Wisselbou – goed vir die natuur, swaar op onkruid

Gepubliseer: 23 Februarie 2022

909
Dr Johann Strauss, Direktoraat Plantweten-skappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou

Onkruidbeheer is een van die belangrikste aspekte van gewasverbouing, maak nie saak waar of waarmee geboer word nie. Oor die algemeen het insetkoste die laaste klompie jare die hoogte ingeskiet en gevolglik is die winsgewendheid van plase al hoe meer onder druk. Dit raak ook toenemend belangrik om hoë opbrengste te behaal om kop bo water te hou. Die alternatief is die afbestuur van insette, waaronder bemes­ting en chemie, maar dit kan slegs gedoen word met die toepassing van goeie wisselboupraktyke.

Die opbou van weerstand in sommige onkruidspesies is ’n groot bedreiging weens oormatige steun op sekere onkruiddoders, veral binne monokultuurverbouing of min diversiteit wat gewasse betref. Tot onlangs toe was daar ook nog groot benoudheid oor die prys en beskikbaarheid van een van die algemeenste onkruiddoders.

Dié artikel het nie ten doel om krities te wees oor die praktyke wat tans gevolg word nie, maar eerder om kennis te deel wat dalk nuwe hoop aan produsente kan bring. Die inligting is ontgin uit die data van die langtermynwisselbouproef op die Langgewens-navorsingsplaas in die Swartland in die Wes-Kaap, waar raaigras ’n ewige kopseer is. Of dalk nie!

Langtermynwisselbouproewe
Die sukses van die bewaringslandbouproewe op Langgewens is reeds welbekend, veral die effek van wisselbou op die koringopbrengs. Hierdie artikel lê egter klem op een van die redes waarom sulke verskille voorkom. In 2021 was die proewe in die 26ste jaar. Die waarnemings wat hier beskryf word, word dus gerugsteun deur werklike data oor ’n lang tydperk. Om die effek hiervan te illustreer word spesifiek gekyk na hoe verskillende bestuursaspekte die hoeveelheid – en die verskeidenheid – onkruide beïnvloed. Die verskillende effekte sal saam vergelyk word volgens gewas en be­stuursdiversiteit. Die effek op die koringopbrengs word ook bekyk.

Onkruiddoders
Die afwisseling van chemie is een van die strategieë om weerstand teen onkruiddoders te bekamp, met ander woorde die afwisseling tussen funksionele onkruiddodergroepe. Hierdie praktyk word nou­geset op Langgewens toegepas.

Daar is gesien dat die verskeidenheid van onkruiddoders wat gebruik is, nie ’n betekenisvolle effek op die hoeveelheid of die diversiteit van die onkruidsaadbank gehad het nie. Dit is egter steeds belangrik om ’n verskeidenheid te gebruik om weerstand te voorkom. Wat wel duidelik na vore gekom het, is die effek van die hoeveelheid onkruiddoder wat gespuit is. Hoe meer onkruiddoder gespuit is, hoe minder was die diversiteit in die tipe onkruid wat voorgekom het. Dit het veroorsaak dat die aantalle van spesifieke soorte onkruid vermeerder het. Dit is dus seleksie vir ’n enkele tipe met groot aantalle, soos raaigras op die proewe. Die vraag kan nou gevra word hoekom ’n verskeidenheid van onkruide dan eerder verkies word. Die maklike antwoord is dat ’n verskeidenheid, waarvan die aantalle baie laag is, eerder verkieslik is as een oorheersende on­kruid wat moeilik is om te beheer. Dit dra ook by tot die behoud van biodiversiteit.

Bemesting
Dit was baie interessant om op te let dat hoe meer stikstof toegedien is, hoe meer onkruid was daar. ’n Kleiner verskeidenheid van on­kruidtipes het ook voorgekom. Daar was geen effek ten opsigte van die toediening van fosfaat en kalium nie. Wat wel na vore gekom het, was die effek van die diversiteit van stikstofbronne. Hoe meer divers die bronne was, hoe laer was die onkruiddruk en hoe groter was die verskeidenheid onkruid. Die aantalle was egter baie laag (dus geen ekonomiese impak nie).

