October 2018

Beste Grootneef

Die Chinese is met die maan gepla – dis amptelik. Hul beplan om voor Nuwejaar ‘n onbemande tuig Maan toe te stuur om die Maan se skadukant te verken. Dis daardie deel van die Maan wat ons nie van die Aarde af kan sien nie.

Die Chinese soek nou by die mensdom ‘n naam vir die vreemde tuig. Buurman se stuiwer in die naambeurs is kort en kragtig, maar dit dra tog ‘n stukkie emosie van die gemoedere in die Vrystaat na afloop van die openbare grondsessies. Buurman se voorstel aan die Chinese is om die tuig, “URTU I” te doop, ingeval die ding op die Maan se agterkant sou vasval.

Ou Neef, luister hoe sing David Kramer op sy rooi kitaar oor die Aarde en die Maan. Hy vra in een refrein, “as jy na die Aarde van die Maan af kyk, waar lê noord en waar lê suid?” Dalk lê die antwoord in die Maan se skadukant, want tans ontwyk die ware noord vir grondsake ons mense in die Suidland.

Die tweede vraag waarop daar nie ‘n eenvoudige antwoord is nie, is hoe om tandepasta terug in die buis te kry as dit eers uitgedruk is. Met die string openbare sittings oor grondvat-sonder-om-daarvoor-te-betaal, het veral twee menings in die kookpot gedryf.

Een groep hou duidelik nie van Jan van Riebeeck nie. Hierdie groep het by talle verhore laat hoor dat Jan met die Drommedaris en die Titanic as rampokker in die Kaap aangekom het en die mense se grond afgevat het. En daarom moet grond nou teruggevat word.

Die ander mening was dat grond nie in hierdie leeftyd gesteel is nie, maar dit met baie sweet, trane, voorspoed, teëspoed én rente betaal is. En dat die meeste boere met Land Bank se lening op Absa se grond vir die koöperasie boer. Daar loop immers nie veel kontantboere daar buite rond nie.

Ou Neef, hoe op aarde het ons in een land so ver van mekaar se noord en suid beland?

So van tandepasta gepraat. Daar is soveel stoom opgebou oor grond wat afgevat en verdeel moet word, dat dit bitter moeilik sal wees om die verwagting van kitsrykdom weer terug in die buis te druk.

Buurman het laat weet dat hy nou soveel geld as moontlik by die bank gaan leen. Dan kan die bankbestuurder in die nagte wakker lê oor die land se grondsake.

Maar hoe maak jy jou somme vir die nuwe plantseisoen? Want as jou plaas nie meer die balansstaat se skaal met sekuriteit in plek hou nie, wie se geld is dan te leen? Die res van die wêreld werk nie met iets vir niks nie. Die graanekonomie van wins en verlies en tonne wat per hektaar nodig is om gelyk te breek, maak besluite voor planttyd ‘n nog groter uitdaging.

Genoeg van die swaarmoedigheid. Ons mense van die Suidland kon nog altyd van ‘n afgrond wegstuur wanneer daar hande gevat word. Dis nou die tyd vir leiers om legendes te word. En om met koel koppe die pad vorentoe oop te praat.

Intussen is daar steeds musiek op die draadloos en skuim op die bier terwyl ons Saterdae Curriebeker kyk. As Blokkies net daai bôl uit die grondsakeskrum kan haak…Daar is vele drieë wat deur die landbouspan gedruk kan word. Maak nie saak of jy groot of klein is nie. Daar is ‘n plek vir elkeen in die span.

Groete op die Oosgrens.

Publication: October 2018

Section: Features