Hoe raak die minimum loon produsente?

Dirk Coetzee, arbeidsverhoudingespesialis

4843

Soos algemeen bekend is, het president Cyril Ramaphosa in November 2018 aangekondig dat ’n nuwe Wet op die Nasionale Minimum Loon vanaf 1 Januarie 2019 in werking sou tree. Met die skryf van hierdie artikel is produsente dus reeds ’n hele klompie maande gebonde aan die bepalings en vereistes deur hierdie wet gestel.

Daar is daagliks navrae rakende die toepassing van die wet en hoe dit deur die howe en die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) geïnterpreteer word. Daar word ook gevra wat die produsent kan doen om sy risiko’s te verskans. Hierdie artikel poog om hiermee te help.

Om ’n idee te kry oor die belangrikheid van hierdie kwessie vir die Departement van Arbeid en die KVBA, kan daar na die volgende statistiek (vir die eerste drie maande van 2019) vanaf die navorsers van die kommissie, gekyk word.

  • Sake na die KVBA verwys vir die eerste drie maande van 2019 het met 8% toegeneem.
  • Daar was reeds 262 sake rakende die Wet op die Nasionale Minimum Loon wat verwys is sedert Januarie 2019.
  • As die syfer verder ontleed word, het na bewering 204 werkgewers nie die minimum loon betaal nie, 34 werkgewers het eensydig werkers se voorwaardes gewysig en elf werkers is ontslaan weens die instelling van die nuwe nasionale minimum loon.
  • Daar was sewe sake oor dispute rakende nakomingsbevele, vier sake rakende personeelverminderings as gevolg van die nasionale minimum loon en twee sake waar die nakomingsbevele arbitrasietoekennings gemaak is.

Volgens die KVBA se navorsers is die meeste van hierdie sake in KwaZulu-Natal en Gauteng aangemeld en sluit dit ‘n groot verskeidenheid sektore in. Die Departement van Arbeid is volgens hulle kantore tans besig met blitsinspeksies en 1 300 inspekteurs is aangewys om die wet vir nakoming te moniteer.

Bepalings van die wet
Dit is nodig om in meer besonderhede na die wet te kyk. Dit bepaal wel lone, maar het verskeie ander bepalings waarvan werkgewers moet kennis dra.

Hierdie wet het noodwendig die wysiging van verskeie ander wette veroorsaak – iets waarop gelet moet word. Dit het ’n Nasionale Minimumloonkommissie daargestel wat verantwoordelik sal wees vir die jaarlikse hersiening van die minimum loon. Die minimum loon is vanaf 1 Januarie 2019 op R20 per uur vasgestel of R3 900 per maand vir persone wat 45 uur per week werk.

Dit bepaal egter verskillende lone vir plaaswerkers, sowel as huis- en tuinwerkers in dorpsgebiede. Plaaswerkers, wat huiswerkers op plase insluit, se minimum loon is vasgestel op R18 per uur en huiswerkers en tuinwerkers in dorpsgebiede op R15 per uur.

Die wet bepaal dat enige betalings wat aan werknemers gemaak word, wat hulle in staat stel om hul werk te doen, nie deel van die minimum loon uitmaak nie en daarom nie ingesluit kan word by die berekening van die bedrag wat aan die werknemer betaalbaar is nie.

’n Werknemer behoort dus sodanige betalings of toelae bo en behalwe die minimum loon te ontvang. Sodanige betalings sluit ’n vervoertoelaag, toelae vir toerusting, gereedskap en verblyf asook bonusse, fooitjies, skenkings en ander voorgeskrewe bedrae in. Dit stel dit egter duidelik dat indien ’n sektorale vasstelling anders bepaal, sulke aftrekkings steeds toelaatbaar sal wees.

Enige aftrekking wat van ’n werknemer se besoldiging gemaak word, moet steeds ingevolge Artikel 34 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes geskied en mag nie meer as ’n kwart van die werknemer se maandelikse vergoeding oorskry nie.

Die landbou se sektorale vasstelling is steeds van krag en sekere aftrekkings word steeds toegelaat en/of verbied daardeur. Daar sal later in die artikel weer hierna verwys word.

Wat egter verder van belang is, is dat die nuwe wet die betaling van ’n dagloon bepaal. Dagloon word in die wet omskryf as dat indien ’n werker minder as vier ure per dag werk, hy/sy steeds vir vier ure se werk betaal moet word.

Sektorale vasstelling
Soos genoem is, bepaal die Wet op die Nasionale Minimum Loon verskeie veranderinge aan die wyse waarop werkers vergoed word, maar dit behou steeds die meeste van die vereistes soos in die sektorale vasstelling vir die landboubedryf bepaal is.