Die stelseleffek
Al agt stelsels wat deel uitmaak van die vierjaarwisselboustelsels word in Tabel 1 aangedui. Die eerste vier is suiwer kontantgewasstelsels en die laaste vier ’n kombinasie van weidings- en kontantgewasse. Al die weidingstelsels is deur skape bewei.

Uit die opsomming van die data het dit geblyk dat ’n groter verskeidenheid van gewasse laer onkruidgetalle tot gevolg gehad het. Dit is in teenstelling met die monokul­tuurstelsel en die stelsel waarby drie jaar koring en slegs een jaar kanola ingesluit is. Meer onkruiddoder is in die kontantgewas­stelsels gebruik vergeleke met die weidingstelsels. Die insluiting van ’n peulgewas het bygedra tot meer diversiteit in die stikstofbronne. In die weidingstelsels waar skape deel van die pakket was, is ’n verdere stikstofbron tot die verskeidenheid bygevoeg in die vorm van mis en urine. Dit het die verskeidenheid van onkruid verhoog, maar die onkruiddruk betekenisvol verlaag. Die weidingstelsels het ook minder stikstof uit ’n sak ontvang.

Stelseleffek op opbrengs in 2021
Die grafieke toon die effek van onkruiddruk baie duidelik aan deur middel van die wisselbouproef se opbrengsresultate. Hoe meer graan in ’n ry verbou word, hoe swakker is die opbrengs (Grafiek 1) – soos in die geval van die monokultuurstelsel en waar koring drie jaar na mekaar geplant is. Grafiek 2 illustreer die opsomming van die gemiddelde koringopbrengs per hektaar binne die agt verskillende wisselboustelsels.

Grafiek 1: Uitbeelding van die koringopbrengs ná verskillende gewasvolgordes.
K = koring, C = kanola, L = dekgewas, M = medics, Mc = medics/klawer
Grafiek 2: Gemiddelde koringopbrengs per wisselboustelsel in 2021
(verwys na stelsels soos beskryf in Tabel 1).

Kanola wat ná die graan van drie jaar geplant word se opbrengs verskil sowat ’n ton per hektaar. Die kanola in die ander kontantgewasstelsels was sowat 700 kg laer as die kanola ná medics. Al die stelsels is met dieselfde kultivar geplant.

Dekgewasse
Oor die afgelope vyf jaar van die proef is die lupiene in die stelsels vervang met ’n multispesiedekgewas wat oorwegend op peulplante gegrond is. Die gebruik van die dekgewas het verder bygedra tot die verlaging van die onkruiddruk in die stelsels waar dit voorgekom het. Die dekgewas is met 3 kg N/ha tot 7 kg N/ha geplant, waarna die hek toegemaak is. Geen ander insette is op die dekgewas gedoen nie en dit is aan die einde van die seisoen getermineer voor die gewasse saad kon produseer.

Danksy die gebruik van die dekgewas is die verskeidenheid van stikstofbronne dus verhoog met vier verskillende peulgewasse, minder kunsmis uit ’n sak is toegedien oor die totale stelsel en die gewasdiversiteit is verhoog. Indien die dekgewas boonop bewei word, verhoog die verskeidenheid van stikstofbronne. Die skape vreet verder die onkruid saam met die gewas en minder onkruiddoder word gebruik. Om onkruid suiwer met ’n dekgewas te onderdruk, moet baie biomassa van die dekgewas teenwoordig wees.

Gevolgtrekking
Die afwisseling van gewasse en spuitstowwe asook die insluiting van diere kan alles gesien word as maniere om die omge­wing waarin onkruid floreer te versteur. Die toestande wat die onkruid elke jaar ondervind, word dus verander met die doel om die kanse te beperk dat een onkruidspesie elke jaar vermeerder (aantal) en verder om te voorkom dat ’n spesie heeltemal uitgewis word (bewaar diversiteit). Dink mooi aan die omgewing en wat die beste vir die natuur is met elke boerderybesluit wat geneem word.