Insetaankope is beslis nie perdekoop nie

1304
Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA corne@grainsa.co.za

Met winsgewendheid in die graanbedryf onder druk, is dit baie maklik om oorhaastige besluite te neem of selfs na strooihalms te gryp wanneer dit by insetaankope kom. Maak verkieslik dubbeld seker dit is nie ’n kortsigtige besluit wanneer daar op insette gespaar word nie.

Wat prys betref
Doen hierdie jaar ekstra moeite om seker te maak kwaliteitinsette word teen die regte prys aangekoop. Kry soveel as moontlik kwotasies, vind uit wat die buurman betaal of koop meer insette saam as ’n groep om beter pryse te beding. Graan SA-lede kan ook met die kantoor kontak maak vir die jongste insetprystendense.

Wat kwaliteit betref
Produsente spandeer jaarliks miljoene rande aan produksie-insette. Hoekom dan kanse vat met die kwaliteit daarvan? Graan SA staan sy lede by om te help met die beslegting van insetdispute waar die kwaliteit van insette skade aan die lid se oes veroorsaak het. Die afgelope seisoen is daar weer eens heelparty insetprobleme by Graan SA aangemeld.

Die gebruik van ongetoetste insetmiddele en die aankoop daarvan by onbekende verspreiders stel produsente jaarliks aan groot risiko’s bloot. Let dus op die volgende wenke wanneer insetmiddele aangekoop en gebruik word om risiko’s te beperk:

  • Maak seker dat die insetverskaffer ’n erkende maatskappy met ’n bewese rekord is.
  • Sorg dat alle aanbevelings sover moontlik op skrif gestel en veilig bewaar word.
  • Hou rekord van alle aankope.
  • Gaan die kwaliteit van die insetmiddel na.
  • Wanneer saad behandel word, moet dit deur die saadmaatskappy self of met gesertifiseerde saadbehandelingstoerusting gedoen word.
  • Wanneer landbouchemikalieë aangekoop word, maak seker dat:
      • Die middel geregistreer is onder Wet Nr. 36 van 1947 vir die doel van gebruik;
      • die maatskappy wie se middel dit is, lid van CropLife is;
      • die verspreidingsmaatskappy lid van CropLife is; en
      • die agent gekwalifiseerd is.
  • Dit gee ekstra gemoedsrus as die maatskappy waarby aangekoop word, lid is van ’n sambreelorganisasie, byvoorbeeld SANSOR vir saad, Fertasa vir kunsmis, CropLife vir landbouchemikalieë en SAAMA vir landboumasjinerie.

Gebruik oor die algemeen klein kontrolepersele om nuwe insetmiddele te toets, alvorens dit op groot skaal gebruik word. Moet nie ’n nuwe middel op al die hektare gebruik nie.

Wat Rhizobium-bakterieë betref, is dit belangrik om slegs geregistreerde entstowwe (volgens Wet Nr. 36 van 1947) te gebruik. Die spesifieke produk moet verkieslik deur die betrokke saadmaatskappy wie se saad geplant word, aanbeveel word. Moenie nuwe produkte op groot skaal gebruik nie.

Produsente wat hul entstof wil laat toets om seker te maak dat dit lewensvatbaar is, kan die LNR-PPRI (Roodeplaat) kontak by 012 808 8138 of stuur ’n e-pos na:
Francina Bopape
phalanef@arc.agric.za
Poppie Mthimunye
mthimunyep@arc.agric.za
Dr Ahmed Hassen
hassena@arc.agric.za

Hoe gemaak as kwaliteitsprobleme wel ervaar word?
Wanneer probleme met die kwaliteit van ’n inset vermoed of ondervind word, moet die volgende stappe gevolg word:

  • Kontak so gou moontlik die verteenwoordiger by wie die insetmiddel aangekoop is en dring aan op ’n ondersoek ter plaatse. Hou ook rekord van datums en gesprekke.
  • Versamel en stel soveel moontlik inligting op skrif, neem foto’s of maak video-opnames om later heen terug te verwys.

Indien die probleem nie opgelos word nie, oorweeg die volgende stappe. Moet egter nie te lank hiermee wag nie, want hoe langer daar gesloer word, hoe moeiliker raak dit om te bewys dat dit kwaliteitsprobleme is wat die skade veroorsaak het.

