October 2017

Beste Grootneef

Van Langenhoven word vertel dat ‘n hoogop dame uit die gemeenskap hom destyds aangevat het oor sy ón-so­bere gewoontes. Sy antwoord op die tirade was dat een uur van sy dronkenskap meer werd was as die vrou se hele salige lewe!

En van Winston Churchill word vertel dat ‘n vooraanstaande se gade hom by ‘n funksie aangespreek het omdat hy so effe onvas op sy voete was. Volgens oorlewering was sy antwoord in kort: “Madam, tomorrow I will be sober, but you will still be fat!” Dalk het hy haar dubbeld gesien, maar haar doppie was geklink.

Of soos die twee manne op die Kaapse vlak wat die papsak tot die laaste droesem geledig het. Hul groeteboodskap aan al die omstanders was: “Nou wag ons hom in.”

Daar word ook vertel van die ou wat al die leë bottels in sy huis loop en stukkend gooi het met die verwyt dat hulle die oorsaak was dat hy uit sy vrou, plaas en kinders is. Toe hy op ‘n vol bottel afkom, het hy dit versigtig eenkant gesit met die woorde “Staan sountoe, jy het nog niks met hierdie moeilikheid te doen nie!”

Ou Neef, deur die eeue was vuurwater die bron van kwaad. Die vet in die vuur. Die klip in die kettie. Dit is ook deeglik in die volksmond verpak: “Hy loop drie rye spore” of “Koos Wye Voete” vir die KWV. En die jonger weergawe, “So getrek soos ‘n broekrek” – waarnemings van mense in verskillende vlakke van besopenheid.

Buurman vertel nou nog van die nagmaal op Vaalwater toe die wyn te min vir die kelkies en die beker was. Die klomp jong diakens het toe uit noodweer Oros en witblits gemeng tot ‘n edel versnit. Tydens die diens het verskeie hande opgegaan van gemeentelede wat gekla het dat hul oorgeslaan is. In so ‘n mate dat die diens met “Die Stem” afgesluit is.

Buurman vertel verder van die rugbytoer in sy oorle jong dae. Dié was meer van ‘n kaas-en-wyntoer as ‘n rugbytoer, maar om die fokus te hou, is ‘n paar wedstryde teen plaaslike dorpspanne gereël. Een van die spanlede was Rooi Koos met ‘n rooi baard soos uit die Anglo-Boereoorlog.

Een aand raak Rooi Koos so doenig met die kaas en wyn – veral die wyn – dat hy later nie vriend of vyand uitmekaar geken het nie. En toe rustig in die hoekie van die kroeg ingesluimer het totdat ‘n koma van ‘n slaap hom oorval het. Niks kon hom roer nie. Sy spanmaats skeer toe in goeie gees sy baard af en boek hom op die koop toe by die verkeerde hotel in. Almal vrolik en bly die aand uiteen.

Die volgende oggend het Rooi Koos uit sy roesemoes ontwaak met ‘n monster van ‘n babelas. Boonop het hy hom in ‘n vreemde kamer bevind wat glad nie met sy brein se vorige GPS-lesings geakkor­deer het nie. Die badkamer en die kas se noord en suid was heel aan die verkeerde kant. Met ‘n gesukkel het Rooi Koos die wasbak in die badkamer opgespoor om sy gesig en rooi oë te lawe. Met die opkyk in die spieël sien Rooi Koos die vreemde baardlose bakkies. En skrik hom toe in ‘n ander bloedgroep in.

In die waas van soeke na homself en waar hy is, kom hy toe op die sleutel van die hotel af waar hy aanvanklik ingeboek was. Met die telefoon op die bedkassie bel hy die nommer op die sleutelhouer. Toe die ontvangsdame aan die anderkant antwoord, vra hy mooi dat sy asseblief tog in kamer nommer 10 moet gaan kyk of hy daar is. En as hy nie daar is nie, is hy weg!

Toe hy uiteindelik by sy hotel van herkoms aanmeld, was die toer­bus lankal vort, sy spanmaats besig om met hul kaas-en-wynlywe teen die buurdorp se eerste span les op te sê. Sonder ‘n reserwe.

Ou Neef, hou maar matigheid voor oë, maar laat hy val waar hy wil.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Publication: October 2017

Section: Features