Kan voëlgriep graanmarkte affekteer?

Gepubliseer: 6 November 2023

708
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom,
Graan SA,
heleen@grainsa.co.za

13/10/2023

In die graan- en oliesaadmarkte is veevoer een van die grootste rolspelers binne die vraagspektrum. Dit is dus belangrik dat die graanmarkte voortdurend nou met die veevoermark saamwerk.

Sojaboonoliekoek en veral geel­mielies word grotendeels gebruik as veevoer – veral vir braaikui­kens en lêhenne. Die onlangse uitbre­king van die nuwe stam van voëlgriep (H7N6) het ’n ernstige impak gehad op Suid-Afrika se pluimveebedryf en sodoende ook op die graanmark. In dié artikel word die nagevolge van die voëlgriepuitbreking op die pluimveebedryf asook die graanmark bespreek.

Omstandighede in die pluimveebedryf
Die huidige krisis in die pluimveebedryf is veroorsaak deur twee spesifieke (hoogs patogeniese) stamme van voëlgriep, naamlik H5 en H7, met Suid-Afrika wat tans die enigste land ter wêreld is wat met die H7-stam stoei. Tabel 1 gee ’n opsomming van die aantal uitbrekings van elke stam voëlgriep per provinsie. Dit is duidelik dat die H7-stam meer verspreid is as die H5-stam.

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) het rapporteer dat daar reeds ongeveer 206 000 hoenders aan die virus dood is en dat 2 475 000 hoen­ders as gevolg van die virus uitgeskot is. Die getal infeksies verander daagliks en kon met die publikasie van hierdie artikel weer gestyg het.

Dit is belangrik om uit te lig dat wanneer ’n hoender positief vir voëlgriep toets, die hele trop uitgeskot moet word om die verspreiding te beperk. Elke staatsveearts bepaal die metodiek van behandeling as die virus opgemerk word, maar na ’n positiewe toets vir die virus word die hele hoenderhuis normaalweg uit­geskot en gedisinfekteer. Die kwarantyn­periode daarna kan tot drie maande duur, wat duisende hoenders buite produksie laat. Dit beteken ook dat daar vir hierdie periode duisende hoenders minder is om te voer.

Graanverbruik vir die veevoermark
Die veevoerbedryf het verskeie vertakkings wat suiwel, skape, beeste, varke, hoenders (lêhenne en braaikuikens), perde, honde, volstruise en wild insluit. Hiervan maak braaikuikens die grootste gedeelte (43%) van die totale veevoer­vraag op, met lêhenne (13%); melkbeeste (13%), skape en beeste (12%) wat ook bydra. Dit beklemtoon dus die belangrikheid van beide braaikuikens en lêhenne in die totale vraag na veevoer in Suid-Afrika. Die dieet van elke hoenderproduksie-eenheid verskil, maar vir beide braaikuikens en lêhenne maak geelmielies die grootste deel van die totale formulasie uit. Dit word uitgebeeld in Grafiek 1, wat die totale jaarlikse verbruik vir beide braaikuikens en lêhenne uitbeeld.

Grafiek 1: Uitbeelding van voerverbruik vir hoenders (totale jaarverbruik).
Bron: APR

Geelmielies word in surplus geproduseer in Suid-Afrika en as sodanig is dit be­langrik om plaaslike vraag te stimuleer om sodoende die afhanklikheid van uitvoere (wat plaaslike markte destabiliseer) te verminder. Veevoer maak ongeveer 88% uit van die totale vraag na geelmielies in Suid-Afrika, wat deur verskeie bedrywe binne die veebedryf opgemaak word. Dit is wel ook duidelik uit Grafiek 1 dat mielies ’n groot gedeelte van braaikuiken- en lêhendiëte uitmaak.

Die komponent wat die grootste vraag na sojabone uitmaak, is die sojabone wat gepers word vir olie en oliekoek. Die veebedryf gebruik ’n groot gedeelte van die plaaslik gepersde sojaboonolie­koek, maar daar word ook sojaboon­oliekoek ingevoer om die totale vraag te bevredig. As deel van die Pluimveemeesterplan (PMP) is daar beoog om die afhanklikheid van sojaboonoliekoekinvoere te verminder en sedert die instelling van die PMP het invoere reeds met 54% gedaal. Dit is ook gedeeltelik meegebring deur die aansienlike toename in sojaboonproduksie oor die afgelope paar seisoene.

Effek van voëlgriep op vraag na graan
Bedryfskenners reken dat die onlangse voëlgriepuitbreking daartoe kan lei dat die vraag na voer vanaf die hoenderbedryf met tussen 15% en 30% kan daal oor die volgende drie maande. Hoenders maak ongeveer 60% van die totale vee­voervraag uit. Tabel 2 skets twee moontlike scenario’s van hoe veevoervraag vanaf hoenders kan verander as gevolg van die voëlgriepuitbreking.

Oor die maande van September tot Desember gebruik die hoenderbedryf (op ’n vierjaargemiddeld) ongeveer 780 000 ton se voer. Dit sluit in geel- en witmielies asook afgeleide sojaboonprodukte. Indien scenario 1 realiseer en 15% van Suid-Afrika se hoenders word uitgeskot, kan die voerverbruik moontlik met 116 945 ton daal na ’n verbruik van 662 689 ton tussen September en Desember. Dieselfde beginsel geld vir ’n meer nadelige scenario 2, waar voerverbruik vanaf die hoenderbedryf met 233 890 ton kan daal.

Samevatting
Die ernstige uitbreking van die nuwe voëlgriepstam H7 tesame met H5 kan ’n beduidend negatiewe effek hê – nie net op die hoenderbedryf nie, maar ook op die graanmarkte en natuurlik die eindverbruiker. In die geval dat 30% van Suid-Afrika se hoenders uitgeskot word en die veevoervraag na graan daal, kan die graanmark moontlik 234 000 ton se eindvoorraad bykry. Daar word beraam dat Suid-Afrika vir die 2023/2024-bemar­kingsjaar ’n totaal van 5 850 000 ton se mielies gaan gebruik vir veevoer en 195 000 ton se sojabone.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.