Nuwe seisoen: Opsies vir winsgewende graanproduksie raak min

159
Petru Fourie,
navorsingskoördineer-
der en produksiekoste-
analis, Graan SA

Volgens Statistiek SA het Suid-Afrika se ekonomie met 2,2% gekrimp, vergeleke met die vierde kwartaal van 2017. Landbou is een van die kernsektore wat tot hierdie inkrimping gelei het: Dit het in die eerste kwartaal van 2018 met 24,2% gekrimp. Dit was die grootste kwartaallikse inkrimping sedert die tweede kwartaal van 2006.

Landbou se ekonomiese lewensvatbaarheid is onder enorme druk. Indien die prentjie vir landbou – spesifiek graangewasse – nader aan grondvlak gebring word, is dit duidelik dat veral die graanbedryf onder geweldige druk en uitdagende finansiële toestande verkeer. Produsente was vir twee seisoene lank (2014/2015 – 2015/2016) met geweldige droogtetoestande gekonfronteer – wat opbrengsrisiko teweeggebring het.

Uitdagende klimaatsomstandighede is gevolg deur twee besonder goeie produksieseisoene (2016/2017 – 2017/2018), wat produsente weer in ‘n prysrisikosituasie gelaat het waar graanpryse bitter laag verhandel het.

Die realiteit van die saak is dat, as slegs die afgelope vier seisoene ontleed word, graanprodusente in ‘n diep finansiële verknorsing gelaat is. Daar heers kommer oor ‘n groot klomp graanprodusente se finansiële welstand.

Weens bogenoemde, die huidige graansurplussituasie, stygende insetkoste sowel as die sprake van El Niño-toestande, lyk dit asof die komende plantseisoen – in terme van winsgewendheid – die graanbedryf weer ‘n enorme uitdaging gaan wees.

Somergrane: Samestelling van begrotings
Ons weet produksiekostes verskil radikaal van buurman tot buurman weens elke graanprodusent se eie unieke stelsel, die tipe boerderyeenheid en die produksiepraktyke en daarom word elke produsent aangeraai om sy eie somme te maak en daarvolgens besluite te neem. ‘n Begroting moet nie as ‘n rigiede, vaste plan beskou word nie, maar wel as ‘n bestuurshulpmiddel tydens besluitneming.

Die ontleding van bruto marges is ‘n algemene en gewilde manier om die winsgewendheid van graangewasse binne ‘n boerdery met mekaar te vergelyk. In dié artikel word gepoog om ‘n raamwerk of idee te verskaf om die verskil tussen sekere gewasse te verduidelik.

Kommoditeitspryse
Die grootste uitdaging met die oog op die opstel van die somergraanbegroting, is om die prys van die kommoditeit vir die komende jaar te voorspel. Die Safex-vooruittermynkontrak wat in die berekeninge gebruik is, is soos volg:

  • Mielies vir lewering in Julie 2019 = R2 300/ton;
  • Sonneblom vir lewering in Mei 2019 = R4 750/ton; en
  • Sojabone vir lewering in Mei 2019 = R4 850/ton.

2019 se termynpryse is bepaal deur die gemiddelde prys sedert die begin van verhandeling, vir daardie spesifieke kontrakmaand, te bereken. Met die inagneming van die liggingsdifferensiaal, hanteringskoste en bemarkingskommissie is ‘n produsenteprys bereken.

Opbrengs
‘n Ander faktor wat tydens die opstel van begrotings ‘n uitdaging is om te bepaal, is die bepaling van die opbrengs van die gewas vir die komende jaar – weens die onsekerheid oor klimaatstoestande. Tydens die vergelyking van gewasse se winsgewendheid heers daar vrae oor watter opbrengsscenario’s vir elke gewas gebruik moet word; met ander woorde: Indien jy ‘n gemiddelde opbrengs van 4 t/ha vir mielies sou stroop, wat is die gelyke opbrengs wat jy byvoorbeeld vir sonneblom of sojabone in dieselfde klimaat en grond sou kon behaal?

Vir die berekeninge is opbrengsmikpunte gebruik, verskillende insetpyle is beraam tot realisering van daardie opbrengs.

Agronome en kundiges in die bedryf is geraadpleeg met die bepaling van die verskillende gewasse se vergelykende opbrengsscenario’s.

Gewasse
In hierdie artikel word gepoog om die verskil in winsgewendheid tussen die drie vernaamste somergewasse (mielies, sonneblom en sojabone) te illustreer.

Die bruto marges vir grondbone en sorghum word ongelukkig nie in hierdie artikel vergelyk nie, aangesien die grootte van die mark vir die laasgenoemde twee gewasse uiters beperk is. As gevolg van voorseisoenkontrakte wat nie redelik beskikbaar is vir grondbone en sojabone nie, dra dit by om moeilik beramings te maak. Grondbone se bruto marge vir die komende produksieseisoen blyk na die ontledings, oor die algemeen die beste te wees. Die grondboonbedryf het die afgelope seisoen egter ernstige graadprobleme ervaar, wat winsgewendheid ‘n groot knou gegee het omdat ‘n heelwat swakker gemiddelde produsenteprys gerealiseer het.

