October 2018

KARINA MULLER, SA Graan/Grain medewerker

Dikwels word gevra wat die regte van wettige vuurwapeneienaars is. Dit is ’n uiters geldige vraag, aangesien daar van vuurwapenhanteerders verwag word om koelkop in alle situasies te bly – selfs waar hul geliefdes se lewens in gevaar is.

’n Vuurwapeneienaar het die reg om ’n persoon te skiet wat ’n onmiddellike bedreiging vir sy lewe of dié van iemand anders inhou – of lewensgevaar vir ander inhou sou die persoon nie gekeer word nie. Vuurwapeneienaars kan volgens Artikel 49 van die Strafproseswet slegs tot hierdie stap oorgaan as daar geen ander redelike wyse is waarop hy homself of ander kan beskerm nie.

Mnr Nico Economakis, wapenhandelaar en sekretaris van die Noordwes Praktiese Skietvereniging, waarsku dat wapeneienaars nie die sneller moet trek bloot om iemand af te skrik nie. “Wanneer jy wel skiet, hou aan skiet tot die lewensbedreigende gevaar ophou.”

Wat dan?
As ’n indringer geskiet is, wat staan die wapeneienaar te doen? Economakis beveel aan dat die toneel onveranderd gelaat word. “Die beste is om die wapen presies daar waar jy was toe jy geskiet het, neer te sit en dan die polisie te ontbied. Moenie aan die toneel peuter nie. Dit is raadsaam om ’n regsverteenwoordiger te skakel en geen verklaring sonder regsadvies af te lê nie. Moet jou ook nie teësit as die polisie jou arresteer nie.”

Volgens Economakis maak die wet nie melding van watter tipe wapen in dié geval gebruik moet word nie.

  • ’n Vrou mag byvoorbeeld haar eggenoot se wapen in ’n lewensbedreigende situasie gebruik.
  • ’n Vuurwapen mag snags, buite die wapenkluis, in ’n slaapkamer gehou word. Dit mag in ’n voertuig wees – mits die wapeneienaar ook in die motor is – maar mag onder geen omstandighede in die motor gelaat word nie; selfs nie in ’n kluis in die motor nie.
  • Die Wapenwet bepaal dat ’n wapen buite sig (versteek onder klere) in ’n holster gedra moet word. Daar is verskeie tipes holsters in die handel beskikbaar – hetsy vir die gordel, kuit, skouer of bors.

Oefen gereeld
Economakis raai vuurwapeneienaars aan om by ’n skietklub aan te sluit en wel vir die volgende redes:

  • Wapeneienaars kry só die geleentheid om met hul wapens te oefen en vertroud daarmee te raak.
  • Wapeneienaars het via die klub toegang tot die nuutste inligting oor wapenwette en dies meer.
  • Die klub of geaffilieerde vereniging kan met wapenlisensie-aansoeke help.

“Die grootste fout wat ’n wapeneienaar kan maak, is om ’n wapen te besit waarmee hy nie vertroud is nie.” Hy meen as iemand ’n wapen besit, maar nooit daarmee oefen nie, dit beter is om ’n krieketkolf te gebruik.

Dit is verder belangrik dat wapeneienaars die beste ammunisie koop wat hulle kan bekostig en gereeld skiet, sodat ammunisie nie oud raak nie (dit moenie ouer as ses maande wees nie). Wapeneienaars moet verseker dat die ammunisie wel doeltreffend in hul wapen werk; daarom is gereelde oefening noodsaaklik.

Publication: October 2018

Section: Spotlight on farm Security