In 2024 was Daniël Slabbert een van die Groei vir Goud-nasionale opbrengskompetisie se groentjies wat die afdeling vir sojaboonverbouing in die oostelike Vrystaat gewen het met ’n opbrengs van 3,71 t/ha.
Dit was egter nie net ’n blote gelukskoot nie, want vanjaar het Slabbert weer met die louere in hierdie afdeling weggestap met ’n opbrengs van 5,55 t/ha. Die Pioneer-variëteit P64T39R het nie net getrou gesorg vir goeie opbrengste die afgelope paar jaar nie, maar het ook ’n groot bydrae gelewer sodat hy weer ’n eerste plek in die kompetisie kon behaal.
Slabbert bedryf ’n eenmanboerdery onder die naam Sanctuary Boerdery op die plaas Sterkfontein in die driehoek tussen Bethlehem, Afrikaskop en Harrismith. Na skool het hy gaan boer, want vir hom was daar geen ander toekoms as die plaaslewe nie. “Ek het nie eers belanggestel in naskoolse studies nie. My kop het plaas toe gestaan. Ek was nog nooit een oomblik spyt oor daardie besluit nie.”

Hy verbou sojabone, mielies en wit bone en boer ook met wit Brahman-beeste. “Die verskillende gewasse en vertakkings van die boerdery vul mekaar goed aan en help dat ek in ’n mate van my risiko’s kan versprei.”
Vandat hy die boerdery oorgeneem het, het hy in nuwe tegnologie belê wat hom in staat gestel het om minder bewerking te doen. Hy sê dat hy van plan is om mettertyd verder in tegnologie te belê. “Op die oomblik skakel ek stelselmatig oor na nuwe tegnologie soos wat die seisoene en my begroting my toelaat.”
Slabbert probeer so ver as moontlik volhou met minimumbewerkingspraktyke, maar meen dit is nodig om soms ’n diep grondbewerking in die ry te doen. Hy volg dit op met ’n krapbewerking om die saadbed voor te berei waarna hy plant. In die winter bewei die beeste die oesreste. “Die beesmis en -urine is goed vir die grond.”
Hy volg ’n wisselboustelsel en probeer om nie twee jaar na mekaar dieselfde gewas op ’n land te plant nie. “As gevolg van veranderinge in die seisoene werk my wisselbousisteem nie altyd heeltemal uit soos wat ek dit beplan het nie.”
Die sojabone is van die begin van Oktober tot middel November 2024 met ’n John Deere 1755-planter teen ’n plante-stand van 220 000 plantjies/ha in 91 cm-rye geplant. Hy het twee stropers ingespan om die sojabone van die lande af te kry – ’n John Deere S670 en ’n John Deere 9670 STS.
Wanneer hy moet besluit oor nuwe basters, maak hy baie staat op die inligting wat hy uit sy eie proewe versamel. “Ek doen graag my eie proewe en vergelyk dit dan met die nasionale proewe of met dit wat by my medeboere geplant is. My eie proewe gee vir my die beste idee van watter van die nuwe produkte die beste op my grond en in my stelsels presteer.”
Die 2025/2025-seisoen se klimaat het vir ’n paar uitdagings gesorg, sê hy. Dit was uiters nat gedurende planttyd en toe strooptyd aanbreek het die nat toestande dit moeilik gemaak om in die lande te kom om te stroop.
Hy noem dat die grondtipes van die plase waarop hy boer wissel van leem- tot sandgronde. Hy pas presisieboerdery toe en bestuur die grondverskille deur gereeld grondontledings en grondkarterings te doen. Op grond van elke jaar se grondontledings dien hy kalk variërend toe op die lande.
Wat onkruidbeheer betref, dien Slabbert met plant Strongarm en Metalla960 toe en volg dit na opkoms op met Roundup.
Hy het twee keer vir bolwurm gespuit – op party van die lande tot drie keer. Hy het ook sy saad behandel met SuperSede, Biosynth STSA en RhizoFlo Professional van BASF.
Slabbert sê dat hy verskillende bronne raadpleeg vir inligting wat hy in sy boerdery toepas. “Ek kry inligting by maatskappyverteenwoordigers, by my medeboere en ook wanneer ek boeredae bywoon. Ek lees graag landboupublikasies en kyk Landbouweekliks op die VIA-kanaal.”

Hy gee graag erkenning aan die ander uitstekende jong produsente in sy omgewing. “Ek is bevoorreg dat daar so ’n verhouding tussen ons bestaan dat ons by mekaar kan leer.”
Verder is hy dankbaar dat hy die geleentheid gehad het om by insetverskaffers aan te klop as hy inligting nodig gehad het die afgelope paar jaar wat hy op sy eie boer. “As ek die tydperk in oënskou neem, kan ek nie anders as om dankbaar te wees vir die kanse wat ek gegun is nie. Daar is ongelooflik baie mense wat my gehelp en ’n kans gegun het. Dit is hierdie ondersteuning wat my ’n hupstoot in die bedryf gegee het.” Winsgewendheid per hektaar is vir hom belangriker as hoë opbrengste. “Goeie opbrengs per hektaar speel natuurlik ’n rol, maar ’n mens moet ook ’n streng oog hou op insetkoste.”
Sy positiewe ingesteldheid teenoor die lewe word weerspieël in sy boerdery. “Ek is oor die algemeen ’n positiewe mens en soek altyd die silwer randjie om die grys wolke.”
As hy moes raad gee aan ander jong produsente, sou dit wees om positief te bly. Dit is ook belangrik dat jy in jouself en dit wat jy doen bly glo.
Vir hom is sy gesin een van die belangrikste dinge in sy lewe – hulle kom altyd eerste. “My verhouding met my werkers is net so belangrik, want sonder hulle sal ek nooit kan vermag wat ek beplan nie.

Ek glo ook dat goeie verhoudings met my insetverskaffers van kardinale belang is.”
Benewens medeprodusente en individue van insetverskaffers wat ’n groot rol in sy sukses speel, sien hy sy Skepper as sy hoofmentor. Wanneer hy raadop is en nie weet wat hy moet besluit nie, gaan sit hy êrens op die plaas en stort sy hart uit teenoor die Here. “Wanneer ek so my hart oopmaak en al my probleme aan die Here se voete neerlê, vind ek berusting en kry ek duidelikheid oor wat my te doen staan.”

