Volgens berekeninge blyk graansorghum in meeste van die omgewings meer winsgewend as mielies te wees, maar produsente moet daarop let dat sorghum nie sonder ‘n kontrak aangeplant moet word nie.

Insetpryse
Produsente is prysnemers en omdat produsente prysnemers aan die inset- sowel as uitsetkant is, kan hoër insetkostes nie eenvoudig net aan verbruikers deurgegee word nie. Produsente word gedwing om prysstygings te absorbeer. Graan SA bekom en moniteer insetpryse op ‘n daaglikse, maandelikse en/of jaarlikse basis. Volgens Graan SA se berekeninge het mieliesaadpryse vir die 2018/2019-produksieseisoen gemiddeld met 5% en sonneblomsaadpryse op ‘n gemiddelde basis met 4,7% gestyg, terwyl sojaboonsaadpryse met ‘n skrale 0,5% gestyg het.

‘n Verskeidenheid aannames word met die opstel van die begrotings gemaak. In die geval van kunsmis (die grootste deel van ‘n produsent se veranderlike kostes), is ‘n gemiddeld van al die kunsmismaatskappye se pryslyste vir stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) bereken en in die begrotings geïnkorporeer. Op ‘n gemiddelde basis het die samestelling van N, P en K in die mieliebegrotings met amper 20% op ‘n jaargrondslag gestyg.

Met die berekening van byvoorbeeld brandstofkoste is vooruitskattings met behulp van toekomstige rand/dollar-wisselkoerse en toekomstige ruoliepryse vasgestel (September 2018, Desember 2018 en Junie 2019). Dit is ‘n groot uitdaging om die toekomstige brandstofprys te bepaal, maar ‘n styging van ongeveer 22% is gebruik, terwyl sekere chemiese produkte tot en met 30% gestyg het.

Kostestruktuur van begrotings
Die kostestruktuur van die begrotings is uit veranderlike en vaste koste saamgestel. In die begrotings is veranderlike koste byvoorbeeld saad, kunsmis, onkruiddoder en diesel. Hierdie koste verander soos daar meer of minder van die inset gebruik word.

Neem kennis dat koste soos byvoorbeeld verskansingskoste, bemarkingskoste en oesversekering – om net ‘n paar te noem – deel van dié koste uitmaak. Indien jy nie van sekere kostes gebruik maak nie, kan jy dit van die totale veranderlike koste aftrek.

Vaste of oorhoofse koste is uitgawes wat aangegaan moet word – of daar geproduseer word al dan nie. Alhoewel vaste koste drasties van produsent tot produsent verskil, word ‘n gemiddelde bedrag daarvoor voorsien om ‘n beraamde totale produksiekoste te bereken. Hierdie koste moet by die veranderlike koste per hektaar getel word om die totale produksiekoste te bereken.

Produksiekoste-uiteensetting en winsgewendheidsvergelyking
In dié artikel word drie tabelle en drie grafieke gepubliseer. In elk van die tabelle word beraamde produksiekostes (veranderlike sowel as vaste koste) vir die komende produksieseisoen (2018/2019) uiteengesit. Die tabelle en grafieke vergelyk die insetkoste per item, gelykbreekpryse en opbrengste, asook bruto marges, met mekaar.

Oostelike produksiestreek
In Tabel 1 word die produksiekostes vir die oostelike dele van die land (Oos-Vrystaat en Oostelike Hoëveld) uiteengesit. Die produksiekoste van mielies, sonneblom en sojabone met onderskeie opbrengsmikpunte vir die Oos-Vrystaat word vergelyk, terwyl mielies en sojabone in die Oostelike Hoëveld vergelyk word.

Volgens Graan SA se produksiekosteberekeninge beloop die veranderlike koste om mielies in die Oos-Vrystaat, vir ‘n 5 t/ha opbrengsmikpunt te produseer, ±R9 777/ha, terwyl dit ±R11 282/ha vir ‘n 6 t/ha-opbrengsmikpunt in die Oostelike Hoëveld is.

Indien die Safex-prys teen die beraamde begrote insetkoste (uitgesluit vaste koste) realiseer, moet ‘n produsent in die Oos-Vrystaat 4,92 t/ha stroop om gelyk te breek, waar ‘n produsent in die Oostelike Hoëveld 5,61 t/ha moet stroop.

Die uitdaging en bekommernis kom voor waar die gelykbreekopbrengste vir die totale kostes (ingesluit vaste koste) bereken word: Mielie-opbrengste van 6,23 t/ha en 7,57 t/ha onderskeidelik moet gestroop word – wat ver bogemiddeld en bykans onrealisties is.

Tabel 1 illustreer verder die uiteensetting van insetkoste vir die verbouing van sojabone en sonneblom. Aannames wat met die opstel van die sojaboonbegroting gemaak is, is dat 50% van die saad deur produsente teruggehou is, terwyl die ander 50% gesertifiseerde saad is.

