Waar trek die landboudebat tans?

934

October 2017

Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder, Graan SA

Met al die politieke onderstrominge in die regerende party, wil dit al voorkom asof hulle nou onderling só besig met mekaar is oor die leierskapstryd en dat een nie meer as ‘n ander uit die stelsel moet melk nie, dat daar weinig vordering met beleidsake is.

Gewoonlik bespeur ons hierdie tipe stilte in die beleidsomgewing so ses maande voor ‘n verkiesing. Al die amptenare is net té
versigtig om besluite te neem, omdat niemand wil aandag trek of stof opskop nie.

Daar was die afgelope aantal maande bykans geen formele onderhandeling of gesprekke tussen georganiseerde landbou en die staat oor grondhervorming nie. Dit beteken nie dat alles klopdisselboom gaan nie, maar dit beteken beslis ook nie dat dit swaar gaan nie. Die debat het nou na die howe van ons land geskuif. Daar is verskeie sake tussen individue en die staat oor grondhervorming – wat besliste rigting gaan gee oor wat ons in die toekoms kan verwag. Dit beteken dat ons al hoe minder ‘n invloed op die uitkomste daarvan gaan hê. Daarom het georganiseerde landbou dit by die rigtinggewende sake gaan voeg.

Ons neem oral kennis van staatsentiteite soos die SABC, SAL, Eskom en PetroSA wat met groot miljoene rande se verliese bedryf word en/of dat staatsfondse op verdagte wyses aangewend word.

Die vraag kan daarom gevra word: Hoe gaan dit met die landbouverwante staatsentiteite? Ons weet dat die rooivleisbedryf
tans besig is om die staat hof toe te neem oor alles wat by Onderstepoort gebeur. Waarom neem dit die minister so lank om ‘n uitvoerende hoof en direksielede aan te stel? Het die aanstellings meer poli­ties geraak (wat lank neem) of is dit ‘n ernstige gesoek na ware talent en mense wat nie die plek sal besteel nie?

Dit geld ook vir ander entiteite soos die Landbounavorsingsraad (LNR) en Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR). Daar was vir jare nie eers een kommersiële produsent op die NLBR nie. Hoe kan hulle, as NLBR, hul status as die Minister van Landbou se adviseur verdedig met geen kommersiële produsent op die raad nie? Ten minste is die saak nou reggestel en kan ons net hoop dat dit beter sal gaan.

Wat die LNR betref, gaan sake steeds agteruit. Daar is selfs sprake dat die leierskap besig is om hul kernbesigheid te versaak. Met die gebrek aan staatsfondse, het die LNR, omdat dit makliker is, op opleiding begin fokus om eksterne fondse te genereer. Dit is waar­-om Graan SA reeds vyf jaar gelede begin het om kapasiteit te bou om die koördineringsfunksie van die LNR oor te neem.

Die status van kernbelangrike diensorganisasies in landbou is steeds besig om óf te vou óf agteruit te gaan. Die debat is tans hoe om al die noodsaaklike dienste vir landbou te behou ten einde volhoubaarheid in die hand te werk.

Vir party is daar alternatiewe: Byvoorbeeld om eie navorsing in sameweweking met ander staatsdepartemente soos Wetenskap en Tegnologie te doen. Dit was net ‘n paar jaar gelede dat die Land Bank op sy knieë was en dit vanaf Landbou na Tesourie oorgeplaas is.

Na ‘n onlangse vrugbare gesprek met die hele uitvoerende bestuur van Land Bank is ek geweldig dankbaar om te rapporteer dat alles daar nog wel is. Dit sou ‘n totale ramp gewees het as die Land Bank moes vou. Hoe sou voedselproduksie dan gefinansier word? Wanneer gaan iemand die moed aan die dag lê om die LNR na die Departement Wetenskap en Tegnologie toe te skuif om dit van ondergang te red? Is daar ‘n ander tuiste vir Onderstepoort? Is dit wat ons in die komende jare te wagte moet wees?

Dit sou bitter hartseer wees as die hele land en die ekonomie moet gaan staan en water trap tot ná 2019 se verkiesing. Dit is nog ‘n lang tyd! Die aanloop na die verkiesing sal beslis van landmyne besaai wees. Grond- en landbousake sal definitief nie oorgesien word in al die retoriek wat nou gaan volg nie. Die land kan glad nie bekostig dat voedselproduksie en voedselsekerheid as politieke speelbal gebruik word nie. Die droogte van 2016 het alreeds gewys hoe broos die arm mense in Suid-Afrika is nadat voedsel­-pryse weens die invoerpariteitspryse van mielies die hoogte ingeskiet het.

Daar is twee tendense ten opsigte van die landboudebat wat ek graag wil uitlig: Eerstens gaan grondhervorming steeds aan die bokant van die lys wees. Georganiseerde landbou is waarskynlik in ‘n heelwat beter posisie om die onderhandelinge aan te vat, maar die bekommernis is dat daar tans geen platform bestaan waarop die onderhandelinge plaasvind nie.

Georganiseerde landbou sal nou leierskap moet toon en nie net sit en wag totdat iets gebeur – wat dit te laat maak om te onderhandel – nie. Privaat eiendomsreg bly die sleutel tot die saak. ‘n Onderhandelde skikking is ver meer aanvaarbaar as iets wat wetlik afgedwing of via anargie bekom word. Tweedens sal georganiseerde landbou moet fokus op die kritiese dienste wat die staat lewer, ten einde landbou mededingend te hou. Bestry korrupsie en steek hande uit die moue om ‘n bydrae te lewer sodat die kwaliteit behoue bly of privatiseer die dienste en doen dit self.

Wat laasgenoemde betref, is dit gewoonlik die befondsing van so­danige dienste wat ons meestal terughou om dit nie te privatiseer nie – amper meer as die regsbasis om dit te kan lewer. Vennootskappe kan hierin ‘n uitkoms bied, maar wil ek ʼn vlaggie opsteek om nie via sodanige vennootskappe by korrupsie betrokke te raak nie.

Publication: October 2017

Section: Relevant