Die sektorale vasstelling fokus spesifiek op die minimum voorwaardes wat geld vir die landbousektor en bepaal onder meer aftrekkings, werkstye, vereistes vir ’n geldige kontrak, ensovoorts.

Werkgewers moet daarop let dat hierdie vasstelling van toepassing is op alle werknemers in die landbousektor en dit sluit dus huisbediendes en sekuriteitswagte op plase in.

Wat hierdie vasstelling van belang maak, is dat sekere aftrekkings beperk en/of totaal verbied word. Hierdie beperkings is van belang, aangesien dit die strategieë waarvolgens produsente salarisse betaal, lenings toestaan en voordele toeken, sal beïnvloed.

Versoeke vir ’n verduideliking van die minimum loon en die wetlike aftrekkings, is volop. 90% van hierdie navrae is die gevolg van ’n wanpersepsie oor die bepalings van die sektorale vasstelling.

In die landbousektor heers daar tans ’n persepsie dat daar slegs ’n totale aftrekking van 10% gemaak mag word van die salarisse van werknemers. Dit is egter misleidend. Die korrekte posisie is dat geen werkgewer in die landbousektor ’n aftrekking van die salaris van ’n werknemer mag maak vir die verskaffing van onderskeidelik voedsel, verblyf en lenings, wat meer is as 10% van daardie werknemer se salaris vir elk daarvan nie. Die volgende voorbeeld kan ter illustrasie gebruik word. As die werknemer R4 000 per maand verdien, mag die werkgewer R400 vir voedsel, R400 vir verblyf en R400 vir lenings af­trek. Die totale aftrekkings mag egter nie meer as 25% van die werker se salaris wees nie.

Daar moet verder aan die volgende vereistes voldoen word alvorens hierdie aftrekkings gemaak mag word:

  • Die voedsel en verblyf moet op ’n gereelde basis aan die werknemers verskaf word – as ’n voorwaarde van indiensneming. Werkgewers moet dus hierdie voorwaarde in hul indiensnemingskontrakte insluit.
  • Geen ander aftrekkings mag vir voedsel en/of verblyf van die werknemer se vergoeding gemaak word nie.
  • In die geval van verblyf is dit belangrik dat geen ander aftrekking vir elektrisiteit, water of dienste gemaak word nie.
  • Werkgewers mag ook nie méér aftrek vir voedsel en/of verblyf as wat die werklike koste daarvan is nie, selfs al is daardie koste minder as die 10% van die werknemer se vergoeding waarvoor die sektorale vasstelling voorsiening maak.

By die aftrekking van die koste vir verblyf is die volgende addisionele vereistes van toepassing alvorens ’n aftrekking gemaak mag word:

  • Die huis waarin die werknemer woon, moet oor ’n dak wat waterdig is, beskik.
  • Die huis moet oor glasvensters wat kan oopmaak, beskik.
  • As die plaas die nodige infrastruktuur het, moet die huis oor elektrisiteit beskik.
  • Daar moet veilige water binne die huis of nader as 100 meter van die huis beskikbaar wees.
  • Daar moet ’n spoel- of puttoilet naby aan die huis beskikbaar wees.
  • Die huis mag nie kleiner as 30 vierkante meter wees nie.
  • Geen aftrekking vir verblyf mag gemaak word van ’n werknemer wat jonger as 18 jaar oud is nie.

Die sektorale vasstelling vir die landbousektor verbied die aftrekking van enige bedrag vir weidingsregte van werknemers se vee. As die produsent dus toelaat dat werknemers vee aanhou op die plaas, mag hy nie vergoed word vir die weiding nie. Hierdie bepaling moet in ag geneem word wanneer voordele en aftrekkings onderhandel word tussen werknemers en werkgewers.

Let daarop dat die sektorale vasstelling nie spesifiek aftrekkings vir vervoer goedkeur nie.

Die wet het verder aan die KVBA die bevoegdheid gegee om sake te besleg rakende kwessies van die minimum loon. Dit wil sê nienakoming van die wet sal deur die KVBA hanteer word en nie deur die Arbeidshof nie. Dit sal definitief goedkoper en spoediger hantering van sake tot gevolg hê.

Soos gesien kan word, het die Wet op die Nasionale Minimum Loon noodwendig verskeie wysigings aan ander wette veroorsaak. Dit sal elke produsent se menslikehulpbronstrategie sonder twyfel beïnvloed.

Dirk Coetzee is gesetel op Bothaville. Skakel hom gerus vir enige advies rakende hierdie aangeleentheid of enige ander arbeidsverhoudinge- of menslikehulpbronkwessies by 082 443 0296 en/of sy kantoor by 056 515 2001.