekom.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.