Wenkombinasie vir trekkers – bepaal dit só

Gepubliseer: 11 Augustus 2021

2110
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Ten einde wins te maksimeer, moet optimale opbrengste verkry word – dit vereis onder meer dat binne die optimale plantvenster geplant moet word.

Om tydig te kan plant, beteken dat al die bewerkings­aksies tydig uitgevoer moet word. Ten einde die bewerkings tydig gedoen te kry, moet produsente oor genoeg trekkers en toerusting beskik. Die lengte van die bewerkingsvensters sal bepaal hoeveel en watter grootte trekkers benodig word.

Besighede word gemeet aan winsgewendheid. Gegewe die koste van trekkers en toerusting, is dit noodsaaklik dat die produsent die regte aantal werktuie besit om die werk binne die bewerkingsvenster te kan doen. Elke trekker gaan gepaard met heelwat vaste koste soos lone en waardevermindering. Die besluit wat finansieel die meeste gewig dra, is wanneer om ’n werktuig te vervang.

Behalwe vir die vervanging, is dit moeilik om te besluit watter grootte trekker en hoeveel daarvan aangeskaf moet word. Moet die produsent net groot trekkers koop? Of eerder net een groot trekker en ’n paar kleineres? Of dalk net klein trekkertjies? Voorwaar ’n moeilike besluit – en boonop sal elke boerdery se samestelling van werktuie verskil.

Om te besluit oor die grootte trekker/s om aan te skaf, moet die produsent eers uitklaar watter bewerkings binne watter tydsduur gedoen moet word. Vir elke aksie moet bepaal word hoe lank die bewerkingsvenster is en ook hoeveel hektaar per dag met watter trekker bewerk gaan word. Die koste om hierdie spesifieke trekker te bekom, is ook belangrik.

Hulpbronne
Daar is heelwat publikasies wat die meeste van die inligting rakende bewerkingskoste asook die bewerkingstempo’s kan verskaf. Die Direktoraat Landbou-ekonomie se publikasie, Guide to machinery costs, of die meganisasiegids soos saamgestel deur die landboudienste-afdeling by die meeste landboubesighede, is van groot waarde. Oom Koos le Roux se trekkerkosteboek is weer beskikbaar by Derick le Roux. Kontak hom by deric@xourel.co.za.

In Tabel 1 word die koste asook die werkstempo’s van 70 kW- tot 80 kW-vierwieldryftrekkers getoon, terwyl dié inligting van ’n 250 kW-trekker in Tabel 2 getoon word.

Trekkerlewensduur op 12 000 uur bereken en jaarlikse gebruik op 1 000 uur
Skrootwaardes van trekkers en implemente 10% van aankoopprys
Waardevermindering per uur is die aankoopprys minus die skrootwaarde gedeel deur die lewensverwagting
Rente is bereken teen 9% van die gemiddelde belegging gedeel deur die uur per jaar gebruik
Trekkerversekering en -lisensies is bereken teen 1,75% van die gemiddelde belegging gedeel deur die uur per jaar gebruik
Herstelwerk is by trekkers gebruik teen 120% van aankoopprys gedeel deur die lewensverwagting van trekker
Implementversekering is bereken teen 1,5% van die gemiddelde belegging gedeel deur die uur per jaar gebruik
Herstelwerk by implemente is bereken teen die persentasie van aankoopprys gedeel deur die lewensverwagting van implement
Trekkerlewensduur op 12 000 uur bereken en jaarlikse gebruik op 1 000 uur
Skrootwaardes van trekkers en implemente 10% van aankoopprys
Waardevermindering per uur is die aankoopprys minus die skrootwaarde gedeel deur die lewensverwagting
Rente is bereken teen 9% van die gemiddelde belegging gedeel deur die uur per jaar gebruik
Trekkerversekering en -lisensies is bereken teen 1,75% van die gemiddelde belegging gedeel deur die uur per jaar gebruik
Herstelwerk is by trekkers gebruik teen 120% van aankoopprys gedeel deur die lewensverwagting van trekker
Implementversekering is bereken teen 1,5% van die gemiddelde belegging gedeel deur die uur per jaar gebruik
Herstelwerk by implemente is bereken teen die persentasie van aankoopprys gedeel deur die lewensverwagting van implement

Tabel 1 is opgestel deur gebruik te maak van Guide to machinery costs en ander mega­nisasiegidse en is aangepas volgens 2021 se gemiddelde pryse. In Tabel 1 word aangetoon dat ’n 73 kW-trekker 14,14 ℓ diesel gebruik en 1,08 uur benodig om een hektaar te ploeg. Dieselfde 73 kW-trekker behoort 4,35 ℓ diesel te gebruik om een hektaar met ’n sesryplanter te plant en so ’n kombinasie behoort ongeveer 30,24 ha in tien ure te kan plant. Die totale koste om ’n hektaar te dis, behoort R550,38 te beloop. Ongelukkig werk min trekkers tien ure per dag – in die meeste gevalle is die werks­tyd heelwat minder.

