Die belangrikheid van markinligting: Wat leer ons daaruit? – Deel 4: Koring

1943
Luan van der Walt,
landbou-ekonoom, Graan SA

Dié reeks handel oor die algemene belangrikheid en die gebruik van inligting in die Suid-Afrikaanse graan- en olie­sademarkte. Deel 3 van die reeks het na die geelmielie-inligting verwys, terwyl hierdie artikel op die koringinligting gaan fokus.

Aangesien die reeks grootliks fokus op die belangrikheid van inligting in die graanmarkte, word daar veral gekyk na die inligting en wat daaruit geleer kan word. Ten einde hierdie doel te bereik, is dit belangrik om die tendense tussen die fundamentele markinligting en die pryse oor tyd met mekaar te vergelyk. Die vergelykings van die tendense word gedoen deur middel van seisoenale indeksberekeninge.

Seisoenale indekse
Die seisoenale indeksberekeninge word gebruik om die tendense van die verskillende aspekte, wat die prys- en voorraadvlakke insluit, ten toon te stel en vergelykings te doen. Die seisoenale indekse druk die maandelikse pryse en beskikbare voorraad uit as ’n persentasie van die twaalfmaande- bewegende gemiddeld.

Hierdie is ’n goeie manier om vergelykings van die verskillende aspekte met mekaar te doen, aangesien dit op dieselfde basis uitgedruk word. Die indeksberekening van die data gee die leser ’n goeie oorsig oor wat wanneer in die mark verwag kan word. Dit kan gebruik word wanneer bemarkingsbesluite geneem word.

Agtergrond van die koringmark
In terme van die plaaslike koringmark is dit duidelik dat Suid-Afrika sedert die ontstaan van die vrye mark baie meer afhanklik van invoere geraak het om aan die totale plaaslike aanvraag te voldoen. Die plaaslike koringproduksie het begin afneem en invoere het begin toeneem.

Grafiek 1 wys Suid-Afrika het in die laat 1990’s ongeveer 20% tot 25% van die totale plaaslike verbruik ingevoer. Tans word ongeveer 50% van die plaaslike verbruik ingevoer. Die groter afhanklikheid van invoere het veroorsaak dat die plaaslike produksie nie die grootste drywer van die plaaslike pryse is nie, maar eerder die internasionale pryse en die wisselkoers.

Dit beteken die verandering in die internasionale koringpryse en die wisselkoers het ’n baie groter impak op die plaaslike koringpryse as die plaaslike produksie.

Die seisoenale tendense
Grafiek 2 dui die seisoenale indekse van die daaglikse koringprys aan, die Desember-termynkontrakprys, die beskikbare voorraad en die invoere. Dit is duidelik uit Grafiek 2 dat die daaglikse koringprys oor die algemeen tussen Mei en Oktober hoër as die jaarlikse gemiddeld verhandel met die hoogtepunt gedurende Augustus, wanneer dit ongeveer 3% meer as die jaarlikse gemiddelde prys verhandel.

Die Desember-termynpryse verhandel oor die algemeen tussen Junie en Oktober hoër as die jaarlikse gemiddelde Desember-termynprys met ’n hoogtepunt van 1% bo die jaarlikse gemiddeld gedurende Augustus.

Oor die algemeen toon die plaaslike koringpryse deur die seisoen nie sulke groot prysbewegings soos die ander kommoditeite (soos byvoorbeeld mielies) nie. Die beskikbare koringvoorraad is gewoonlik die laagste gedurende September, wanneer dit ongeveer 50% laer is as die jaarlikse gemiddelde beskikbare voorraad. Dit is die tydperk voor die aanvang van die nuwe seisoen se stroopproses.

In die reël word die meeste koring gedurende Oktober ingevoer en die invoere wat in dié maand plaasvind is ongeveer 48% meer as die seisoen se gemiddeld. Die invoere begin vanaf Junie verhoog soos die plaaslike voorraad begin minder raak.

Daar is ook ’n redelik duidelike korrelasie tussen die beskikbare voorraad en plaaslike pryse. Namate die beskikbare voorraad afneem, begin die pryse in ’n opwaartse tendens verhandel onder normale omstandighede.

Die internasionale pryse speel ’n groter rol in die plaaslike koringmark as die plaaslike produksie. Alhoewel die plaaslike produksie steeds ’n impak maak op die beskikbare voorraadvlakke en die hoeveelheid koring wat ingevoer moet word, veroorsaak dit nie drastiese veranderinge in die plaaslike pryse nie. Dit is belangrik om die tendense van die plaaslike pryse met die internasionale tendense te vergelyk.

Grafiek 3 dui die daaglikse koringprys, die Desember-termynkontrakprys, die Amerikaanse koringprys en die Amerikaanse invoerpariteitsprys aan. Dit is duidelik uit Grafiek 3 dat die Amerikaanse koringprys en die invoerpariteitsprys tussen April en Augustus laer as die seisoen se gemiddelde pryse verhandel, met die laagste gedurende April wat ongeveer 2% laer as die jaar se gemiddelde prys is.

Die Amerikaanse pryse is sedert Oktober gemiddeld ongeveer 2% hoër as die jaarlikse gemiddelde prys. Die Suid-Afrikaanse koringpryse is oor die algemeen vanaf Mei/Junie tot September bogemiddeld, vanwaar dit weer redelik onder die seisoen se gemiddelde pryse inbeweeg.

Ten slotte
Alhoewel hierdie artikel slegs enkele aspekte van dit waarvoor die inligting gebruik kan word, bespreek, is dit belangrik om die waarde van langtermyninligting te verstaan. Daar is verskeie soorte inligting wat deur verskillende instansies bymekaar gemaak word. Dit sluit daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse inligting in.

Die instandhouding van hierdie databasisse is noodsaaklik om die inligting aan die mark bekend te maak. Dit dra ook by tot die monitering van die werking van die mark, aangesien die verskillende fundamentele aspekte van die mark in ooreenstemming met die prysbewegings in die markte geanaliseer kan word.

In die volgende gedeelte sal na sojabooninligting gekyk word.