‘n Handvol nuwe kultivars getoets

Gepubliseer: 8 Februarie 2022
Dr Wikus Snijman, projekbestuurder: Grondboonsaadproduksie, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

766

Nasionale grondboonkultivarevalueringsproewe word jaarliks deur die LNR-Graangewasse in samewer­king met die bedryf uitgevoer, waar plaaslik geregi­streerde kultivars van verskeie maatskappye asook LNR-teellyne in die grondboonproduksiegebiede van Suid-Afrika getoets word.

Die inligting wat uit hierdie evaluasies versamel word, is van groot belang vir die grondboonbedryf en word deur produsente benut om kultivarkeuses uit te oefen en deur saadprodusente om te bepaal waar individuele kultivars goed presteer.

Agtien LNR- en SA Nuts-genotipes is gedurende die afgelope seisoen in sewe lokaliteite getoets wat verteenwoordigend is van die plaaslike grondboonproduksiegebied. Die proewe is in beide besproeiings- (vyf lokaliteite) en droëlandtoestande (twee lokali­teite) uitgevoer in ’n volledig ewekansige blokontwerp met drie herha­lings per inskrywing. Standaardlandboupraktyke wat in die spesifieke gebied gebruik word, is toegepas sodat die evaluasies ook die gebied se bewerkingspraktyke kan weerspieël. Proewe is op 150 dae na plant geoes.

Resultate
Die resultate van die evaluasies in elke lokaliteit is in Tabel 1 en Tabel 2 vervat. Die inkomste per ton pitte is bepaal na aanleiding van die gradering van die bepaalde besen­dings en die inkomste per hektaar word in die laaste kolom aangedui. Elke tabel bevat die ses toppresteerders van die spesifieke lokaliteit en is volgens inkomste verdien gerangskik. Die inkomste is volgens opbrengs bereken en nie volgens wins nie.

Slotopmerkings
Variasie wat in die data voorgekom het, kan waarskynlik aan die variërende omgewingstoestande toegeskryf word. Die kultivarevaluasieverslae is beskikbaar by LNR-Graangewasse. Gedurende 2021/2022 sal daar 24 genotipes in die evaluasies ingesluit word. LNR-Graangewasse beoog ook om twee nuwe kultivars te registreer en op die mark vry te stel.