Agri SA-bedryfskamer bepaal fokuspunte

Mariëtta Cronjé, SA Graan/Grain medewerker

1453

Gedurende ’n onlangse strategiese sessie het die Bedryfskamer van Agri SA verskeie fokuspunte vir die volgende vyf jaar geïdentifiseer.

“Die laaste paar jaar het georganiseerde landbou baie gedoen om die produsent op grondvlak teen ongunstige beleid en aksies te beskerm. Daar is gewaak teen beperking op grondbesit, ’n radikale wysiging van die eiendomsklousule in die Grondwet, skaliegaseksplorasie in die Karoo en ander ongunstige ekonomiese en omgewingsbeleid,” sê me Jolanda Andrag, hoof van Agri SA se Bedryfskamer.

“Georganiseerde landbou in sy geheel het egter opnuut besef dat mededingendheid nie alleenlik net deur ’n defensiewe strategie verseker kan word nie. ’n Kollektiewe en gefokusde poging is nodig om landbou, te midde van politieke en ekonomiese onsekerhede, te laat groei.

“In reaksie hierop sal die Bedryfskamer vir die volgende vyf jaar fokus op handel, landbou-ontwikkeling, navorsing en ontwikkeling, biosekuriteit en die ontsluiting van waardekettingsinergieë.

Handel
“Die doel is om produsente se plaaslike en internasionale mededingendheid te verseker deur insette te lewer op beleid en aktief deel te neem aan handelsforums as deel van ’n gekoördineerde bedingingstrategie vir ’n gunstige handelsomgewing. Sekere aksies in oorleg met bedryfslede word ook beplan.

“Tans is 24 uit die 36 kommoditeite wat in Suid-Afrika geproduseer word netto uitvoerders. Gevolglik word daar beplan om volgehoue aandag te skenk aan die ontsluiting van nuwe markte. Veral hoëwaarde- en snel groeiende markte soos Suidoos-Asiese markte, ons mede-Brics-lande en die Europese mark word geteiken.

“Die geleenthede en risiko’s wat die Afrika-vryehandelsooreenkoms inhou, is ’n brandende kwessie. Ander meer bedryfspe­sifieke sake met betrekking tot tariewe, diere- en plantgesondheid sowel as doeaneverwante sake sal ook aangepak word.

Landbou-ontwikkeling
“Teen die agtergrond van ’n onregverdige verlede is die uitdaging nie net om volhoubaar te transformeer nie, maar ook om seker te maak dat die bedryf in die algemeen groei. In die afgelope 25 jaar het landbou met beperkte bystand van die regering ’n merkwaardige ontwikkelingswerk gedoen waarop daar nou voortgebou moet word.

“Tans word daar aandag gegee aan die ontsluiting van finansieringsgeleenthede deur die daarstelling van ’n landbou-ontwikkelingsfonds wat deur Agri SA in samewerking met finansieringsinstansies gedryf sal word.

Landbounavorsing en -ontwikkeling
“Landbounavorsing en -ontwikkeling is as ’n prioriteit geïdentifiseer weens die belangrike bydrae wat dit lewer om landbou-ontwikkeling teweeg te bring. Die bedryf se mededingendheid word ondermyn deur beide ’n onvermoë om die hulpbronne in ons instellings ten volle te benut en om samewerkende navorsing in die privaat sektor te bevorder.

“Kommoditeite sal daadwerklik in die toekoms op ’n gekoördineerde wyse vennootskappe met akademiese instellings moet bewerkstellig. Die uitgangspunt moet samewerking wees ten einde duplisering te vermy.

“Met die verminderde bronne vir navorsing is dit belangrik dat ’n balans gevind word tussen fundamentele en toegepaste navorsing. Daar sal verder aandag gegee moet word aan die kurrikulum van landbou-opleidinginstansies om in die behoeftes van die onderskeie bedrywe te voorsien.

Biosekuriteit
“Die toename in die voorkoms van diere- en plantsiektes hou ernstige bedreigings vir landbou in. Biosekuriteit as ’n fokuspunt is nie alleen noodsaaklik vir handel nie, maar ook vir die bevordering van volhoubare landbou en voedselveiligheid.

“Agri SA beplan om in oorleg met sy lede verskeie aksies van stapel te stuur en moontlike langtermynoplossings vir uitdagings soos byvoorbeeld naspeurbaarheid te ondersoek. Soos in die verlede sal Agri SA moontlike biologiese risiko’s wat met invoere gepaard gaan, monitor en gepaste optrede deur die regering vra.

Sinergieë binne die waardeketting
“Agri SA se strategie is om die hele landbouwaardeketting onder een struktuur te verenig. Die organisasie is enig in sy soort in die sin dat dit primêre, sekondêre en tersiêre ekonomiese rolspelers verteenwoordig en verenig.

“Geen segment van die landbouwaardeketting staan in isolasie van ’n ander nie. Uiteraard het elke segment se uitdagings ’n rimpeleffek op die hele waardeketting en is dit gevolglik belangrik dat daar deurlopend interaksie tussen rolspelers moet wees om oplossings te soek wat die winsgewendheid van die hele waardeketting kan versterk.

“Verder is daar ’n magdom energie binne die transformasiespasie en ons wil graag die ondernemings en organisasies, wat elk met hul onderskeie projekte besig is, nader aan mekaar bring en sodoende sinergie ontsluit.

“Die toekoms van ons land is grootliks vervleg met die wyse en mate waartoe uitdagings in die landbousektor te bowe gekom kan word. In die huidige ekonomiese omstandighede is samewerking ’n vereiste vir sukses en Agri SA bied ’n unieke platform om die nodige vennootskappe te sluit,” sê Jolanda.