Koringprodusente smag na ’n Kanaän

55
Ruan Schutte
junior landbou-ekonoom en
bemarker, Graan SA
ruan@grainsa.co.za

07|10|2019

Die afgelope wintergraanseisoen was weer eens ’n bewys van hoe vinnig ’n goeie afskop in ’n nagmerrie kan ontaard. Die 2019/2020-seisoen in die wintergraanstreke van Suid-Afrika het belowend begin met goeie, wydverspreide reëns. Dit het hoop gegee dat die droogtesiklus uiteindelik gebreek is. Halfpad deur die seisoen het die droogte egter opnuut kop uitgesteek en produsente het hulle weer op die haaivlakte bevind.

Internasionale oorsig
Rusland is tans die wêreldleiers in koringproduksie – hulle het produksie oor die laaste tien jaar van 41,5 miljoen ton tot 73,7 miljoen ton verhoog. Die Verenigde State (VSA), aan die ander kant, se produksie het oor die afgelope tien jaar van 58 miljoen ton tot 53 miljoen ton afgeneem. Die verhoging in Rusland se produksie het veroorsaak dat produksie wêreldwyd vinniger toegeneem het as wat die wêreldverbruik gegroei het.

Grafiek 1 toon aan dat die wêreldeindvoorraad vanaf die 2010/2011-seisoen se 193,72 miljoen ton toegeneem het tot 271,57 miljoen ton in die 2019/2020-seisoen. Daar kan ook gesien word dat eindvoorraad as persentasie van verbruik van 29% tot 36% oor dieselfde periode gestyg het. Die wêreldaanbod het van 853,39 miljoen ton toegeneem tot 1 029,04 miljoen ton, terwyl die verbruik slegs van 659,67 miljoen ton tot 757,47 miljoen ton gegroei het. Die wêreldaanbod het oor die laaste tien jaar met 17% gestyg, terwyl die wêreldverbruik van koring met slegs 13% toegeneem het.

Grafiek 1: Wêreldvoorraad: Vraag en aanbod.
Bron: Internasionale Graanraad

Plaaslike oorsig
Vanjaar lê daar weer ’n opdraande stryd vir wintergraanprodusente voor. Die seisoen het goed begin vir die Wes-Kaap sowel as die Vrystaat, met goeie reëns aan die begin van die seisoen wat gunstige toestande vir produksie geskep het. Vanaf Junie-maand het warm temperature en min reën produksietoestande egter vinnig laat versleg. Aan die einde van die seisoen het potensieel goeie oeste verdwyn en tans word gemiddelde tot ondergemiddelde opbrengste verwag.

Grafiek 2 toon aan dat invoere byna 50% van Suid-Afrika se totale koringaanbod uitmaak. Daar kan ook gesien word dat die plaaslike verbruik van koring sedert die 2015/2016-seisoen stelselmatig afgeneem het. Daarmee saam het die aanbod (plaaslik sonder invoere) wipplank gery soos die seisoene wisselvallig presteer het. Met die laaste invoere van die 2018/2019-seisoen het plaaslike voorrade toegeneem sodat daar genoeg voorraad vir die volgende drie maande is. Invoerders het die lae invoertarief van R665 benut, aangesien die verhoogde tarief van R1 009 nog nie aangekondig was nie. Volgens die nuutste SAGIS-syfer is daar 1 356 631 ton koring ingevoer gedurende die 2018/2019-seisoen. Dit is ongeveer 97% van wat die verwagte invoere vir die seisoen was.

Grafiek 2: Plaaslike voorraad: Vraag, aanbod en invoere.
Bron: SAGIS

Ten slotte
Produsente het ongelukkig nie ’n ander keuse as om maar die koffie te drink soos wat die kan hom skink nie, aangesien hulle nie die weerstoestande kan beheer nie. Moedhou is die enigste opsie! Met die droogte word nie slegs graan-, voer- en voedselproduksie onder druk geplaas nie, maar dit bedreig ook mens en dier se lewe en voortbestaan. Nuwe planne, innoverende oplossings en bekostigbare uitkomste moet konstant gevind word.

Dit is belangrik om te besef dat boerdery ’n lewensingesteldheid is en dat ’n produsent se uitkyk sy toekoms bepaal. Produksie en winsgewendheid hang ook van markkragte en weersomstandighede af en word nie net deur die produsent se persoonlike hardwerkendheid, moed en hoop bepaal nie.

Gewoonlik is die uitkoms naby wanneer die nood op sy hoogste is! Die wisselvallige rand wat die ekonomie rondskommel asook die droogtetoestande op eie bodem veroorsaak wisselvalligheid in die koringpryse. Die verswakking van die rand kan egter moontlik verligting bring en goeie pryse beteken indien die tendens aanhou tot aan die einde van die seisoen. Die feit dat Suid-Afrika ’n netto invoerder van koring is, bring verligting in die vorm van die invoerpariteitsprys wat produsente kan kry; alhoewel dit nie altyd genoeg is om kop bo water te hou nie.

Dinge is nie altyd maklik nie, maar moedhou is belangrik vir die volhoubaarheid van die bedryf. Trots is dikwels die achilleshiel van baie produsente, want dit is vir niemand maklik om te erken dat dit swaar gaan nie. Wanneer produsente egter openhartig met mekaar is en na mekaar uitreik, kan gemeenskappe mekaar dra wanneer dit moeilik gaan. Die huidige oes word nou van die lande gehaal en daar word reeds noukeurig vir die plant van die volgende een beplan. Op ’n dag sal die wolke sekerlik weer swaar word en die aarde mildelik seën met reën!