August 2018
HANNALENE DU PLESSIS, JOHNNIE VAN DEN BERG, albei van Noordwes-Universiteit en DARREN KRITICOS, CSIRO, Canberra, Australië
Die herfskommandowurm (Spodoptera frugiperda) (Foto 1) is vir die eerste keer verlede jaar as ‘n nuwe indringerplaag in Suid-Afrika aangemeld. Die insek het sy oorsprong in Suid-Amerika en is bekend as ‘n tropies/subtropiese plaag.
Insekte is ektotermies, wat beteken dat hulle liggaamstemperatuur saam met die temperatuur van die omgewing wissel. Die toename in temperatuur, wat veroorsaak word deur klimaatsverandering, veroorsaak dat tropiese en subtropiese plae vinniger ontwikkel en beter oorleef as gevolg van die vinniger ontwikkelingstempo. Dit het tot gevolg dat voorplanting vinniger geskied en populasiegroottes toeneem. Hiermee saam verander die verspreiding van hierdie plae ook.
Herfskommandowurm in Amerika
Die herfskommandowurm is endemies en oorwinter in die tropiese dele van onder andere Suid-Amerika, maar ook in die suidelikste dele van Noord-Amerika, naamlik Florida en Texas. Soos wat die temperatuur na die wintermaande in Noord-Amerika toeneem, versprei die motte van hierdie oorwinterende populasies noordwaarts in die VSA.
Met elke opeenvolgende generasie word die populasies groter. Die motte wat teen herfs in die hoofmielieverbouingsgebied (corn belt) van Amerika aankom en oorsprong gee aan groot getalle larwes op die mielies, het aan die plaag die naam herfskommandowurm besorg. Die plaag het ‘n wye verskeidenheid gasheerplante, waaronder gars, hawer en koring, maar is veral bekend as ‘n mielieplaag. Sou die larwes ‘n keuse hê tussen mielies en van die ander gasheerplante, sal mielies altyd die nommer een keuse wees.
Oorwintering in Suid-Afrika
Met die aanmelding van die herfskommandowurm in Afrika en die verspreiding daarvan na onder andere Suider-Afrika, ontstaan die vraag of die herfskommandowurm gedurende die winter in Suid-Afrika kan oorleef. Indien dit moontlik sou wees, beteken dit dat die herfskommandowurm ‘n permanente plaag is en ‘n jaarlikse probleem vir veral graanprodusente kan wees.
Die motte kan, net soos met die Amerikaanse situasie, van die gebiede van oorwintering na somerproduksiegebiede versprei sodra die temperature warm genoeg word vir oorlewing. Die vraag wat koringprodusente in die Wes-Kaap vra is nie soseer of die larwes hul koringoeste kan vernietig nie, maar eerder of die larwes die winter in die Wes-Kaap kan oorleef om skade aan te rig.
Om hierdie vraag te beantwoord, word navorsing by die Noordwes-Universiteit onderneem om die temperatuurbehoeftes van die herfskommandowurm te bepaal. Die eiers neem slegs twee dae by konstante temperature van 30°C en 32°C om uit te broei en die larwes neem tien tot twaalf dae om tot papies te ontwikkel.
By ‘n konstante temperatuur van 18°C neem die eiers ses tot sewe dae om uit te broei en die larwale ontwikkelingstyd is 28 tot 37 dae. Die duur van ‘n lewensiklus (van eier, larf, papie tot by die mot) is gemiddeld 71 dae by 18°C en slegs 20 dae by 32°C.
Omdat dit ‘n tropiese plaag is, wat aangepas is om by hoë temperature te oorleef, word oorlewing oorwegend deur die onderste temperatuurlimiet waarby hul kan oorleef, bepaal. Vir die eiers en larwes is hierdie limiet vir oorlewing 12°C.