  • Lede kan Graan SA in kennis stel indien die maatskappy nie die nodige aandag en oplossings vir die betrokke probleme verskaf nie.
  • Tree in verbinding met ’n onafhanklike wetenskaplike om ’n ondersoek ter plaatse te doen.

Saad
As ’n produsent steeds vermoed dat daar probleme is met die saad wat hy aangekoop het nadat die saak reeds met die verteenwoordiger en die maatskappy wat die saad verskaf het, opgeneem is, kan die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling gekontak word. Dié departement sal dan ’n handelskontrole-ondersoek ingevolge die Plantverbeteringswet doen.

Kontakpersone:

  • Oos-Kaapse streeksverteenwoordigers
    Gerald Jack, Port Elizabeth
    041 484 2725
    Felicity Daniels, Port Elizabeth
    041 484 2725
  • Vrystaatse streeksverteenwoordiger
    Zanele Buhlungu, Bloemfontein
    051 406 0967
  • Gautengse streeksverteenwoordiger
    Christo Botha, Pretoria
    012 319 6139
  • Wes-Kaapse streeksverteenwoordiger
    Christo Gouws, Stellenbosch
    021 809 1709

Produsente word aanbeveel om rekord te hou van lot- of kodenommers, aangesien indieningsmonsters van alle saadlotte by die betrokke geregistreerde saadlaboratoriums waar kwaliteitskontrole uitgevoer word, vir dispuutondersoeke beskikbaar is. Tydens die aankope van saad behoort ’n ontledingsertifikaat ten opsigte van die kwaliteit van die spesifieke saadlot aangevra te word, wat uitgereik is deur ’n geregistreerde saadlaboratorium. Produsente word ook aangeraai om die fisiese sak en etikette wat aan die sak aangebring is, te bewaar, sowel as die faktuur wat uitgereik is vir die aankope van die spesifieke lot. Om bloot ’n saadmonster te hou, sal in baie gevalle nie goed genoeg bewys wees nie, maar ’n geseëlde sak saad sal wel kan dien as ondersteuning.

Indien produsente saad van die vorige jaar oorgehou het en die kieming wil laat toets, kan ’n gesertifiseerde laboratorium hiervoor by die volgende QR-kode gevind word.

Kunsmis
Produsente moet daarop let dat daar ál hoe meer ongetoetste produkte in die mark beskikbaar raak. Moenie nuwe middels op groot skaal gebruik nie.

Daar word ook aanbeveel dat produsente kunsmis onafhanklik laat toets. Dit is uiters belangrik dat kunsmismonsters reg geneem moet word. Monsters om kunsmiskwaliteit te toets, moet in samewerking met die kunsmismaatskappy geneem word.

Produsente kan vir Graan SA, Fertasa of vir William Deale kontak vir die neem en ontleding van monsters om die kwaliteit daarvan te toets. William se kontakbesonderhede is: 083 947 2389 of wideale@gmail.com.

Indien ’n produsent vermoed dat daar probleme is met die kunsmis wat hy aangekoop het – nadat die saak met die kunsmismaatskappy opgeneem is – kan hy Graan SA skakel of ’n klagte direk by die Registrateur van Wet Nr. 36 van 1947 indien.

Landbouchemikalieë
Die kwaliteit van landbouchemikalieë (aktiewe bestanddele) kan by die Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) getoets word.

Kontakpersoon:

Diesel
Daar is deesdae baie nuwe brandstofverspreiders in die mark, gewoonlik met baie kompeterende pryse. Produsente moet seker maak dat die kwaliteit van hierdie diesel aan spesifikasies voldoen.

Verskeie bronne kan gebruik word om dieselkwaliteit te laat toets. Indien vermoed word dat daar probleme is met die kwaliteit, veral in gevalle van moontlike dieselkontaminasie, kan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) geskakel word vir die toets daarvan:

Kontakpersoon:

Produsente wat self hul diesel wil toets, kan www.dieseltesting.co.za besoek of 087 575 3568 skakel vir die aankoop van toetsinstrumente.

Nog ’n opsie is om diesel in ’n laboratorium te laat toets. Die volgende laboratoriums is al deur lede gebruik: