Hy leef sy droom en lewer ’n droomoes

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 10 Desember 2021

187

Bernard Muller van Odendaalsrus is aangewys as die wenner van die Groei vir Goud-kompetisie se afdeling vir sojabone op watertafelgronde. Bernard was voorheen ’n landboukundige en ’n “naweekboer’’, maar die afgelope nege jaar boer hy voltyds met kommersiële vleisbeeste en somergraan.

In die seisoen wat pas verby is, het hy 170 ha sojabone geplant met die Pioneer-kultivar, P 71T74R, op 75 ha daarvan. Die wenopbrengs wat hiermee behaal is, was 5,09 t/ha. Die vorige jaar het Bernard mielies met ’n gemiddelde opbrengs van 6,8 t/ha op die spesifieke land gehad.

Beste kultivar vir sy plaas
Hy het twee jaar gelede begin om sojabone as ’n alternatiewe gewas op die plaas te toets. Verskillende kultivars met verskillende bemestingpraktyke is geëvalueer om hom te vergewis van die beste kultivar vir sy plaas en omstandighede. Die gemiddelde opbrengs wat hy met dié kultivar oor 75 ha verkry het, was 4,7 t/ha. Hy het ook Pannar se Pan 1644, Pan 1521 en Pioneer se P 64T39R geplant en die gemiddelde sojaboonopbrengs op die plaas was 3,8 t/ha.

Volgens Bernard het alles reg verloop gedurende die seisoen – die regte hoeveelheid reën het op die regte tyd geval. Die omge­wing is gewoonlik baie warm vanaf middel Desember tot einde Januarie, maar die afgelope seisoen was uniek met meer gematigde temperature en meer dae met bewolkte weer. Daar was wel ’n paar dae met hoë temperature, maar die groeiseisoen was baie gematig. Wat reënval betref, het hy 550 mm reën gedurende die groeiseisoen ontvang: As die opbrengs gemeet word in graan­opbrengs per vog werk dit uit op 9,26 kg/mm reën.

Die grondvog aan die begin van die seisoen was ideaal vir plant, met goeie reënvalverspreiding deur die groeiseisoen. Die plante kon maklik deur die fisiologiese groeistadia ontwikkel en het natuurlik afgedroog sonder dat lae temperature die plante laat vrek het.

Bernard is baie bly dat hy die sojabone op ’n land geplant het waar daar die vorige seisoen mielies was. “Nadat die grond alreeds goed nat was, het dit een middag 90 mm gereën toe die sojabone nog klein was. Gelukkig het die son vir twee weke daarna geskyn en het die plante nie waterskade opgedoen nie. Indien dit ’n oorlêland was, kon die sojabone heel moontlik versuip het as gevolg van die baie reën wat ons gedurende die seisoen ontvang het. Dit wil ook voorkom of die sojabone die baie water beter hanteer het as die mielies en sonneblom.”

“Ons is deur twee verwoestende droogtes die afgelope sewe jaar. Hierdie jaar was ’n besonder goeie reënjaar en ek is baie dankbaar daaroor.”

Bernard het gevind dat goeie entstof die basis vorm van suksesvolle sojaboonproduksie en hy maak seker dat die entstof asook die saad wat geënt is, so ver moontlik in die koelte gehou word. “Die bakterieë sterf af wanneer dit met sonlig in aanraking kom.” Omdat sojabone baie gevoelig vir nematodes (aalwurm) is, het hy Valum van Bayer tydens plant toegedien.

P 71T74 R beskik oor die stay green-effek wat beteken dat plante relatief groen bly tot aan die einde van die groeiseisoen. Hierdie eienskap dra by tot beter graanvulling met ’n goeie skepelmassa. “Indien ’n mens nie die kultivar ken nie, skrik jy nogal wanneer jy moet begin stroop. Die stamme vertoon nog groen hoewel die graan reeds minder as 12% vog het. Dit is oor die algemeen moeilik en stadig om sojabone te stroop, maar met so ’n goeie opbrengs het ek nie omgegee om nog ’n bietjie stadiger te stroop nie. Dit was alles die moeite werd,” aldus Bernard.

Bernard Muller se besonder goeie sojaboonoes het aan hom die eerste plek in die afdeling vir sojabone op watertafelgronde besorg.

Bernard probeer om ongeveer 40% witmielies, 20% geelmie­lies, 10% sonneblom en 30% sojabone te plant. Die graan word in die mark gelewer en hy maak baie staat op die oesreste vir oorwintering van sy vleisbeeste. Sojaboonreste word gebaal vir eie gebruik asook om te verkoop.

Die dominante grondtipe op die plaas is Avalon met minder as 8% slik en klei in die bogrond. In die watertafelgrond wissel die klei- en slikinhoud in die ondergrond tussen 14% tot 18% met ’n voghoudende keerlaag op ’n diepte van 1,4 m tot 1,7 m. Bernard doen grondontledings van die bo- sowel as die ondergrond en gebruik die inligting om wanbalanse en tekorte te identifiseer. Sy plantvoe­dingsprogram word dan daarvolgens saamgestel, met inagneming van die gewas se opbrengsmikpunt. Op sommige lande het die praktyk ’n merkbare verskil gemaak.

Hy doen ’n skeurploegbewerking van 80 cm diep volgens ’n beheerde spoorverkeerstelsel. Daarna doen hy ’n rolstaaf-bewerking met die doel om die saadbed gelyk te maak en die grond te seël. Hy laat genoeg plantmateriaal op die bogrond om die grond te bedek en winderosie te bekamp. Volgens hom verkies sojabone ’n vaste, ferm saadbed en gevolglik doen hy geen verdere meganiese bewerkings nie. Nat bogrond is noodsaaklik vir goeie ontkieming, dus word die grond nie weer meganies versteur nie.

Winderosie is ’n groot probleem op die sandgronde en daarom probeer hy alles om die saailing so sterk as moontlik te kry.

Opslag en onkruid word chemies beheer. “Ek begin altyd met ’n saadbed wat onkruidvry is en dien ’n vooropkomson­kruidbespuiting direk na plant toe. Na opkoms van die gewas word onkruid slegs chemies beheer. Omdat ek versigtig is om ’n vol dosis on­kruiddoders op klein sojaboonplantjies toe te dien, doen ek my eerste Roundup-bespuiting teen ’n lae dosis terwyl die onkruid baie klein is. Eers later wanneer die plantjies sterk is, spuit ek die volle dosis.”

Hy waarsku egter dat hierdie praktyk nie sal werk indien dit ’n land is met hardnekkige on­kruid nie en sê die bespuitings en produkte moet dan aangepas word om die spesifieke onkruiddruk te takel.

Hy gebruik enkelvoudige kunsmis van Omnia in die verhouding van 20 kg N, 18 kg P en 25 kg K per hektaar met Ca, Mg, S en Zn. Hy bandplaas dit vlak, drie maande voor planttyd, op die sone waar geplant gaan word.

Wanneer die somme klop
Bernard se insetkoste was R1 491,78/ton en R7 600/ha vir die spesifieke sojaboonkultivar, maar hy sê dat dit nie noodwendig as norm gebruik kan word nie. “Dit gebeur nie baie dat alles so mooi in jou guns werk nie. Vir beplanningsdoeleindes dink ek ’n syfer van R2 533/ton teen R7 600/ha met ’n opbrengs van 3 t/ha is ’n veiliger keuse vir die omgewing.”

Hy voel die koste stem ooreen met die res van die koste op die plaas. Hy het niks addisioneel op die land gedoen nie, maar omdat insetkoste jaarliks styg en produkpryse verskil, het dit ’n invloed op elke produsent se individuele insetkoste. Hy meen tog dat sy praktyke se koste so effens meer is as die gemiddelde insetkoste in die omgewing.

Wat insetkoste betref, was kunsmis vir hom die duurste inset, gevolg deur saad, oesversekering, aalwurmbeheer, brandstof, onkruiddoder en entstof. Volgens Bernard pas alles soos boublokkies inmekaar. “Sou jy een aspek afskeep of dink dat daar op een aspek gespaar kan word, val die boublokkies inmekaar en ly jy skade. Sekere dinge moet maar reg gedoen word en uitgawes moet aangegaan word met die oog op ’n goeie oes.”

“Ek maak nie gebruik van rekenaartegnologie vir veranderlike toediening van kunsmis en saad nie. Ek is self intensief op die lande betrokke en ken die grond wat ek bewerk. Met die kennis beplan ek elke seisoen hoe om die grond te benader en bereken wat toegedien moet word en watter behandelings nodig is. Die hoeveelheid beskikbare opgegaarde grondwater voor plant word gebruik vir besluit­neming ten opsigte van gewaskeuse, plante­stand, planttyd en bemestingspeile. ’n Mens werk met ’n produksiesisteem met baie veran­derlikes en interaksies tussen die veranderlikes wat in ag geneem moet word.”

Bemarking van graan bly vir hom ’n uitda­ging. “Dit sou baie lekker gewees het indien ’n mens kon weet wanneer die prys op sy hoogste is,” meen hy.

Om sy kennis en ervaring uit te brei, vra hy advies by medeprodusente en insetverskaffers se verteenwoordigers. Hy doen ook heelwat opleeswerk en gebruik die internet vir navorsing. “Ek kyk na ander produsente se praktyke en oesopbrengs om te sien waar ek kan verbeter.”

Raad aan produsente
Bernard se raad aan ander is om hulle met kundige persone te omring wat goeie en eerlike advies gee. Hy maan ook dat dit noodsaaklik is om deeglik bewus te wees van jou grond se produksievermoë wat die fisiese en chemiese grondeienskappe insluit en om dit dienooreenkomstig met inagneming van die klimaat te bestuur. “Wees versigtig wanneer jy boerderymo­delle en -praktyke van rolmodelboerderye wil najaag. Baie keer lyk dit net aantreklik van buite af, maar is glad nie so goed as wat jy dink nie of nie geskik vir jou omstandighede nie.

“Jy moet baie keer belangrike besluite op jou voete neem. Dit is nie altyd moontlik om al die opsies te oorweeg nie. Hoewel dit nie noodwendig die beste besluit is nie, was dit die besluit wat jy op daardie oomblik geneem het met die kennis tot jou beskikking. Maak vrede met hierdie situasies.”

Dit was vir hom ’n groot uitdaging om 14 jaar gelede met beperkte hulpbronne te begin boer en sê dat dit dikwels baie intimiderend was om tussen gevestigde boerderye te boer waar daar voldoende bedryfskapitaal, toerusting en grond was. Desnieteenstaande het hy sy droom uitgeleef en die beste gemaak van dit wat hy tot sy beskikking gehad het. Dit is dan ook die raad wat hy aan jong produsente gee. “Jy moet geniet wat jy doen, bly glo en vertrou en leef na aan jou Skepper. Dit is baie lekker om besonder goeie oeste te stroop, maar die kans is net so groot om ’n swak oes te kry en daarom moet jy daarvoor ook voorbereid wees.”

Bernard meen dat sukses bereik word wanneer die basiese dinge reg gedoen word.