Wat egter in aanmerking geneem moet word, is dat alhoewel nagtemperature in die winter vir die meeste gebiede in Suid-Afrika gereeld onder 12°C is, die dagtemperature aansienlik hoër is. Die gemiddelde daaglikse temperatuur (dag en nag) mag dan tot oorlewing van die plaag lei. Die larwes en papies is gewoonlik beskut, wat ook daartoe kan bydra dat die herfskommandowurm wel gematigde winters kan oorleef.
Indien temperature laer as die onderste limiet van oorlewing voorkom en aaneenlopend vir ‘n tydperk voortduur, sal dit veroorsaak dat die herfskommandowurm vrek en nie in sodanige gebied kan oorleef nie. Daar moet derhalwe onderskeid getref word tussen gebiede waar die omgewingstoestande altyd gunstig vir dié plaag is om te oorleef en gebiede waarheen gemigreer kan word in tye wanneer die omgewingstoestande verander totdat dit weer gunstig vir oorlewing en reproduksie word.
Model bepaal waar wurm kan oorleef
Om te voorspel waar die herfskommandowurm in Suid-Afrika gedurende die wintertye kan oorleef (permanente populasies) en waarheen die plaag gedurende gunstige tye kan versprei (seisoenale populasies), is ‘n model met die CLIMEX-sagtewareprogram, in samewerking met prof Darren Kriticos van CSIRO, Australië, ontwikkel. Hierdie model is gebaseer op die reaksie van die herfskommandowurm op klimaatsveranderlikes (Figuur 1).
Die gebiede waar permanente populasies kan voorkom, word aangedui in die geel tot rooi indeks, terwyl die seisoenale voorkoms met die groen indeks aangedui word. Gebiede wat ongunstig vir die voorkoms van die herfskommandowurm is, word in wit aangedui. Hieruit is dit duidelik dat permanente populasies in die noorde van Limpopo en ook langs die KwaZulu-Natalse suidkus en moontlik dele van die Oos-Kaapse kus kan vestig.
Die totale graanverbouingsgebied in Suider-Afrika se klimaat is gedurende die somermaande geskik vir die oorlewing en reproduksie van hierdie plaag. Indien oorlewing tydens gematigde winters wel in die graanverbouingsgebied sou voorkom, kan ‘n koue front met lae temperature hierdie populasies ook uitwis.
Met verwysing na die herfskommandowurm, is die koue fronte met gepaardgaande lae temperature en soms sneeu, wat die Wes-Kaap gewoonlik gedurende die wintermaande tref, tot voordeel van die wintergraanprodusente. Vir oorlewing en reproduksie van die herfskommandowurm wat ‘n tropies/subtropiese plaag is, is hierdie besonder lae temperature nie geskik vir oorlewing en reproduksie nie.
Die motte versprei jaarliks vanuit die oorwinteringsgebiede suidwaarts in Suid-Afrika namate dit warmer word. Dit verklaar ook waarom die larwes nie jaarliks in dieselfde gebiede en tye in die mielieverbouingsgebiede voorkom nie.
Verfyning van die model
Die herfskommandowurm het gedurende die wintermaande van 2017 en 2018 in die gebiede by Malelane en Nelspruit oorleef. Alhoewel dit nie so deur die huidige model voorspel word nie, word dié aspek tans ondersoek. Daar word deurentyd inligting tot die model toegevoeg om dit te verfyn en die voorspellings so akkuraat as moontlik te maak.
Die reaksie op temperatuurveranderlikes wat ‘n invloed op die plaag se migrasie en verspreiding mag hê, word steeds nagevors en herfskommandowurminfestasies of -oorlewings in gebiede waar dit aangemeld word, dra by tot ‘n meer akkurate model. Indien produsente bewus is van oorwinterende larwes in hul produksiegebiede of as hulle skielike uitbrekings in die seisoen ervaar, kan Hannalene du Plessis (018 293 3863) of Johnnie van den Berg (018 299 2376) by die Noordwes-Universiteit in kennis gestel word.
Publication: August 2018
Section: On farm level