Wat benadeel die tempo van SA se graanuitvoere?

Gepubliseer: 13 April 2023

847
Heleen Viljoen, landbou-ekonoom, Graan SA, heleen@grainsa.co.za

07/03/2023

Hawens in Suid-Afrika waardeur graan ingevoer en uitgevoer word, kan gesien word as die klep wat die binnelandse druk van opgehoopte graanvoorraad moet verlig. Ongelukkig word hierdie druk egter nie heeltemal verlig nie, maar eerder verskuif – met die druk dan op die uitvoerhawens en hul vermoë en tempo om graan uit te voer.

Suid-Afrika se vermoë om surplusvoorraad van graan uit te voer, is van kardinale belang. Nie net beïnvloed uitvoere die land se ekonomie as geheel nie, maar ook die binnelandse graanpryse. Die 2021/2022- asook die huidige 2022/2023-bemarkingseisoen word gekenmerk deur ’n groot hoeveelheid uitvoere. Die afgelope twee seisoene se mielie- en sojaboonvoorrade het gelei tot toenames in die uitvoerbare surplusse.

Toevoerroetes na die Durban-hawe is egter oorlaai en die uitvoerterminale is vol bespreek. Dit dwing graanuitvoerders om na nuwe geleenthede te soek. Dit is verder belangrik om in ag te neem dat graanuitvoere in vroeëre seisoene tussen Mei en Oktober plaasgevind het. In die laaste seisoene is graanuitvoere egter deur die hele jaar bewerkstellig – dit is beslis ’n nuwe verskynsel dat dit ook buite die normale uitvoervenster geskied. Dit impliseer dat Suid-Afrika eerder invoervervangend optree en dus genoeg graan produseer vir eie verbruik asook ekstra om uit voer, wat bydra tot voedselsekerheid.

Wie, wat, waar?
Suid-Afrika het hoofsaaklik vyf hawens waardeur graan verhandel word. Figuur 1 gee ’n grafiese voorstelling van elkeen van hierdie hawens, naamlik Kaapstad; Oos-Londen; Durban; Richardsbaai en Port Elizabeth. Hoewel al hierdie hawens graan hanteer, is elkeen nie noodwendig ingerig vir beide die invoer en uitvoer van alle kommoditeite nie. Richardsbaai-hawe het oor ’n vyfjaarge­middeld slegs 2% van die totale grane hanteer en dit was hoofsaaklik koring.

Figuur 1: Hawens in Suid-Afrika waar graan in- en uitgevoer word.
Bron: Eie samestelling

Durban-hawe
Vanaf die figuur en Tabel 1 kan waargeneem word dat die Durban-hawe verreweg die meeste graan hanteer (87% oor ’n vyfjaargemiddeld). By dié hawe tree Transnet op as die verhuurder van die agriterminale binne die hawe. In die hawe is daar drie AgriHubs wat graanin- en -uitvoere bewerkstellig. Hulle kan waargeneem word op die figuur as South African Bulk Terminals (SABT); Agriport/Transnet Port Terminals (TPT) en Durban Bulk Shipping (DBS). In samewerking met Transnet en Transnet Freight Rail (die eertydse Spoornet) werk die verskeie rolspelers saam om te verseker dat graan so effektief as moontlik uitgevoer word.

Uitdagings
Die twee grootste uitdagings wat Durban se uitvoertempo op die oomblik benadeel, is beurtkrag en diefstal. Alhoewel kabeldiefstal op die Suid-Afrikaanse spoorweë nie ’n nuwe probleem is nie, bly dit steeds ’n groot faktor wat graanuitvoere negatief beïnvloed. Die verreikende effek van beurtkrag word natuurlik ook gevoel in Suid-Afrika se vermoë om graan uit te voer. Van die drie agriterminale wat graan kan uit­voer, is slegs een nie onderhewig aan beurtkrag nie. Die DBS-terminaal wat op die Island View-gedeelte van die hawe geleë is, is langs ’n baie belangrike ekonomiese sleutelpunt van die land wat nie beurtkrag mag kry nie.

Ander uitdagings by die Durban-hawe sluit in dat daar beperkte stoorspasie vir graan is. Om effektiwiteit te verbeter, word daar dus slegs een kommoditeit op ’n slag hanteer. Nog ’n uitdaging is die diepte van die hawe. By die SABT- en Agriport-terminale kan skepe net tot op ’n sekere diepte gelaai word, waarna hulle na die DBS-terminaal moet beweeg om verder gelaai te word.

Oos-Londen-hawe
Oos-Londen is ’n uiters belangrike alternatiewe uitvoerhawe. Die heropening van dié hawe aan die einde van Februarie bied ’n groot geleentheid vir addisionele uitvoere in tye van baie hoë internasio­nale vraag. Die Junie- tot Augustus-uitvoergleuwe (slots) is baie gesog by die Durban-uitvoerterminale. As daar byvoorbeeld vyf uitvoerverhandelaars op die uitvoergleuwe bie, sal slegs ’n paar suksesvol wees. Om in hierdie maande Oos-Londen as addisionele uitvoerpunt te hê, sal beteken dat die onsuksesvolle uitvoerverhandelaars (wat nie ’n uitvoergleuf gekry het nie) steeds die moontlikheid het om die graan uit te voer. Dié uitvoerhawe is egter ook nie sonder uitdagings nie. Langtermynbelegging deur deurlopende graanuitvoere is nodig om die hawe se infrastruktuur ’n welverdiende en broodnodige opknapping te gee.

Vir interessantheid
Dit neem tussen 900 tot 1 500 vragmotors van 33 ton om een diepseevragskip van 30 000 ton tot 50 000 ton te laai. ’n Uitvoerskip se diepte wissel tussen 9,5 m en 12,5 m, afhangend van die volume wat gedra word. Dit kan drie tot vyf dae neem vir ’n skip om skoongemaak te word voordat ’n volgende kommoditeit ingelaai kan word.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.