Potpourri van nostalgie

61

Beste Grootneef

Versoeningsdag, Kersdag en Oujaarsdag. Vader Tyd keer elke jaar dié drie dae in ’n stroomversnelling vas op pad Nuwejaar toe. Dan breek die nuwe jaar se stroom oor die keerwal en vat almal die toekoms in.

So skuins voor Kersdag sit ek in my studeerkamer met ’n potjie vol nostalgie. As jy aan nostalgie begin roer, is die aangename geure van herinnering en mymering gou die wêreld vol. Die wonderlike van nostalgie is dat net die goeie behou word. Die sakke sout en klippies in die skoen vervaag oor tyd, maar die herinnering oor wat goed was, bly immer. Nostalgie gee vrye teuels aan verlange na mense wat nie meer daar is nie of plekke wat oor tyd vergaan het.

Die raaksien van iets uit vergange se dae is dikwels die sleutel tot ’n onthou-jy-nog. Vanaand, met ’n studeerkamer vol onthou-jy-nogs, sien ek weer die rooi-en-blou bliklorrie wat op die boekrak staan. Dié ry al meer as 50 jaar saam op my lewensreis. Met my en die lorrie se speeldae verby, kon ek dit nooit net weggooi nie. Die lorrie het met elke trek na ’n nuwe woning weer sy staan op die boekrak kom kry. Soms, wanneer die geure van nostalgie en mymering as ’n span saamwerk, vat die lorrie my terug na waar ons die eerste keer op Liefdefontein kennis gemaak het.

Van 16 Desember tot Oujaar was die tydsgees op Liefdesfontein een van genoegdoening. Dit was vakansietyd. Die skape was teen daardie tyd geskeer en het met hul spierwit somerklere in die groen vleie geloop. Die planter se werk was afgehandel, met netjiese, reguit rye mieliepenkoppe wat son toe gegroei het. Ek onthou ’n vol gronddam wat tot in die uitlope opgestoot het. Die plaas was tevrede.

Op Oukersdag is Liefdefontein se werf vir oulaas gevee vir die groot familiekuier. Die karre het teen laat oggend een vir een oor die motorhek gedril en op die werf onder die koeltebome ingetrek. Ooms, tannies, neefs en niggies het uit die karre geborrel. Gewillige hande het melkterte, wortelkoeke en waatlemoene afgelaai. Hier en daar ’n kussingsloop waarin blink geskenke gesig gewys het. Dié is staan­gemaak onder die dennekersboom in die voorkamer.

Die grootmense het hulle tuisgemaak op die stoep met ’n gemurmel van gesels oor wat wanneer met wie gebeur het. Dit was familietyd.

Neefs en niggies het laat spaander na die gronddam om af te koel. Herta, die hond, is agter ’n tennisbal die water in. Die geplas en gejil kon ver gehoor word, want môre was Kersfees.

Na die swemsessie het die neefs ’n sokkerwedstryd gereël, met vier miskoeke aan weerskante van die kampie as die doelpale. Die Rising Sunsets en die Holleways Come Back het die epiese stryd met een elk gedeel.

Die soelheid van die aandskemering het daardie Oukersaand sagweg oor die plaas gedaal. Dit was ’n donkermaanaand, met Venus en Jupiter helder aan die westekant.

Dit was windstil. Die rokie van die stronkevuur is reguit die hemel in. Die skaaptjoppies het sissend ’n laaste vetjie oor die kole gedrup. Saam met die braairook het vrede oor die werf gehang.

Net na ete het oom Zack verspot om die hoek verskyn met ’n rooi mus op. Die span neefs en niggies moes eers “Kom herwaarts, getroues” sing, waarna geskenkies aan ieder en elk uitgedeel is. In my geskenkpak – ’n rooi-en-blou bliklorrie. Met die opgewondenheid verby en die geskenkpapier opgeruim, het oupa die Kersverhaal uit Lukas voorgelees, sodat ons nooit vergeet waaroor Kersfees werklik gaan nie.

Buite blaf die honde skielik ergerlik. Dit is nou sterk skemer, met ’n laaste sonstraal wat uit die weste in die huis val. My oog vang die verweerde rooi-en-blou bliklorrie wat na vyftig jaar steeds op die boekrak staan. Al die pad van Liefde­fontein af.

Die werklikheid van hier en nou laat nostalgie en mymering eensklaps verdwyn. Die son was aan die sak. Dit was tyd om die honde op die werf los te laat en die alarms te stel. Die buitehekke is vroeg reeds gesluit. Ek voel aan my heup of die 9 mm in plek is, en loop so ’n laaste rondte om die skuur en die plaashuis om te sien of alles toe en gesluit is.

Môre is Kersfees, maar vannag sal ons Oukersaand binnenshuis vier. Want dit is nie meer veilig buite nie.

Mag dit ’n “Stille Nag” wees.

 

 

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.