Die begroting sluit ook ‘n koste vir N, P en K in. Gegewe die insetkoste (vaste plus veranderlike koste), soos wat in Tabel 1 vir sojabone aangetoon is, en die gemelde Safex-prys, moet ‘n opbrengs van ongeveer 1,86 t/ha in die Oos-Vrystaat en 2,01 t/ha in die Oostelike Hoëveld behaal word om gelyk te breek.

In die geval van sonneblom, lyk die prentjie ietwat beter. Die gelykbreekopbrengs en Safex-prys kan in Tabel 1 gesien word.

Grafiek 1 toon die inligting soos in grafiekformaat in Tabel 1 geïllustreer en bereken. In Grafiek 1 word ‘n bruto marge (blou staaf = slegs veranderlike koste)-vergelyking, sowel as ‘n netto marge (rooi staaf = veranderlike plus vaste koste)-vergelyking tussen dié gewasse getoon.

Opsommend toon die grafiek dat, met die inagneming van totale produksiekoste, dit feitlik onmoontlik is dat produsente mielies teen dié mieliepryse, gegewe dié insetkoste, winsgewend kan aanplant. Sodra die vastekostekomponent by mielies ingesluit word, lyk die winsgewendheidsituasie onder geweldige druk.

In die grafiek is dit opmerklik dat sonneblom en sojabone se winsgewendheid beter as dié van mielies is.

Westelike produksiestreek
In Tabel 2 word beraamde produksiekostes vir die westelike dele van die land (Noordwes Provinsie en Noordwes- en Sentraal-Vrystaat) uiteengesit, terwyl Grafiek 2 weer eens die bruto marge- en netto marge-situasie vir die westelike dele van die land illustreer.

Alhoewel Tabel 2 en Grafiek 2 nie in detail bespreek gaan word nie, is die kerngedagte dat mielies, gegewe die kostes, nie winsgewend op marginale opbrengspotensiaalgronde aangeplant kan word nie. Die mielie-winsgewendheidsprentjie lyk egter heelwat beter indien dit in topproduksiegebiede en hoër opbrengspotensiaalgronde aangeplant word.

Sonneblom blyk maar ‘n staatmaker vir die Noordwes Provinsie te wees. Volgens die berekening wil dit voorkom asof sojabone se aanpasbaarheid in die Noordwes Provinsie nog heelwat uitdagings inhou, terwyl die margepotensiaal daarvan in die Noordwes- en Sentraal-Vrystaat hoër is.

Besproeiing
Wanneer die koste per hektaar tussen droëland en besproeiing vergelyk word, is daar ‘n aansienlike verskil tussen dié twee. Die verskil in veranderlike koste is hoofsaaklik weens die hoër plantdigtheid onder besproeiing – wat ‘n verhoging in saad- sowel as kunsmiskoste tot gevolg het. Buiten die insetprysstygings, gaan ‘n besproeiingsprodusent gebuk onder die konstante verhoging van byvoorbeeld elektrisiteit-, waterkoste en onderhoud aan spilpunte – om net ‘n paar te noem.

Tabel 3 bevat die beraamde produksiekoste vir besproeiingsgewasse vir die Noord-Kaap en Limpopo vir die komende seisoen (2018/2019).

Volgens berekeninge is die veranderlike koste om mielies onder besproeiing vir ‘n 14 t/ha opbrengsmikpunt in die Noord-Kaap te produseer, ‘n skokkende R29 755/ha, terwyl dit ±R24 983 vir ‘n 12 t/ha-opbrengsmikpunt in Limpopo is.

Indien dié Safex-prys teen die beraamde begrote insetkoste (slegs veranderlike koste) realiseer, moet ‘n besproeiingsprodusent in die Noord-Kaap sowat 15,22 t/ha stroop, terwyl die gelykbreekpunt in Limpopo rondom 11,94 t/ha is.

Volgens dié syfers is dit duidelik dat mielieproduksie onder besproeiing besonder uitdagend is en dat, sou ‘n vaste koste-komponent in ag geneem word om gelyk te breek, ver bogemiddelde opbrengste behaal sal moet word.

In Grafiek 3 word die marges tussen verskillende gewasse weer eens getoon; nou net onder besproeiing. Opsommend toon die grafiek dat winsgewende mielieproduksie onder besproeiing vir albei streke feitlik onmoontlik is.

Slotsom
Winsgewende graanproduksie is onder geweldige druk en dit is onontbeerlik dat die mielieprodusent vernuwend sal moet dink om sy eie finansiële oorlewing te verseker. Daar is natuurlik nog heelwat wat in die mark kan gebeur, maar die belangrikste punt bly dat elke produsent die verantwoordelikheid moet neem om sy eie somme te maak en daarvolgens besluite te neem.

Opregte dank aan al die landboubesighede en individue vir hul insette tot die samestelling van die begrotings.

Produsente en ander rolspelers kan die opsommende produksiekoste op die Graan SA-webwerf besigtig, terwyl die model gratis aan alle opbetaalde Graan SA-lede beskikbaar is. Stuur ‘n e-pos aan petru@grainsa.co.za tesame met jou Graan SA-lidnommer, om die model te ontvang.

‘n Produsent sonder ‘n begroting is ‘n produsent sonder ‘n plan. He who fails to plan, plans to fail.