Tabel 2 is ook opgestel deur gebruik te maak van Guide to machinery costs asook ander meganisasiegidse wat met gemiddelde pryse vir nuwe trekkers en implemente aangepas is. Uit hierdie inligting is dit vir ’n 250 kW-trekker moontlik om 23 ha in tien ure te ploeg en 42 ha per tien ure te beitel.

Gegewe hierdie inligting en die kennis dat die lande binne 15 dae geploeg moet wees en dat daar 1 000 ha is om te werk, sal daar 66 ha per dag geploeg moet word. As aanvaar word dat die trekker tien ure per dag kan werk, sal daar drie 250 kW-trekkers benodig word om die werk binne die tyd afgehandel te kry. Ten einde dieselfde plaas met 70 kW- tot 80 kW-trekkers te ploeg, sal daar om en by sewe trekkers benodig word.

Metodes van berekening
Daar is verskeie wiskundige metodes wat gebruik kan word om die optimale kombinasie van trekkers en toerusting te bepaal. Liniêre programmering is ’n bekende metode wat aangewend kan word om die optimale trekkergroottesamestelling te bepaal.

Indien daar ’n keuse tussen modelle gemaak moet word, is dit belangrik dat die volgende inligting beskikbaar moet wees:

  • Die bewerkings wat gedoen moet word.
  • Aantal dae waarbinne die bewerkings gedoen moet word.
  • Watter bewerkings gelyktydig gedoen moet word.
  • Hoeveel hektare per dag per trekker per bewerking gedoen kan word. (’n Fout hier sal die verkeerde antwoorde verskaf en tabelle moet verkieslik met werklike syfers vergelyk word.)
  • Die koste vir die aankoop van die verskillende trekkers.
  • Koste per trekkeroperateur.
  • Die hoeveelheid diesel per trekker per aksie benodig.
  • Herstelwerk per trekker per aksie benodig.

Met hierdie inligting beskikbaar, is dit moontlik om ’n optimale trekkersamestelling te bereken wat in staat is om die koste vir die plaas te minimeer.

As Tabel 3 se inligting in ’n kosteminimerings- liniêre bewerkings­model opgeneem word, kan die beste en goedkoopste kombinasie van trekkers bereken word. Hierdie modelle se antwoorde is redelik akkuraat en soms verskil die aanbeveling en wat in praktyk gebeur drasties. Die grootste faktore wat die keuse van trekkersamestelling beïnvloed, is die:

  • aanwendingsmoontlikhede van die trekkers;
  • koste per kilowatt;
  • hektare bewerk in tien ure;
  • dieselgebruik; en die
  • arbeidskoste van die operateurs.

Anders as verwag, het die koste van die operateurs nie regtig ’n effek op die keuse van die trekkers nie. Wat wel ’n verskil in die keuse van die trekkers maak, is die koste per kilowatt. Sodra die koste per kilowatt dieselfde gemaak word, speel die brandstofverbruik per hektaar ’n groot rol in die keuse.

In Tabel 4 word die resultate vir die liniêre model om die beste kombinasie te bepaal, aangetoon. Hierdie resultaat toon duidelik dat die werk met nege 66 kW-trekkers binne die verwagte tyd gedoen kan word. Indien een van die trekkers tydelik onklaar raak, behoort daar genoeg kapasiteit te wees om nie te ver agter te raak nie.

Sodra die pryse per kilowatt dieselfde gemaak word, verander die prentjie dramaties. In Tabel 5 word hierdie antwoorde verskaf. Omrede daar so baie in kapitaal belê word, speel die koste van arbeid ’n mindere rol. Voor die model enige verandering in die kombinasie van trekkers gekoop maak, moet die koste van arbeid dramaties bo diehuidige en verwagte pryse styg.

Hierdie antwoord toon dat dieselfde werk met slegs vier trekkers ook gedoen kan word. Daar behoort in hierdie kombinasie genoeg spaar­kapasiteit te wees om ’n ernstige brekasie te kan akkommodeer.

Groter trekkers swaarder op diesel
Die inligting wat in Tabel 3 ingesluit is, is verkry uit verskillende bronne waar die effektiwiteit van trekkers en hul dieselgebruik gemeet is. Volgens hierdie bronne is die groter trekkers swaarder op diesel as die kleiner modelle. Hierdie inligting word ook in die berekening van die optimale kombinasie gebruik. As die effek van dieselgebruik reggestel word, sal die model eerder groter trekkers kies, maar die koste per kilowatt speel steeds die oorheersende rol in die keuse van trekker.

In die praktyk beteken dit dat daar nie ’n standaardresep vir almal is nie. Die produsent kan gelukkig uit verskillende trekkerfabrikate en -modelle kies – onthou net dat die keuse finansiële gevolge het. Te veel trekkers is net so sleg as te min. Doen moeite om die regte kombinasie en aantal trekkers te kies en maak seker dat hulle effektief werk.

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir enige navrae.