’n Kiekie van die bekostigbaarheid van kunsmis

1931
Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA corne@grainsa.co.za

Graanproduksie se winsgewendheid is die afgelope paar jaar onder uitermatige druk. Dit voel asof insetpryse net bly styg, terwyl dit nie altyd waar is vir graanpryse nie. As inset is kunsmis ’n graan- en oliesadeprodusent se enkele grootste koste van produksie.

Afhangend van die gewas, kan kunsmis tussen 30% en 50% van ’n produsent se lopende produksiekoste uitmaak. Die prys van kunsmis is dus grootliks bepalend vir die winsgewendheid van ’n gewas.

Anders beskou kan die verhouding tussen die kunsmisprys en die markprys van grane ook ’n indikator wees van die bekostigbaarheid van kunsmis. Byvoorbeeld, sou mieliepryse styg en kunsmispryse konstant bly, sal kunsmis relatief meer bekostigbaar wees. Sou kunsmispryse egter styg en die mielieprys konstant bly, sal kunsmis relatief duurder wees. Deur hierdie relatiewe verhouding te gebruik, het Graan SA ’n bekostigbaarheidsindeks ontwikkel. Die indeks stel produsente in staat om die bekostigbaarheid van kunsmis te bepaal en te vergelyk met vorige jare.

Die bekostigbaarheidsindeks is basies die verhouding in die prys van ureum teenoor die mielieprys op ’n gegewe tydstip. Uit Grafiek 1 kan gesien word dat kunsmis tans meer bekostigbaar is as in die tydperk tussen 2008 en 2011, asook teenoor Januarie 2006.

Grafiek 1: Bekostigbaarheidsindeks.

Tendens oor langer termyn
Op ’n ander manier uitgedruk, toon Grafiek 2 aan hoeveel ton mielies oor tyd nodig was om ’n ton ureum aan te koop. Die tendens strook goed met Grafiek 1 (alhoewel hierdie ‘n jaarlikse grafiek is), wat aantoon dat die verhouding tussen kunsmispryse en mieliepryse oor tyd verswak het. Die voorlopige ruilvoet vir die nuwe seisoen is 2,9 ton mielies vir ’n ton kunsmis, terwyl die gemiddeld sedert 1990 2,7 ton mielies is. Dit is ’n goeie aanduiding dat die winsgewendheid van graanproduksie tans onder druk verkeer, gegewe die gewig wat kunsmis bydra tot ’n produsent se lopende produksiekoste.

Grafiek 2: Die hoeveelheid mielies benodig om 1 ton ureum te koop.

Tyd van aankope deur die seisoen
Omdat kunsmispryse gedurende die jaar uitermatig kan wissel, kan die tyd van aankope ’n reuseverskil in kostebestuur en wins maak.

Graan SA het uit plaaslike kunsmispryse sedert 2004, die gemiddelde maandelikse prys bereken en dit teen die totale jaarlikse gemiddeld geweeg om ’n indeks te vorm. Hierdie resultate gee ’n idee wanneer kunsmispryse tradisioneel en/of op ’n gemiddelde basis op die hoogste of laagste vlak is. Dié indeks vir ureum is in Grafiek 3 geplot, wat aandui dat ureumpryse vroeër in die jaar gemiddeld goedkoper is as later.

Grafiek 3: Ureum – seisoenale indeks.